Zille gekap oor gebrek aan mediavryheid

Deel op

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Maandag gesê die Wes-Kaapse regering se beroep op alle provinsiale departemente om nie hul subskripsie vir die Cape Times te hernu nie, is afstootlik.

“Sanef vind dit afstootlik dat die uitvoerende komitee van die Wes-Kaapse regering, onder leiding van ‘n voormalige joernalis, Helen Zille, op dié vlak by provinsiale departementshoofde se sake inmeng,” het Mpumelelo Mkhabela, voorsitter van Sanef, gesê.

Bert Gerber, direkteur-generaal, het glo die onderskeie departemente opdrag gegee om nie hul subskripsies te hernu nie. “Die kabinet het met kommer die toenemende afname in die gehalte van verslaggewing in die Cape Times bespreek,” het Gerber geskryf.

Mkhabela het gesê die provinsiale regering kon die kwessie anders hanteer. “Indien die Wes-Kaapse regering ‘n probleem het met die gehalte van die Cape Times se inhoud, kon hulle dit met die redakteur van die koerant opneem of deur middel van die persombudsman oplos en nie deur ‘n boikot van die Cape Times te versoek nie.”

Sanef se bestuurskomitee het intussen gesê hy sal ‘n protesbrief aan die Wes-Kaapse regering stuur en versoek dat die besluit herroep word.

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, meen egter hulle het niks verkeerd gedoen nie. “Geen koerant het die reg om te eis dat enigiemand by hulle moet inteken nie. Almal, insluitend regerings, het die reg om ingeligte verbruiksbesluite te maak.”

Zille het gesê die provinsiale kabinet het ‘n eenparige besluit geneem om nie hul subskripsie te hernu nie en dat dit geen bedreiging vir mediavryheid inhou nie.

Dié stap is geneem nadat die Cape Times nie aan die DA besonderhede wou gee oor ‘n baba wat aan fetale alkoholsindroom ly nie. Zille het daarna gesê die nuusberig oor die baba is geplagiariseer. Dit het glo eers op ‘n sosialitiese webwerf verskyn, die World Socialist Website in Augustus 2012.

Zille wou glo die besonderhede oor die baba hê om die kind te red, aangesien die ouers glo deur die apartheid-dopstelsel daartoe gedwing is om alkohol te misbruik.

Maar ten spyte van haar kruistog om ‘n voorkombare plaag van breinskade onder die bruin bevolking hok te slaan, het Zille op net een enkele geval gefokus en vreemd genoeg nie op 6% – ‘n wêreldrekord – van die bevolking in haar provinsie wat daaronder ly nie.

Zille beweer dié een geval van Thomas, die baba, is al toegang wat die provinsie het tot die probleem.

Kennelik is sy met een of ander agenda doenig, want sulke uitlatings, ontdaan van enige logika, spreek van ongekunsteldheid.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.