Die sewe bemanningslede aan boord gaan 'n nuwe kamera en ook 'n nuwe spektrograaf installeer. Hulle gaan ook instrumente herstel en die batterye vervang. Dit lyk in alle waarskynlikheid na die laaste missie om Hubble in stand te hou aangesien die ruimtetuig op die punt van aftrede is.
Ná die tragiese ongeluk in 2003 met die ruimtetuig Columbia wat met haar binnekoms in die atmosfeer aan die brand geslaan het nadat isolerende teëls tydens die reis afgeval het, wil beplanners nie weer 'n soortgelyke ongeluk sien gebeur nie.
Om te verhoed dat so iets weer gebeur is die ander ruimtetuig, Endeavour, gereed om Atlantis te hulp te snel sou dit vereis word. Die bemanning van Atlantis sou nie na die Internasionale Ruimtestasie kon gaan vir hulp nie aangesien Hubble in 'n ander wentelbaan is.
Met die tragedie het NASA se ruimteprogram byna tot stilstand gekom. Met hierdie jongste missie, SM4, gaan Hubble nie net herstel word nie maar ook opgegradeer word.
Geskiedenis
Hubble dra die naam van die Amerikaanse wetenskaplike, Edwin Hubble, die man wat besef het dat daar ander sonnestelsels buite ons Melkweg is. Die HRT se pad was nie besaai met rose nie en die projek het byna nie van die grond gekom nie. Nadat die projek in 1977 goedgekeur is en dit aanvanklik geloods sou word in 1983, het tegniese probleme dit met 3 jaar vertraag en die begroting was met $1.5 miljard van koers af. Met die Challenger-tragedie, in 1986, het dit die projek verder vertraag en is die loodsdatum verskuif na April 1990. Maar al hierdie foute en struikelblokke is uiteindelik verdwerg deur die ontdekking dat van die optiese lense verskuif het nadat die teleskoop reeds in sy wentelbaan geplaas is. 'n Primêre lens het geskuif en geen van die foto's wat Hubble geneem het kon gebruik word nie. Dit het wetenskaplikes, tegnici en ingenieurs 3 jaar geneem om met 'n oplossing vorendag te kom en 'n missie is geloods om die fout te herstel.
Bydraes
Nadat die fout met die lens herstel is, het die teleskoop van die beste beelde in die hemelruim teruggestuur. Dit het verder ook die presiese ouderdom van die kosmos bepaal, naamlik 13.7 miljard jaar. Verder het dit ook superswartgate se bestaan bevestig asook dat daar wel swartenergie bestaan. Menige wetenskaplikes reken laasgenoemde is verantwoordelik vir die vergroting van die kosmos.
Die missie
Die missie gaan poog om Hubble nie net te herstel nie maar ook om nuwe instrumente aan te bring. Die herstelwerk en waarnemings gaan deur spanne van twee gedoen word.. Hulle gaan onder andere nuwe batterye, nuwe optiese instrumente en herstelwerk aan twee ander optiese instrumente aanbring.
'n Wyeveldkamera 3 ten waarde van $126 miljoen gaan aangebring word en 'n $81 miljoen kosmieseoorsprongspektrograaf is van die instrurmente wat aangebring gaan word.
Die spanne gaan ook poog om die ruimteteleskoopbeeldspektrograaf te herstel nadat dit in 2004 ophou werk het as gevolg van 'n kragonderbreking.