Byna 200 huise beskadig in Welkom-ontploffing

Deel op

Tussen 150 en 200 huise is na raming beskadig in ‘n ontploffing in Welkom wat waarskynlik te wyte was aan metaangas.

Die maatskappy Harmony Gold se Marian van der Walt sê die ontploffing het Saterdag plaasgevind by die Brand Een-ventilasieskag.

“Ek is nie ‘n kenner op hierdie gebied nie, maar na my wete is daar metaangas ondergronds en dit word vrygestel wanneer daar mynbou is,” het Van der Walt gesê.

Die stad se nooddienste se Francois Klaassen sê die ontploffing, omstreeks 17:30, is veroorsaak deur die opbou van metaangas wat deur ‘n vonk ontsteek is.

Klaassen sê die meeste van die skade was in Jan Cillierspark, Doorn en Sandania. Ruite het gebars, plafonne het uitgeval, mure het gekraak en toilette het gebreek. Klaassen sê werkers was besig om die skag te rehabiliteer.

Klaassen sê ‘n opskamer is op die toneel ingerig en inwoners en sakeondernemings wat geraak is kan hul skade hier kom aanmeld.

Intussen is die toestand van die ses mense, wat na die voorval in Mediclinic Welkom opgeneem is, vanoggend stabiel. Woordvoerder Marissa Pawson sê hulle word vir geringe beserings en rookinaseming behandel.

Harmony Gold het ‘n ondersoek van stapel gestuur na die ontploffing Welkom geruk het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.