‘Ek sal my klere uittrek en jou hard bliksem’

Deel op

‘n Ongeluk Saterdagmiddag waarby ‘n verkeersvoertuig betrokke was asook die gedrag van ‘n verkeersopsigter op die toneel word deur die George-munisipaliteit ondersoek, het George Nuus berig

Verna Portland, ‘n munisipale verkeersbeampte, het na bewering sonder enige sirenes of noodligte uit die buitebaan ‘n U-draai in Knysnaweg, oorkant Hartman Slaghuis, gemaak en met die wit Nissan van Serena en Erasmus Lamprecht, wat in die binnebaan gery het, gebots. Albei was op pad in die rigting na Wilderness.

Portland was alleen in die voertuig. Sy wou na bewering ‘n ligblou BMW, wat uit die parkeerarea by Hartmans regs in Knysnaweg geswaai het, agternasit toe sy die U-draai gemaak het.

Lamprecht, wat ‘n passasier in die ander voertuig was, is lig beseer en na die hospitaal geneem vir ‘n mediese ondersoek. Hy is dieselfde dag ontslaan.

Die ondersoek teen die verkeersopsigter Wichesscoff Fortuin spruit uit ‘n voorval met André Heyns, een van die eerste mense op die ongelukstoneel. Fortuin, wat in uniform was, het na die ongeluk saam met ‘n ander verkeersbeampte op die toneel aangekom.

Heyns het ‘n amptelike klag by Rosa Louw van die George-munisipaliteit ingedien onder wie die verkeersopsigters ressorteer en hy het ook ‘n kriminele klag by die George-polisie gelê.

Hy sê hy het gedink hy doen goed deur te help om verkeer van die ongeluk weg te lei totdat die ander verkeersmense daar opdaag. Daarna het hy foto’s van die toneel begin neem en is dit toe dat Fortuin hom na bewering uitgevloek en gedreig het.

” As jy nie nou ophou foto’s neem nie, sal ek my klere uittrek en jou hard bliksem,” het Fortuin volgens Heyns gesê.

Heyns sê hy verstaan dat ongelukke gebeur. “Die verkeersbeampte was egter nalatig toe sy ‘n onwettige U-draai gemaak het. ‘n Opgeleide verkeersbeampte moet nie so ‘n fout maak nie. Nou moet die arme mense sukkel om oor die weg te kom nadat hul enigste voertuig beskadig is.”

Heyns het Saterdag ook foto’s en inligting oor die ongeluk op Georgiete Staan Saam se Facebook-blad gelaai waar ‘n plaaslike raadslid Gert Niehaus, gekritiseer is oor sy kommentaar. Van die mense wat kritiek gelewer het, het Niehaus daarop gewys dat hy ‘n openbare figuur is en nie sulke uitlatings op sosiale media moet maak nie. Die inskrywings is intussen van die blad verwyder.

Niehaus het in sy inskrywing gesê: “Ek moet sê daar is goeie beamptes. Die twee of drie vrot appels moet van ontslae geraak word. Daar moet beslis aan dissipline gewerk word. Dit is baie duidelik in die boodskap wat ons as raadslede aan verkeer meedeel. Ek skaam my.”

Niehaus het aan die George Herald gesê hy het bloot reageer op navrae in ander inskrywings. “Wat ek gesê het was by wyse van spreke en het niemand se naam genoem of geïnkrimineer nie. Dis nou al die hoeveelste geval binne ‘n maand en dis belangrik dat daar strenger opgetree word wat dissipline betref. Wat die betrokke persone betref, verdien almal ‘n regverdige kans om hulle kant te stel.”

Die munisipale bestuurder, Trevor Botha, het by navraag gesê hulle ondersoeke die voorval. “Sou daar bevind word dat enige amptenaar hul skuldig gemaak het aan wangedrag, sal daar dienooreenkomstig teen hulle opgetree word.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.