Minister se dood dalk te wyte aan alkohol

Deel op

Die polisie in Limpopo het bevestig dat die bestuurder van die vragmotor wat die dood van ‘n minister en sy lyfwagte veroorsaak het, positief vir alkohol getoets het.

Die vragmotorbestuurder, wat in ‘n ongeluk met die minister van Staatsdiens en Administrasie, Collins Chabane se motor betrokke was, was wel onder die invloed van alkohol.

‘n Polisiewoordvoerder, kol. Ronel Otto het gesê ‘n verklikkertoets op die toneel het aangedui dat die vragmotorbestuurder moontlik alkohol gebruik het, maar bloedmonsters moet dit eers bevestig.

“Die verdagte is in hegtenis geneem op aanklagte van strafbare manslag, asook roekelose en nalatige bestuur, en ‘n verklikkertoets het aangedui dat hy onder die invloed van alkohol kon gewees het, dus is hy ná sy arrestasie na die hospitaal geneem vir bloedtoetse wat nou na Pretoria gestuur word vir ontleding deur ons forensiese departement,” het Otto gesê.

Chabane en sy twee lyfwagte, Lesiba Sekele en Lawrence Lentsoane is op slag in die ongeluk Sondagoggend dood.

Netwerk24 het Maandag berig dat die bestuurder van Chabane se wit VW Touareg in die vroeë ure van Sondagoggend byna 200km/h gejaag het toe hy teen die vragmotor gebots het.

Otto kon nie sê hoe lank dit gaan neem voor die uitslag bekend is nie.

Die ongeluk het op die N-1 naby Polokwane plaasgevind, toe die vragmotor na bewering ‘n u-draai gemaak het. Die vragmotorbestuurder sal Dinsdag in die landdroshof in Polokwane verskyn.

Intussen ondersoek die minister van Vervoer, Dipuo Peters, in samewerking met die Padverkeersbestuurskorporasie en die polisie, die oorsaak van die ongeluk.

Die minister se woordvoerder, Ishmael Mnisi sê Peters het ook haar meegevoel betuig met Chabane en die lyfwagte se families.

Die minister in die Presidensie, Jeff Radebe het vroeër gesê Chabane sal ‘n spesiale amptelike begrafnis kry.

Owerhede het die pad gesluit en motoriste langs die R101 herlei vir byna vyftien ure lank terwyl die polisie, ‘n toneelondersoeker en verkeersbeamptes die gebied gefynkam het.

Verskeie politici het ook die ongelukstoneel besoek.

Werkers by vulstasies langs die besige N1-roete het gesê daar was die hele dag lank geen motoriste sedert hulle vir diens aangemeld in die oggend nie.

Chabane was op pad terug na Pretoria van ‘n begrafnis van ‘n stamhoof in Malamulele waar etniese konflik die gebied reeds weke lank teister. Chabane was een van die sprekers by die begrafnis.

Een van die ondersoekers het aan Netwerk24 gesê dat hy 30 minute ná die ongeluk op die toneel aangekom het.

Hy die sleepmerke van beide voertuie gemeet en het gesê dit is duidelik dat die Touareg die vragmotor teen ‘n baie hoë spoed getref het. Die boonste helfte van die Touareg is afgeskil deur die onderkant van die vragmotor.

Die Touareg tot stilstand gekom teen die staalversperring ongeveer 100 meter van die botsing. Die impak het die versperring met ‘n meter verplaas.

Nóg ‘n forensiese ondersoeker het gesê die aard van die skade by die ongeluk dui op ‘n spoed na aan 150 km/h waarteen die minister en sy lyfwagte gereis het.

Die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa is as waarnemende minister vir die staatsdiens en administrasie aangestel na die afsterwe van Chabane.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.