Dwarsneukende, rammetjie-uitnek Max du Preez

Deel op

Vir inkomste maak Max du Preez op sy skryfwerk staat. Hy skryf boeke en artikels. Hy is sowel skrywer as joernalis. Om suksesvol te wees, moet Du Preez publisiteit kry; vir sy skryfwerk en homself – nie noodwendig in daardie volgorde nie. Hy wil aandag trek met bv die andersheid en radikaliteit van sy menings. Die pad wat hy gekies het, is om nie ‘n tradisionele, konserwatiewe, behoudende Afrikaner te wees nie. Hy hou van ‘n liberaal-humanistiese benadering wat terselfdertyd met die modestrominge van ons tyd (bv swartmag, verguising van blankes, dus politieke korrektheid en handevat) versoenbaar is. Hy skryf om den brode vir hier en nou. Wat hy skryf hoef nie vorentoe sinvol te wees nie. Solank hy nou dinge kan opkikker, genoeg aandag trek en genoeg ontvang, is hy tevrede, oftewel suksesvol.

Hoe vernietigend Du Preez met sy ongenaakbare kritiek (dikwels gemik teen blankes en veral Afrikaners) kan wees, blyk uit die feit dat hy aanleiding daartoe gegee het dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) nie meer ‘n omvattende woordeboek probeer wees nie omdat woorde en uitdrukkings wat aanstoot kan gee, nou gesensor word (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 469).

Een van Du Preez se groot probleme is om onderwerpe vir al sy skryfwerk te vind. Die poel waaruit hy sy gedagtes put, is nie danig groot of diep nie. Daar is dus heelwat herhaling in wat hy kwytraak. Die gevolg is dat dit nie die moeite werd is om alles te lees wat hy produseer nie. Hoe dikwels moes ons nie al lees of aanhoor hoe wonderlik sy koerant, Vrye Weekblad (1988-1994), was nie? Eintlik is dit ‘n geval van jakkels wat sy eie stert prys. Hy sal hier en daar ‘n nuwe kinkel uitdink sodat sy teks nie te sterk die indruk van hersirkulasie wek nie. Die soort onvoorspelbaarheid waartoe hy in staat is, word egter spoedig voorspelbaar. Deel van dié voorspelbaarheid is dat Du Preez, ten spyte van al die getuienis van die teendeel, optimisties oor hierdie droewe land se toekoms bly. Optimisme se monetêre waarde is by skryfwerk en praatjiesmaak baie groter as dié van pessimisme. Sonder ‘n goeie skeut optimisme sal Du Preez nie sy inkomste kan handhaaf nie.

In hierdie skrywe beperk ek my aandag tot drie van Du Preez se onlangse skrywes. Hulle handel oor elementêre, alledaagse onderwerpe waaroor seker enigeen ‘n mening het. Deur sy mening hieroor te gee, openbaar Du Preez heelwat van homself.

Die eerste skrywe is, “Let’s end ‘black’ and ‘white’ neighbourhoods” (Moneyweb, 10 deser). Du Preez wil hê dat ons ‘n “normalised, integrated society” moet wees. Daarvolgens is rasse-integrasie per definisie normaal. Diegene wat teen rasse-integrasie is, is by implikasie abnormaal. Die vraag is of die waarheid nie presies andersom is nie. Soos die ANC beklemtoon Du Preez die gelykheid en selfs wesenlike eendersheid van mense. Daarom wil hy hê dat vermenging sonder beswaar plaasvind. Die onderskeid tussen “ons” en “hulle” word as uit die bose voorgestel. Ons kan ons medeburgers glo net leer ken as ons woongebiede deel. Dit is nie genoeg as skole, universiteite, werkplekke, sport, ens, geïntegreerd is nie. Volgens Du Preez moet wittes nie-wittes as bure hê. Wittes mag hulle nie kultureel verskans nie. Hulle moenie dink dat hulle in enige beduidende opsig anders is nie; om van beter nie te praat nie.

