Die plesierbootvaartmaatskappy MSC Cruises het bekendgemaak dat net een Suid-Afrikaner in die terreuraanval op ‘n museum in Tunisië beseer is, en dat rekenskap gegee kan word van al 78 Suid-Afrikaners aan boord.
Dit volg na ‘n verklaring deur die Tunisiese regering, gister, dat een Suid-Afrikaner in die aanval dood en verskeie gewond is. Die maatskappy sê die MSC Splendida het gister in Tunis vasgemeer en ‘n besoek aan die Bardo Nasionale Museum aangebied.
Minstens 23 mense, meestal toeriste, is in die aanval dood.
Intussen is ‘n Welkomse sakeman, Johan Cronjé en sy gesin, se lewe gespaar tydens die bloedbad. Hulle hou tans vakansie op die Splendida.
Cronjé het ‘n kort rukkie gelede vanaf die boot aan OFM-nuus gesê hulle het besluit om ‘n private taxi te huur en was daarom nie tydens die aanval by die museum nie.
Cronjé sê hy is dankbaar dat hy en sy gesin ongedeerd is, maar sy hart gaan uit na dié wat geliefdes verloor het.