3-kuns vir Porsche met Macan S Diesel wat Motor van die Jaar inpalm

Gallagher Estate, Johannesburg: Uitnemendheid gevier! Dit is ‘n driekunswen vir Porsche wat die titel van die 2015-WesBank / SAGMJ-Motor van die jaar verower. Die vervaardiger se Macan S Diesel-model is aangekondig as die wenner op ‘n gala-dinee wat deur WesBank, die kompetisie se hoofborg, by Gallagher Estate in Johannesburg aangebied is.

Die Porsche Macan S Diesel het strawwe mededinging onder die elf finaliste gehad. Die veskillende motors het alle segmente verteenwoordig, die beste van die beste in ‘n deursnit van segmente en pryse. Hierdie was seker een van die mees vurig betwiste wenne in die kompetisie se dertigjarige geskiedenis.

Die Porsche Macan S Diesel
Die Porsche Macan S Diesel

Op sy pad na ‘n oorwinning in die 2015 WesBank / SAGMJ-Motor van die Jaar-titel het die Porsche Macan ook verskeie internasionale toekennings versamel, waaronder SNV-kategoriewenner by die AJAC se 2015 Kanadese Motor van die Jaar-toekennings; die AutoExpress Beste kompakte SNV; en die Motor & Driver Editor’s Choice-toekennings in beide die kompakte luukse SNV- en kompakte verrigtings-SNV-kategorieë.

Die Porsche Macan S Diesel word deur motorjoernaliste beskou as een van die beste SNV’s wat daar ooit gebou is. Dis ‘n kompakte dog gespierde voertuig wat die hoogste gemiddelde telling ontvang het van die 28 SA Gilde van Motorjoernaliste-jurielede wie se opdrag dit was om vanjaar se wenner aan te wys.

Die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se SA Motor van die Jaar-kompetisie loop sedert 1986, met WesBank – een van Suid-Afrika se grootste voertuigfinansieringsinstellings – as sy hoofborg sedert die ontstaan daarvan. Hollard Insurance en Motul bied ondersteuningsborgskappe.

Die Suid-Afrikaanse kompetisie is gegrond op die Europese Motor van die Jaar se punte-gebaseerde stelsel, maar is uniek in die motorwêreld deurdat, voordat die finale stemme uitgebring word, elk van die finaliste ook aan ‘n streng toetsprosedure deur die verkose COTY-jurie by die wêreldbekende Gerotek-voertuigtoetsfasiliteit buite Pretoria onderwerp word.

Die jurie word toegelaat om 50 stemme aan al 11 finaliste toe te ken, maar aan ten minste sewe voertuie, en mag nie meer as 10 punte teenoor enige enkele voertuig uitbring nie. Alle stemme word gemotiveer en is oop om ondersoek te word.

Die bekroonde voertuig word geëvalueer en aangeteken in verhouding tot sy segmentmededingers. Terwyl elke voertuig se finale telling bepaal word deur die estetika, dinamika, prestasie, brandstofdoeltreffendheid, veiligheid, tegnologie, onderdelepryse en koste van eienaarskap, om slegs ‘n paar faktore op te noem, is die oorheersende maatstaf waaraan elke voertuig gemeet word algehele uitnemendheid.

“Die SNV-mark groei steeds regoor die wêreld en Suid-Afrika is geen uitsondering nie,” sê Bernard Hellberg Jr, COTY-voorsitter en visevoorsitter van die SA Gilde van Motorjoernaliste. “Die Macan bewys sy oorheersing van die luuksedeel van hierdie segment deur die konsekwente hoë vlakke van motoruitnemendheid wat die Motor van die Jaar-kompetisie ten doel het om te beloon.”

In onlangse jare het die kompetisie baie historiese oomblikke beleef, soos in 2012 toe Hyundai Automotive SA die titel vir die eerste keer in sy geskiedenis verower het en ook die eerste Koreaanse vervaardiger was wat die titel kon wen. In 2011 het die kompetisie ‘n nóg groter opskudding veroorsaak toe die kroon vir die eerste keer in die geskiedenis gedeel is, tussen die BMW 530d en Volkswagen Polo 1.6 TDI. Vanjaar het die SA Gilde van Motorjoernaliste 30 jaar van uitnemendheid gevier. Maar weereens is die bekroning ‘n groot twispunt aangesien dit die derde agtereenvolgende jaar is wat Porsche die titel verower. Baie mense beskou dit as ‘n klug. Maar dit is juis die uitnemende voertuie wat Porsche bou wat hierdie titel vir die derde keer aan hulle besorg!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Jan Rap

    ‘n Mens sou dink dat alles wel is in die reënboognasie as daar gala-dinees gehou kan word vir sulke onbenullighede. Dit terwyl sg. diensleweringsprotesaksies by die dag meer geweldadig raak.

  • Rooikop

    Uitnemende voertuie wat nie vir gewone mense beskore is nie.