Dit is vir Du Preez maklik om die sondebok vir aparte woongebiede te vind: “Of course it is a hangover from our apartheid past.” Maar seker oral in die multikulturele wêreld is daar by mense die neiging om verkieslik tussen hulle eie mense, hulle kultuurgenote, te woon, bv dié wat min of meer dieselfde waardes (bv religie) en moeder- of huistaal het. In hierdie sin is daar suiwer menslik by ons almal ‘n natuurlike aanvoeling vir ‘n ons/hulle-onderskeid. Dit kom voor in alle ander multikulturele lande, dus lande wat nooit apartheid gehad het nie. Die oorgrote meerderheid lande het ook nooit ‘n beleid van rasse-segregasie geken nie. Sodanige segregasie het natuurlik gedy.

As die tendens van “birds of a feather” (soos Du Preez daarna verwys) natuurlik is, beteken dit dat algemene of algehele woongebied-integrasie gedwonge sal moet wees. Maar oral ter wêreld woon die rykes, middelklas en gepeupel in groot mate elk in hulle eie gebiede ooreenkomstig hulle mate van welvaart. Op grond waarvan sou orakel Du Preez dit plaaslik anders wou hê? Sy ideaal is “a good mix of upper income, middle income and lower income housing.” Dit is nie net ‘n finansiële of ekonomiese allegaartjie wat hy in die vooruitsig stel nie, want sy eintlike doel is dat mense soos ‘n etniese bredie moet integreer. Hy noem spesifiek swartes, bruines en wittes as die bestanddele.

Een van Du Preez se argumente is dat dit nie-wittes is wat ver van hulle werk woon. “This is unfair and bad for productivity.” Maar eintlik is dit ‘n kenmerk van die nuwe Suid-Afrika dat toestande in die stede al hoe meer onleefbaar vir wittes word. Dit is blankes wat ver uitwyk vir beter woonruimte. Dit is hulle wat dan ver tussen werk en woonplek moet reis; dus juis daardie mense wat by uitstek produktief is. Du Preez sal dít nie onreg noem nie, want dit word teen wittes gepleeg. Hy sal seker eerder redeneer dat wittes dit oor hulleself bring. In werklikheid is dit egter nie wittes wat vir die stedelike agteruitgang, selfs verroting, verantwoordelik is nie. In mense heugenis het ons pragtige, skoon stede gehad waarin by uitstek Europese beskawing gedy het. Dink aan hoe bv Hillbrow en Seepunt was en hoe hulle nou daar uitsien. Dit is om van te ween.

‘n Ander waarheid wat Du Preez verkies om te ignoreer, is dat naas blankes, bv Afrikaners en Jode, daar nie-wittes, veral swartes en Asiërs, is wat nie wil integreer nie. Die situasie waarmee ons in die nuwe Suid-Afrika gekonfronteer word, is dat swartes vryelik kan kies of hulle monokultureel of multikultureel wil leef. Hulle kan kies of hulle ‘n swart, tradisioneel bruin of tradisioneel wit skool of universiteit wil bywoon. Dieselfde geld woongebiede. Daardie vryheid van keuse word nie aan blankes gegun nie. In geen opsig mag wittes hulle isoleer nie. As Du Preez sy sin kry, sal wittes se blootstelling aan nie-wit kultuur veel meer word. Hy koester die illusie van ‘n Suid-Afrikaanse nasie, terwyl daar in werklikheid bloot ‘n Suid-Afrikaanse bevolking is wat oorheersend en toenemend swart is. Anders as Du Preez is daar baie blankes, veral Afrikaners, wat geen heil in verswelging sien nie.

Du Preez preek net of by uitstek vir blankes. Daar is egter ander etniese groepe wat hy ook oor hulle “rassisme” behoort aan te spreek. Een van sy leser het bv geskryf: “Coloureds don’t like Blacks moving into their areas and make it known as much as Blacks don’t like Somalis and other ‘foreigners’ moving into their areas.” Maar gestel ons is almal so gelyk en eenders soos wat die ANC en Du Preez veronderstel. Dan sou ‘n mens verwag dat Du Preez ‘n navolgenswaardige voorbeeld stel; dat hy uitleef wat hy predik. Dan sou Du Preez al meer as een keer oor die kleurgrens heen getrou het en nie sy blyplek, waarvan daar al baie was, telkens uitgesoek het sodat hy knus tussen kultuurgenote woon nie. Daar is opportunistiese skynheiligheid in wat Du Preez om den brode skryf. Tans woon hy in Riebeeck-Kasteel – “the heartland of White Afrikanerdom,” soos een van sy lesers dit gestel het. In werklikheid is sy leuse (soos ‘n ander lesers geskryf het): “Not in my back yard.”

