Nog ‘n renoster val in Etosja

Deel op

Die eerste renosterkarkas wat vanjaar in die Etosja Nasionale Park gestroop is, is Vrydag gevind. Dit is die vierde karkas wat in vyf maande in dié spogpark gevind is, het die Republikein berig.

’n Karkas van ’n jong renoster met drie koeëlwonde is Vrydag deur toeriste by ’n watergat by Dolomite Camp aan die westekant van die park gevind.

Die hoof van die polisie se eenheid vir beskermde spesies (PRU), hoof­inspekteur Barry de Klerk, het gister die voorval aan Republikein bevestig.

“Dit is bevestig dat ’n renosterbul geskiet is. Hy het sowat ses kilometer ver gehardloop nadat hy gekwes is en by die watergat geval en gevrek,” het De Klerk gesê. “Die horings is nie verwyder nie. Volgens parkbeamptes is die bul sowat vyf jaar oud.”

’n Windhoekse egpaar wat die naweek by Dolomite Camp was, sê hulle is belet om by die watergat in te gaan, want parkbeamptes was glo besig met ’n operasie.

“Later het hulle weer verby ons gery en dit het gelyk of daar iets agterop die lorrie gelê het. Daar was ’n klomp regeringsvoertuie,” het die man gesê.

Die eerste renosterkarkas wat in Etosja gevind is, was einde Oktober verlede jaar in die suidwestelike gedeelte van die park gekry. Die horings van die swartrenosterbul­ was verwyder.

Die renoster was met ’n naspoortoeste­l toegerus en toe die sein skielik verdwyn, het natuurbewaarders­ na die renoster­ gaan soek en die karkas in die omgewing­ van Otjovasandu gekry. Dit word vermoed dat die renoster­ twee of drie dae voor die karkas gevind is, gestroop is.

In November is nóg twee renosterkarkasse met hul horings verwyder in Etosja gevind.

Die twee karkasse is sowat drie tot vier kilometer van mekaar in die omgewing van Ombika gevind.

Volgens die ministerie van die omgewing en toerisme is die een moontlik in Februarie 2014 gestroop en die ander karkas was sowat twee tot drie maande oud.

Een van die verdagtes van renosterstropery in Etosha, dr. Gerson Kandjii, die voormalige spandokter van die Brave Warriors, is tans in aanhouding saam met vier ander be­skuldigdes, nadat hy van die onlangse moord op mnr. Reinhard Schmidt, die Duitse eienaar van die Namibië Hoodia Jagplaas naby Kalkrand, aangekla is.

Minstens 34 renosterkarkasse is verlede jaar in Namibië gevind.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.