Valke-sage duur voort

Deel op

Berning Ntlemeza, waarnemende hoof van die Valke, is oneerlik en het ‘n gebrek aan integriteit en eer, het ‘n regter van die hooggeregshof Maandag gesê.

“Die derde respondent [Ntlemeza] het besluit om die Opod-verslag en dossier wat in sy besit is van die hof te weerhou,” het regter Elias Matojane in die hooggeregshof in Pretoria gesê.

Volgens Matojane sou die verslag die hof in staat gestel het om ‘n behoorlike beoordeling van die saak teen die applikant te maak. Die applikant is Shadrack Sibiya, geskorste hoof van die Valke in Gauteng.

Ntlemeza het aansoek gedoen om te appelleer teen die hof se vorige beslissing dat Sibiya se skorsing ongrondwetlik was en teruggetrek moet word. Ntlemeza se aansoek is van die hand gewys.

“Ek is van mening dat die optrede van die derde respondent [Ntlemeza] wys dat hy eensydig en oneerlik is. Die derde respondent het onder eed valse verklarings afgelê en dit wys hy is eensydig en het ‘n gebrek aan integriteit en eer,” het Matojane in sy uitspraak gesê. Matojane het in Februarie gelas dat Sibiya se skorsing ongeldig was en Ntlemeza het drie dae hierna appèl aangeteken.

Ntlemeza het Sibiya geskors hangende ‘n ondersoek na sy beweerde betrokkenheid by die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in 2010. Sibiya het aangevoer dat die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) bevind het dat hy nie betrokke was by die uitlewerings nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.