Die tweede skrywe van Du Preez waarop ek die aandag vestig, is “Wat is in ‘n naam?” (Die Burger, 14 deser, p 13). Die onderskrif lui: “Dit is hoog tyd dat ons die land se oorspronklike mense meer in plekname gereflekteer sien.” Hy sê nie hoekom nie. Oorspronklikheid/eerste-hier-gewees is blykbaar vanselfsprekend ‘n bate. Hy verwys sekerlik na die Khoi-San; die Khoi wat veeboere was en die San wat gejag het. Die Khoi het die plante uitgeroei vir weiding en vuurmaakhout en die San het wilde diere uitgeroei om te eet en die velle te gebruik. Albei groepe het kwalik ‘n duit tot die ontwikkeling van die land bygedra. Vir Du Preez gaan dit nie soseer om ‘n lansie vir die oorspronklike inwoners te breek nie. Myns insiens is sy doel eerder om die blankes se bydrae te verkleineer.

Du Preez het dit bv teen Cecil John Rhodes (1853-1902) vir wie se standbeeld hy sê: “Jou moer, man.” “Ek stem dus heelhartig saam met die protesterende studente van die Universiteit van Kaapstad dat Rhodes ‘n simbool van kolonialisme is en dat sy standbeeld verskuif moet word – herdoop ook sommer Jameson Hall.” Volgens Du Preez se insig was kolonialisme blykbaar net (of oorwegend) sleg, terwyl dit in werklikheid, of ons daarvan hou of nie, ‘n groot bydrae tot die ontwikkeling van hierdie land gelewer het. Mense soos Rhodes en Leander Starr Jameson (1853-1917) het heel moontlik, hetsy goed of sleg, meer as die Khoi en die San tot ons geskiedenis bygedra. Hulle behoort as historiese figure geduld te word. Dit is gewoon dwaas as Du Preez hom skaar by die selektiewe herskrywing van die geskiedenis soos wat deur die ANC voorgestaan word. Apartheid was ‘n voortsetting van die tradisionele beleid van rasse-segregasie wat deur die koloniale Britte hier geplant is. Rasse-segregasie en apartheid het die blankes in staat gestel om die land tot die voorspoedigste in Afrika te ontwikkel. Daarom was dit nie net sleg nie en bevoordeel dit steeds al die huidige inwoners.

Die viserektor van die Universiteit Kaapstad, Max Price, het hom ten gunste van die verskuiwing van die Rhodes-standbeeld uitgespreek. Tony Weaver steun hom: “Rhodes, ou pel, jý het verloor” (Die Burger, 20 deser, p 14). Price gee toe aan die druk van ‘n groepie hoofsaaklik swart studente, wat na elke suksesvolle agitasie maar net nog iets sal vind wat hulle aanstootlik noem en daarom daarop aandring dat dit moet verander. Du Preez is gewoon dwaas deur sy steun aan hierdie soort anargie te gee. Hy sal geen verweer hê as beswaar teen die standbeelde van bv Jan van Riebeeck en Paul Kruger gemaak word nie. Of is dit ook in orde, solank die Mandela-standbeelde en soortgelykes bly staan? Wat hier gebeur, is dat die agitasie nou nie meer net teen bv apartheid en Afrikaners is nie, maar selektief teen die breër nalatenskap van blankes (bv slawerny, kolonialisme, imperialisme, selfs kapitalisme) gemik is. Op die FW de Klerk-manier word glad te maklik hieraan toegegee.

