Hoërskoolseun deur weerlig doodgeslaan

Deel op

Witbank Nuus het berig dat ‘n wit hoërskoolseun, Francois Clarence, Dinsdag deur die weerlig doodgeslaan is.

Die seun het Dinsdagmiddag ná skool na die hokkieveld gestap waar HTS Witbank se eerste span teen Potchefstroom sou speel, toe hy deur weerlig getref is.

Hy is daarna deur paramedici op die veld behandel, maar is later dieselfde aand oorlede in die hospitaal waar hy opgeneem is.

Sy skoolmaats het Dinsdagaand by die hospitaal byeengekom en tevergeefs vir Clarence se herstel gebid. Hy word oorleef deur sy ouers en broer.

Nog ses mense, vermoedelik swart, is Woensdag dood en vyf is beseer toe hulle op die N8, sowat 20 km buite Botshabelo in die rigting van Bloemfontein, deur weerlig getref is.

“Die mans, almal tussen 20 en 40 jaar oud, was konstruksiewerkers. Hulle het in ʼn struktuur skuiling gesoek toe dit begin reën het,” het Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “Ses persone is op die toneel dood verklaar en vyf persone het geringe beserings opgedoen.”

Die pasiënte is na ʼn plaaslike hospitaal geneem.

Nagenoeg tagtig mense word jaarliks deur weerlig doodgeslaan en ongeveer driehonderd beseer.

Die meeste sterftes en beserings kom smiddags en saans in die somermaande voor wanneer mense buitenhuis deur donderweer oorval word.

Mense is al in die afgelope jare deur weerlig gedood terwyl hulle op ’n boot rondgevaar, onder ’n boom gestaan, gholf gespeel, oor die telefoon gepraat, perd gery en berg geklim het, om maar ’n paar bedrywighede te noem.

Selfs as dit nie reën is, bly weerlig steeds gevaarlik. Weerlig slaan dikwels waar dit nie kwaai reën nie en kan tot 15 kilometers of meer van enige reën voorkom.

Skoene met rubbersole en rubberbande bied absoluut geen beskerming teen weerlig nie. Die staalraam van ’n voertuig bied wel groter beskerming mits jy nie aan enige metaal raak nie. Hoewel jy beseer kan word as weerlig jou motor tref, is jy baie veiliger binne-in ’n voertuig as daarbuite.

Ondanks hul beperkte duur en grootte – ’n tipiese donderstorm duur gemiddeld 30 minute en is nagenoeg 25 kilometer in deursnee – is alle donderstorms gevaarlik.’n Paar goeie veiligheidswenke om in gedagte te hou:

– Stel buitelugbedrywighede uit wanneer die weer opsteek vir ’n donderstorm. Dit is die beste manier om te voorkom dat jy in ’n gevaarlike situasie beland.

– Sorg dat jy dadelik in ’n stewige gebou of ’n motor kom. Moenie onder afdakke, onder geïsoleerde bome of in ’n voertuig met ’n verstelbare kap gaan skuil nie. Bly weg van hoë voorwerpe soos torings, heinings, telefoonpale en kragdrade.

– As dit blits en daar geen stewige skuiling is nie, klim in ’n toe-motor met ’n harde bak en hou die vensters toe. Moenie aan enige metaal raak nie.

– Moet nie oor die telefoon gesels nie, tensy daar nood is, en vermy enige elektriese apparate. As die modem van rekenaar met jou telefoon gekoppel is, ontkoppel dit betyds.

As jy jouself buite bevind en geen skuiling is naby nie:

– Vind ’n laaggeleë plek weg van bome, heinings en pale. Maak egter seker dat dit nie ’n leegte is waar vloedwater jou kan oorval nie.

– Indien jy in die bos tussen baie bome is, gaan skuil onder die korter bome.

– As jy ’n prikkeling op jou vel voel of jou hare regop staan, hurk laag op die grond op die balle van jou voete. Plaas jou hand oor jou ore en druk jou kop tussen jou bene in. Maak jouself die kleinste teiken moontlik en maak die kontak wat jy met die grond maak so min as moontlik. Moet nooit op die grond gaan lê nie.

– As jy êrens op ’n dam of rivier in ’n boot vaar, sorg dat jy so gou moontlik by droë grond kom en ’n skuiling vind.

– Onthou, as jy die donderslae kan hoor, is jy naby genoeg om deur weerlig getref te word! En bly binnenshuis vir dertig minute nadat jy die laaste donderknal gehoor het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.