Carstens-Landman-debat belig denkfoute oor Afrikaans

Deel op

Die briewewisseling tussen proff. Wannie Carstens en Kas Landman vandeesweek in Beeld rondom die handhawing van Afrikaans is interessant. Oënskynlik gaan dit oor die kwessie of “Afrikaans in die verlede foute gemaak het” en of “sprekers van Afrikaans foute gemaak het”.

roodt_fbfotoEk het ook ‘n stuiwer in die armbeurs gewerp en wonder bo wonder het Beeld ‘n (verkorte) weergawe van my brief geplaas. Daarin meen ek dat die kwessie of “Afrikaans” ‘n metoniem vir “die sprekers van Afrikaans” is, egter minder ter sake is as die vrae: Watter foute het Afrikaners in die verlede rondom Afrikaans gemaak en watter foute maak hulle nou?

Benewens die internasionale status van Engels, oorheers dié taal vandag in Suid-Afrika juis vanweë die aggressie en ongenaakbaarheid waarmee dit in die negentiende eeu en sedert 1994 op ons afgedwing word. Toe Afrikaners in die verlede politieke mag gehad het, het hulle gefouteer deur te billik en regverdig op te tree wat veeltaligheid betref, gegewe die taalaggressor waarmee hulle te kampe het. Die hele mite rondom die Soweto-onluste is al deur prof. Jaap Steyn en ‘n paar ander skrywers ontmasker; benewens van die Anglikaanse kerk en sy ampsdraers was daar nog nooit veel vyandigheid teen Afrikaans in Soweto nie.

Carstens begaan egter vandag die groteske fout om te dink dat Afrikaans deur ‘n askiestoghouding en politieke korrektheid gered gaan word. Dit is bloot water op die meul van die taalaggressor wat meen dat Afrikaans maar ongelyk met Engels behandel mag word en dat Engelssprekendes ook in beheer van alle Afrikaanse instellings moet wees!

Tans verkeer PRAAG in ‘n absurde stryd met die Menseregtekommissie wat verseg om met ons in Afrikaans te korrespondeer, waarvoor ons waarskynlik hof toe sal moet gaan.

Ons het groter onafhanklikheid van denke en minder gedienstigheid nodig as dit by taalsake kom. Sowel Vlaandere as Québec het getoon dat geen taalstryd sonder die wil daartoe gewen kan word nie.

Prof. Kas Landman het saam met my en ‘n twintigtal ander op 22 Februarie 2000 die huidige PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) gestig. Sedertdien het die taalstryd bloot in felheid toegeneem.

Landman neem Carstens kwalik dat hy klakkeloos die polities korrekte clichés wat deur die ANC en SAKP oor Afrikaans as “verdrukkerstaal” (terwyl óns vandag verdruk vermoor word!) herhaal en noem dit ‘n “dinkfout”:

Die dinkfout het te doen met die sogenaamde skuld en politieke bagasie van Afrikaans. Vir perspektief daarop: Daar is nie ’n enkele menslike taal in die geskiedenis wat daarop kan roem dat haar sprekers heilig en skuldloos is nie: Engels (kolonialisme, uitbuitende kapitalisme, volksmoord), Duits (nasionaal-sosialisme, volksmoord), Zoeloe (Mfecane/Difacane/volksmoord), Spaans (kampe in Kuba, Inkas), Frans (Algerië, Kongo), Russies (Stalin) – om maar net enkele tale te noem.

Hoe dit ook al sy, Engels kom altyd sonder blaam en skotvry daarvan af. Onlangs is Frans in Rwanda deur Engels vervang.

Die nie-verstaan van die huidige politieke en kulturele werklikheid in Suid-Afrika kan ’n interessante, maar uiters gevaarlike, vorm van xenofobie of vreemdelingehaat bevorder.

Onthou die Mbeki-verwysing na die twee nasies: Die ryk wit mense en die arm swart mense en die Zuma-verwysing na Jan van Riebeeck. Skynbaar onskuldige politieke konstrukte soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is eintlik vorme van xenofobie of vreemdelingehaat. Die wit mens is die vreemdeling in Afrika.

Standaardafrikaans is die taal van wit en ryk apartheidsbevoorregtes. Dat al hoe meer Afrikaanssprekendes (wit en bruin) hul kinders na Engelse skole stuur, sê net vir ons dat hierdie ouers reeds die verswakte rol van Afrikaans verdiskonteer het.

Soos gewoonlik, Het Beeld kant gekies vir Carstens en sy linkse politieke korrektheid en herhaal ewe seer sonder enige kritieke insig of kennis die polities korrekte standpunt. Onder andere beweer Beeld in hul hoofartikel (sien volledige aanhaling hier onder):

Die apartheidsregering se belegging in die ontwikkeling van Afrikaans was enorm. Ná 1994 moes die ANC-regering sy begroting tussen tien ander amptelike tale ook verdeel.

Dit is natuurlik die grootste twak onder die son. Die NP was baie versigtig om op Engelse tone te trap en soos prof. Jaap Steyn al aangetoon het, is baie plattelandse, Afrikaanse munisipaliteite wat eentalig was gedwing om Engels in te voer om by die amptelike “tweetaligheid” in te val. Soos ek dit hierbo suggereer, het Afrikaners – anders as die Britse koloniale regerings, asook nou, die ANC se Afro-Saksers – nooit hul politieke mag gebruik om hul taal en kultuur af te dwing nie.