Die onderwerp van Du Preez se rubriek is simbole soos standbeelde (van mense) en plekname (bv vir geboue, strate, dorpe en stede). “Mense wat voel bestaande name en instellings reflekteer hul eie geskiedenis en erfgoed, ervaar gewoonlik verandering as aggressie … My eie gevoel is dat historiese figure wat ‘n bevolkingsgroep erge aanstoot gee, nie langer in die demokratiese era só vereer behoort te word nie.” Soos die ANC hou Du Preez dus van die verwydering of afbreek van sommige standbeelde en die verandering van sommige plekname, naamlik daardie wat “erge aanstoot gee.” Aanstoot wil wie? Hier oortref Du Preez homself met sy eensydigheid. Soos die ANC is sy uitgangspunt dié van die swartes. In sy derde paragraaf verwys hy na Nelson Mandela, maar daar is by Du Preez geen sprake dat ‘n Mandela-standbeeld of -pleknaam vir enigiemand aanstoot kan gee nie. Maar die nagedagtenis van Mandela gee vir my aanstoot elke keer as ek sy afbeelding op bv ‘n geldnoot of ‘n posseël sien omdat ek die misdadige en gewelddadige samelewing waarin ek my daagliks bevind as sy hoofnalatenskap beskou.

Wie behalwe Rhodes en Jameson is vir Du Preez erg aanstootlik? “DF Malan en PW Botha” Later volg die name van ‘n hele rits wittes uit die koloniale era, maar absoluut geen nie-wittes nie: “Sir Harry Smith, lord Charles Somerset, sir John Cradock, sir Benjamin D’Urban, sir Theophilus Shepstone, koning George III, sir Thomas Napier en die graaf van Caledon.” Nog later voeg hy kol John Graham se naam by hierdie lysie van weersinwekkendes. Die name van plekke wat na hulle vernoem is, moet glo verander. In soverre daar standbeelde van hulle is, sal dié seker ook moet verdwyn. Du Preez verwys na Jan van Riebeeck as “ou Jan”, wat op sy gebrek aan respek vir ons volksplanter dui, maar hy gaan darem nie sover soos Jacob Zuma om te beweer dat alles wat sleg in hierdie land is met Van Riebeeck se koms in 1652 ‘n aanvang geneem het nie. Maar sal Du Preez na Mandela as “ou Nelson” verwys? Dubbele standaarde is kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika.

“Die simboliek van name en standbeelde help om gemeenskappe die gevoel te gee hulle word as ‘n betekenisvolle deel van die samelewing erken.” Rhodes en Jameson was destyds ‘n betekenisvolle deel van die plaaslike samelewing, of ons daarvan hou of nie. Dit geld ook die ander mense wat negatiewe gevoelens by Du Preez wek. Wat hy en die ANC met hulle sensurering van die geskiedenis bereik, is dus om die betekenisvolheid van die blankes (en net die blankes) se bydrae doelbewus af te skaal.

Soos hy so dikwels doen, kleur Du Preez graag sy teks in met verwysings na homself, bv: “My oupas was krygsgevangenes in die ou Ceylon.” Doelbewus gaan hy nie ‘n stappie verder nie. Hy kon gevra het: Waarom word die oorskot van die talle blankes wat in die Anglo-Boere-oorlog geveg het en dié van die Suid-Afrikaners wat aan die twee wêreldoorloë deelgeneem het, of dié wat om ander redes in die buiteland begrawe is en hulle lewens vir die land opgeoffer het, nie soos die oorskot van talle ANC-kamerade teen groot koste na Suid-Afrika teruggebring nie? Een van die deurslaggewende redes is: Omdat hulle hoofsaaklik blankes was. Etnisiteit en ANC-kameraadskap en nie diens aan die land nie is in hierdie geval die ANC-regering se eintlike norme.

Die (by)gelowigheid van vermoënde swartes het onlangs aanleiding tot hulle besoek aan Nigerië gegee. Toe sowat 80 van hulle tydens die ineenstorting van ‘n gebou gedood is, is hulle lyke teen buitesporige koste vir die belastingsbetalers hierheen teruggebring. As dieselfde met blankes gebeur het, sou die ANC-regering myns insiens van hulle familie verwag het om self die nodige reëlings te tref en die koste te dra.

