‘n Polisiedossier is geopen na ‘n inbraak by die SA Persvereniging se kantore in Pretoria. Die nuusagentskap sê rekenaar-moederborde en hardeskywe is uitgehaal en gesteel.
Dié inbraak kom net enkele dae voordat Sapa sy deure vir goed sal sluit.
Die maatskappe se IT-bestuurder, Munetsi Chiunda, sê geen ander toerusting is gesteel nie. Chiunda het gesê dit wat oorgebly het, is intussen verskuif na die Johannesburgse kantoor vir veilige bewaring.
Chiunda sê hy het Sondag by die kantoor opgedaag nadat ‘n joernalis die inbraak ontdek het, en gevind toerusting en meubels is rondgeskuif.
Daar was sigbare tekens van gedwonge toegang op een van die deure. Die diewe het probeer om die skroewe van die slot van die tweede deur te verwyder, maar het misluk.
“Dit wil voorkom asof hulle toegang met behulp van die vuuruitgangnooddeur verkry het,” het hy gesê.
Sapa se redakteur, Mark van der Velden, sê iets is nie pluis met die inbraak nie. Hy sê dis vreemd dat die diewe lank doenig was om die hardeskywe en moederborde uit die rekenaars te verwyder.
Sapa sal om middernag van die 31 ste Maart sy laaste berig uitstuur.
Hy het gesê hy hoop die polisie sal ondersoek instel en die oortreders vang.