Die ANC verdeel hoegenaamd nie sy begroting gelykop tussen tien amptelike tale nie. Slegs Engels word in almal se kele afgedruk: dit strek van die SA Inkomstediens tot die sogenaamde Menseregtekommissie. Elke staatsdepartement en amptelike instansie verseg om in enige ander taal as Engels te kommunikeer. Dit is byna lagwekkend!

Verder teem Beeld oor “’n ahistoriese ontkenning van die verlede en dekades se bevoordeling van Afrikaans ten koste van die land se ander inheemse tale”. Waar is Afrikaans in die verlede ooit “ten koste van die land se ander inheemse tale bevorder”? Die NP het berge versit om swartes te oorreed om hul eie tale te skryf, daarin skool te gaan en het pakhuise vol boeke op staatsonkoste in daardie tale gedruk. Trouens, die swart tale in Suid-Afrika is, op een of twee uitsonderings na, die mees ontwikkelde van al die inheemse tale op dié vasteland! Ons miljoen of twee Afrikaners het meer vir die swartman se kultuur gedoen as die magtige Britse en Franse Ryke, om van die VSA of China nie eens te praat nie.

Ek het die Menseregtekommissie tot Vrydag 13 Maart gegee om my in Afrikaans te antwoord, anders gaan PRAAG hof toe om hulle daartoe te dwing. Ons sal dié week ‘n dagvaarding sommer in die landdroshof teen die Menseregtekommissie uitreik. Ek kan nie dink aan enige “Menseregtekommissie” wat onlangs nie die taalregte van die burgers in sy land wou respekteer nie. Maar soos baie ander dinge in die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika” is die Menseregtekommissie insgelyks een groot klug.

Die strategie wat PRAAG meer onlangs begin formuleer het, is egter die mees haalbare: Terwyl ons steeds die staat en die groot maatskappye moet kasty oor hul weiering om Afrikaans te erken, met boikotte en regsaksies, moet ons ook ‘n Afrikaanse ekonomie vestig en uitbrei. Dit behels twee aspekte:

  1. Die bevordering van die Afrikaanse kultuurekonomie in die vorm van Afrikaanse boeke, films, webblaaie, musiek en ander media.
  2. Die oprigting van nuwe ondernemings wat met die Engelse ekonomie kan meeding en wat die koopkrag van Afrikaners van die Engelse/SEB-ekonomie moet weglok. Dit geld veral die finansiële instellings soos banke en versekeringsmaatskappye wat Afrikaans ewe gruwelik verwaarloos, terwyl hulle ons arme verbruikers uitbuit.
  3. Die Afrikaanse kultuur moet ook verhandelbaar gemaak word, m.a.w. aspekte van ons kultuur, kookkuns en taal moet as produkte op die markplein binne ‘n Afrikaans konteks aangebied word.
  4. Afrikaans moet internasionaal onder pro-Westerse en pro-Europese groepe bemark word. Van Rusland tot Amerika, asook in vele Europese lande, heers daar groot belangstelling in Afrikaans en ons kan op gelyke voet met vele ander lande en kulture aan allerlei aktiwiteite deelneem, selfs al het ons vir alle praktiese doeleindes staatloos geword.

Ons voorouers het tydens die Depressiejare van die vorige eeu daarin geslaag om teen Engels en Engelse oorheersing op te staan. Ons kan dieselfde regkry.

Nooit mag ons tou opgooi nie.

Sluit aan by PRAAG!

Beeld sê: Taalstryders kan gerus na hom luister

Die Potchefstroomse taalghoeroe prof. Wannie Carstens het Maandag ’n paar belangrike punte gemaak oor die toekoms van Afrikaans.

Dis nie nuwe menings nie, maar komende van Carstens, wat tot onlangs voorsitter van die Akademie vir Wetenskap en Kuns was, kan ’n mens gerus weer daarna luister.

Op ’n beraad oor die toekoms van Afrikaans as ’n universiteits­taal het Carstens gewaarsku oor die manier waarop daar vir Afrikaans gestry word.

“Ons moenie vergeet dat Afrikaans in die verlede baie foute gemaak het nie. Ons sit met ’n gemeenskap wat sy vertroue in die taal verloor het. Ál manier waarop ons hierdie situasie gaan ontlont, is met beredeneerde argumente,” het Carstens gesê. Hy het bygevoeg die dae van “kragdadigheid” is verby en dat Afrikaanse mense verhoudings deur dialoog en bydraelewering moet herstel.

Dis ’n nugtere en welkome bydrae tot ’n debat wat ongelukkig dikwels gekenmerk word deur ’n ahistoriese ontkenning van die verlede en dekades se bevoordeling van Afrikaans ten koste van die land se ander inheemse tale.

Die apartheidsregering se belegging in die ontwikkeling van Afrikaans was enorm. Ná 1994 moes die ANC-regering sy begroting tussen tien ander amptelike tale ook verdeel.

Dit is dus verstaanbaar dat die voortbestaan van Afrikaans as universiteitstaal nie boaan die regering se prioriteitslysie is nie. Nie terwyl miljoene mense in armoede krepeer en kinders nie behoorlike onderrig ontvang nie.

Daar is natuurlik niks fout daarmee om vir Afrikaans te agiteer nie. Maar soos Carstens uitgewys het, gaan dit oor hoe.

Solank daar ’n groot genoeg vraag is na Afrikaanse onderrig aan instellings, soos die Noordwes-Universiteit se Potch-kampus, moet daar in dié behoefte voorsien word. Dit beteken nie daar kan nie ook in Engels en veral Tswana op die kampus gekommunikeer word nie.

Kreatiewe oplossings, soos ’n werkende tolkstelsel, kan juis die soort omgewing vestig waarvan Carstens praat.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.