Dit illustreer een van die bedenklike gevolge van die “demokratiese era”, waarna Du Preez so kritiekloos verwys. Die bevolking is oorweldigend swart. Die regering is afhanklik van die steun van die meerderheid kiesers, gevolglik is die regering die swartes ter wille, ook wanneer dit geensins geregverdig kan word nie. Dit is omdat ons opgesaal sit met ‘n stelsel van algemene, gelyke stemreg in ‘n eenheidstaat; ‘n grondwet wat heeltemal ongeskik vir hierdie land is. Daar is geen wigte en teenwigte wat die blankes beskerm nie. As uit ‘n ander hoek hierna gekyk word: Omdat die blankes persentasiegewys ‘n vinnig kleiner wordende minderheidsgroep is, kan hulle kultuur en ander belange, asook hulle strewes en hulle historiese en huidige bydrae. goedsmoeds deur die swart regering geïgnoreer word. Moet ook nie verwag dat die liberale DA hieroor vir die blankes in die bres sal tree nie. Die DA pomp immers liewer vir groter steun uit swart geledere.

Die derde strooipop wat Du Preez opstel en vet voer, is: “Met woede bereik jy niks” (Die Burger, 18 deser, p 8). Dit herinner aan die gewilde cliché: Geweld/misdaad sal jou niks in die sak bring nie. Dít terwyl geweld/misdaad die manier is waarop talle ANC-kamerade in die hoogste poste beland en groot rykdom in die nuwe Suid-Afrika versamel het. Geweld/misdaad is deesdae die beproefde metode waarmee die gepeupel, wat vir niks wil betaal nie, kry wat hulle ook al wil hê, of dit nou water, elektrisiteit, ander munisipale dienste, gratis televisie (met gratis dekodeerders in die pyplyn), spoeltoilette, skole of teerpaaie is. Die massa word, soos die “vryheidstryders” destyds, via woede tot geweld/misdaad opgesweep en dan staan hulle bakhand vir hulle beloning.

Du Preez begin sy rubriek met: “Dié is dae dat ek self wonder of die kommentators wat wil hê wit mense moet hul bek hou en net oor hul ‘eie sake’ menings lug, nie tog iets beet het nie.” Dít komende van iemand wat die ons/hulle-onderskeid wil ophef. Is daar nog “eie sake” waaroor wittes toegelaat word om sonder swart inmenging ‘n mening te lug? Swartes word algemeen as meer luidrugtig as blankes beskou, maar Du Preez wil juis die wittes se monde snoer. Polities korrek hou hy daarvan om selektief dinge in die verlede (wat nie verander kan word nie) te soek wat hy dan misbruik om verwyte na blankes te slinger, pleks daarvan om die chaos in die hede aan te spreek wat uiters vatbaar vir verbetering is. Let op Du Preez se gebruiklike soort invalshoek: Dit is wittes wat hul bek moet hou, nie swartes nie.

Hierna herhaal Du Preez goedkeurend wat hy in sy vorige rubriek geskryf het en kom dan met die volgende twee sinne vorendag, waarmee hy reeds die halfpadmerk in sy jongste teks bereik: “Nee, natuurlik mag ons nie ons mond laat snoer nie. Dis in niemand se belang dat wit Suid-Afrikaners hulle na ‘n intellektuele en sielkundige volkstaat onttrek nie.” Let op hoe slu verander Du Preez van spoor. Hy begin deur te pleit vir vrye meningswisseling, want sy onaptytlike opinies is sy brood, maar dan buig hy sake deur voor te gee dat die teenoorgestelde van sy verligte visie verkramtes se ontrekking in “‘n intellektuele en sielkundige volkstaat” is. Dit is tog sekerlik moontlik dat tradisionele, konserwatiewe, behoudende, Afrikaners hulle gees suiwer kan hou deur te bly strewe na Europese beskawing; iets wat voorheen plaaslik hoogs sigbaar was. Terselfdertyd kan hulle sodanige beskawing openlik bepleit en bevorder, soos hier op Praag. Meningsuiting en konserwatisme sluit mekaar dus nie uit soos Du Preez impliseer nie.

