Eskom se kredietgradering na rommelstatus aangepas

Deel op

Eskom se internasionale kredietgradering is tot sogenaamde rommelstatus afgegradeer.

Die graderingsagentskap Standard en Poor’s wat ook aan die kragverskaffer negatiewe vooruitsigte gegee het, sê die skorsing van die uitvoerende hoof en nog drie senior uitvoerende beamptes het tot minder vertroue in Eskom se korporatiewe beheer en sy kredietprofiel gelei.

Die status van BB+ word volgens S&P as die “hoogste spekulatiewe graad deur markdeelnemers” beskou. Karim Nassif, hoofkredietontleder, het gesê vertroue in die maatskappy se korporatiewe bestuursreëlings en sy kredietprofiel het afgeneem.

Eskom se vorige S&P-gradering was BBB-.

Eskom word ook deur ‘n finansieringstekort van tot 200 miljard rand tot 2018 in die gesig gestaar.

Die agentskap meen daar is ‘n “risiko rakende die regering se ondersteuningsplan, en dat Eskom se bedryfsprestasie nog nie gestabiliseer het nie weens stygende koste en die baie beperkte marge van opwekkingskapasiteit in Suid-Afrika nie”.

Tshediso Matona, Eskom se uitvoerende hoof, Tsholofelo Molefe, finansiële direkteur, Dan Morokane, groepkapitaalhoof, en Matshela Koko, tegnologiehoof, is verlede week geskors hangende ‘n ondersoek.

Sommige ontleders meen egter die agentskap se graderings het meer met politiek as werklike ekonomiese kwessies te make.

Verlede week het Goldman Sachs in New York die aankoop van Russiese effekte aanbeveel ten spyte dat die S&P Rusland se kredietgradering laer aangepas het weens ‘n “sukkelende ekonomie”.

Eskom het intussen vir ‘n bykomende styging van sowat tien persent in kragtariewe gevra. Die Kaapse stadsraad het aan die nuusagentskap Reuters gesê die voorgestelde styging van 9,5 persent sal bykomend tot die 12,9 persent wees wat reeds goedgekeur is.

Indien die tweede styging goedgekeur word, sal dit neerkom op ‘n styging van 22,7 persent in elektrisiteit vir die 2015/2016 geldjaar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.