Slagting in hospitale

Deel op

Mense wat sterf nadat verkeerde medikasie gegee is, pasiënte wat in linnekamers “vergeet word” en verkeerde diagnoses is maar net ‘n paar van die bewerings wat familielede die afgelope tyd gemaak het. Vra hulle vrae, “word dit onder die mat ingevee en daarvan vergeet!”

Deur die jare is vele klagtes aan hospitale en die departement gerig met beloftes dat “dit ondersoek sal word.” Daar is egter in die meeste gevalle nie antwoorde aan die families verskaf nie en is dit vir hulle tot vandag toe nog moeilik om berusting te kry.

Net in die laaste paar weke en dae is skokkende verhale vertel.

• Mnr. Coenraad Janse van Rensburg is op 1 Februarie dood na gereelde opnames in die Middelburg Hospitaal vir ‘n kroniese longkwaal.

Die familie glo die hospitaal was nalatig om hom met penisillien, ‘n medikasie waarvoor hy allergies was, te behandel.

• In die week van 27 Februarie berig die Observer van leraarsvrou, me. Antionette Swanepoel (29), wat etlike maande vantevore by die dood omgedraai het omdat sy vir sowat ‘n week in die Middelburg Hospitaal behandel is vir ‘n sist op haar eierstok, maar haar blindederm eintlik gebars het. Vele operasies en duisende rande se hospitaalrekeninge later, omdat hulle na die Life Midmed Hospitaal moes gaan vir behandeling, het nie net fisiese nie, maar ook emosionele merke op die gesin gelaat.

• Verlede week is ‘n sewejarige seuntjie van Dullstroom dood, nadat hy vir ‘n skopplek op sy been behandel moes word. Sy familie wil nie sy naam in die koerant genoem hê nie en was te emosioneel om sake verder te voer oor gebeure in die Belfast en Middelburg Hospitale. Die kind is Saterdag begrawe en hulle het daarteen besluit om die kind te laat opgrawe vir ‘n geregtelike doodsondersoek.

Daar is betroubaar verneem dat die kind na die Middelburg Hospitaal gestuur is vir X-strale, maar dat hulle hom teruggestuur het met die woorde “dat daar niks verkeerd is met hom nie.”

Vrae word gevra oor wat uiteindelik tot sy dood gelei het en die feit dat dokters van Belfast nie ‘n lykskouing of geregtelike doodsondersoek aangevra het nie.

Hierdie week het twee families die koerant gebel en gevra wat hulle moet doen, want hulle het honderde vrae na die dood van hul geliefdes.

• Me. Annah Mokoena se emosionele familie was uiters geskok oor die gebeure by die Middelburg Hospitaal tot en met haar afsterwe Vrydag. Daar is onder andere beweer dat hulle haar in haar uiters siek toestand in die linnekamer van die hospitaal gekry het.

• In die jongste voorval is mnr. Johan Duminey (64) Saterdag in die vroeë oggendure dood. Sy seun, Tommie, het emosioneel geraak as hy gepraat het oor die behandeling in die Middelburg- en Witbank Hospitale.

Daar word onder meer beweer dat hulle vir hom gesê het dat hulle sy pa vir een siekte behandel het, maar op sy pa se doktersbrief iets anders gesê het.

Hy sê by die Witbank Hospitaal het personeel gesê dat hulle hul eie toetse gaan doen nadat ‘n Middelburgse dokter ‘n Afrikaanse verslag, wat aangedui het dat mnr. Duminey dadelik geopereer moet word, geskryf het en hulle dit nie kon verstaan nie. Hy beweer verder dat ‘n Afrikaanse suster ook geweier het om dit te vertaal. Die operasie is eers om 23:00 gedoen en het sy pa in die vroeë oggendure gesterf.

“Ek is buite myself. Ek wil nie moeilikheid maak nie, maar my pa, wat ‘n gesonde man was wat nog gewerk het, het gesterf!”

• In die verlede was die voormalige Hoof Uitvoerende Beampte van die Hospitaal, mnr. Philemon Letlalo, altyd bereid om met die koerant te praat en hul kant van die saak te stel.

Die nuwe hoof uitvoerende beampte, mnr. Patrick Masubuko, wou nie eers hoor waaroor die klagtes gaan nie. Hy het joernaliste aggressief kortgeknip en gesê hulle moet met die provinsiale hoof van kommunikasie, Dumisani Malamule, bel en praat oor die klagtes.

Die Departement van Gesondheid se kantore is gebel, aangesien mnr. Malamule nie dadelik in die hande gekry kon word nie.

Die ontvangsdame was nie seker met wie die joernalis moet praat nie en het in haar kantoor rondgevra.

Hierna is die koerant van bakboord na stuurboord gestuur. Nie een van die persone wie se name gegee is, was beskikbaar nie.

Toe ons uiteindelik mnr. Malamule in die hande kry, kon hy nie dadelik help nie en net gevra dat die joernalis ‘n e-pos met die klagtes stuur aangesien hy “in ‘n vergadering is.”

•Teen druktyd is daar nog nie gereageer op die klagtes nie.

Bron: Middelburg Observer

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.