“Ek hoef nie eens by te voeg nie dat dié van ons wat voordeel uit die historiese onderdrukking van die swart meerderheid getrek het, darem ook sensitief moet wees oor wát ons sê en hóé ons dit sê, sodat dit nie verkeerd verstaan word of onnodig aanstoot gee nie. Enige ontkenning van die impak van apartheid is aanstootlik.” Let op Du Preez se aanspraak dat hy hier vanselfsprekend die waarheid beet het. Hy ry deurgaans en al prekende vir wittes (en net vir wittes) op sy hiperverligte perd. Hierbo het ek geskryf: “Rasse-segregasie en apartheid het die blankes in staat gestel om die land tot die voorspoedigste in Afrika te ontwikkel. Daarom was dit nie net sleg nie en bevoordeel dit steeds al die huidige inwoners.” Hierteenoor staan Du Preez se wit-of-swart (net goed of net sleg) benadering: “Enige ontkenning van die [slegte] impak van apartheid is aanstootlik.” Du Preez sal myns insiens nooit erken dat die “voorheen benadeeldes” tans juis deur daardie “benadeling” bevoordeel word nie. Swartes word tans in oortreffende mate juis nog verder bevoordeel met regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, ens. ‘n Ontwikkelde land het in hulle skoot geval, maar dit mag volgens Du Preez en sy geesgenote nie as (buitensporige) bevoordeling vanweë apartheid uitgewys word nie.

Daarna oortref Du Preez homself met sy blinde entoesiasme vir swart oorheersing: “Te veel mense kla net oor die verval van dienslewering en oor korrupsie sonder om enigsins te erken dat hul lewensgehalte vandag meestal hoër as 20 jaar gelede is en dat die land nog meestal goed funksioneer.” Kan ek maar, soos in die goeie ou dae, meubels op my stoep laat sonder dat dit nodig is om my erf te omhein? Kan ek my motor steeds oornag in die straat parkeer en my huis se vensters en deure sonder diefwering laat? Kan ek in veiligheid in die veld, op straat en in winkelsentrums loop? Is ons soos voorheen verseker van goedkoop en betroubare elektrisiteitsvoorsiening? Word blankes normaalweg steeds in poste in die openbare en private sektor toegelaat sodat daardie hoër lewensgehalte, waarvan Du Preez skryf, ook vir hulle moontlik is? Het ons FW de Klerk se nuwe Suid-Afrika, wat vry van geweld en kommunisme sou wees, beërwe? Het ons rede om so trots op ons mede-Suid-Afrikaners te wees dat die wit motte maar so naby soos Du Preez aan die ANC-vlam kan vlieg?

Du Preez beklemtoon sy politieke onredbaarheid deur ongesteurd in dieselfde trant voort te gaan. “Netelige kwessies, soos regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en plaasaanvalle, word misbruik as politieke knuppels wat woes rondgeswaai word. Net onder die oppervlak, so ervaar ek dit, lê die gevoel dat ‘swart’ en ‘onbevoeg’ sinoniem is.” Is laasgenoemde assosiasie werklik sonder gronde? Onervare swartes, dikwels sonder die nodige formele kwalifikasies en selfs met rekords van misdaad en geweld, is sedert 1994 op groot skaal om bv etniese of rassistiese, seksistiese en partypolitieke redes in poste (insluitende van die hoogste poste) aangestel. Daardie aanstellings was in daardie indiwidue en die ANC se belang, maar dikwels nie in die openbare of landsbelang nie. Du Preez het volgens eie erkenning op die eiland Gorée ‘n diepe emosionele ervaring gehad omdat dit destyds ‘n transatlantiese vertrekpunt in die slawehandel was. Het hy al ooit met dieselfde emosionele intensiteit die gruwelike werklikheid van plaasmoorde ervaar en met empatie oor die lot van sy mede-blankes geskryf, of sou dit te veel teen die grein van sy politieke korrektheid indruis?

Ek het ter karakterisering uit drie van Du Preez se artikels aangehaal en aangetoon hoe daar moontlik mee omgegaan kan word. Vir my was dit ‘n openbaring hoe platvloers en voorspelbaar hierdie soort joernalistiek eintlik is. Geen realistiese lig word in die donker tonnel van die nuwe Suid-Afrika gewerp nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.