Die ontaarding van die Universiteit Stellenbosch

Deel op

In sy boek, Maties en Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013), vertel Pieter Kapp hoe die Engelse Victoria College die Afrikaanse Universiteit Stellenbosch (US) geword het. Oor die tyd voordat die US in 1918 sy beslag gekry het, skryf Kapp: “Dit [is] nodig om daarop te let dat hoewel soveel studente-aktiwiteite en veral publikasies in Engels geskied het, dit deur Afrikaanse studente geskryf is” (p 32). Uit Lindie Koorts se boek, DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme (Kaapstad: Tafelberg, 2014) blyk dat Malan (1874-1959, eerste minister 1948-1954) as kollegestudent aanvanklik deel van hierdie verengelsing was. Hy het selfs aan sy Afrikaanse vriendin in die platteland in Engels geskryf. (Iets soortgelyks kan egter ook van JBM Hertzog gesê word.)

Die onlangse betoging op die kampus van die Universiteit Stellenbosch
Die onlangse betoging op die kampus van die Universiteit Stellenbosch

Hierdie taalsiklus is na bykans ‘n eeu voltooi toe die US in 2014 amptelik besluit het dat Afrikaans nie meer sy enigste of hoofvoertaal sal wees nie; dat Afrikaans en Engels voortaan glo gelyke status geniet, maar met die duidelike implikasie dat indien Engels nie reeds die hoofonderrigtaal is nie, dit spoedig sodanige status sal verwerf en na verwagting van die US uiteindelik weer, soos die Victoria College, ‘n eksklusief Engelse inrigting sal maak (Praag 30 November en 7 Desember). Op die US-studentewebwerf Bonfiire Stellenbosch blyk dat die geskiedenis hom herhaal: feitlik al die Afrikaanssprekende studente publiseer hulle menings deesdae in Engels. Dit toon in hoe ‘n groot mate propaganda afkomstig van bv die ANC daarin geslaag het om Afrikaners en Afrikaans in onguns te bring.

In hierdie skrywe toon ek aan hoe drie astrante swart US-studente onlangs in die dorp skoor gaan soek en dit gekry het en hoe dit aanleiding gegee het tot ‘n reeks gebeure, soos ‘n verklaring deur die waarnemende rektor en daarna nog een deur ‘n viserektor, met ‘n optog op die kampus as “hoogtepunt”. Hierdie gebeure lê die anatomie bloot van ‘n eens gerekende inrigting wat gekies het om primêr eerder ‘n politieke as ‘n akademiese koers in te slaan, met betreurenswaardige gevolge. ‘n Mens sou verwag dat die teenoorgestelde liewer gebeur, dus dat die US hom eerder al hoe meer los woel van die swart regering en die ANC, want die staatsubsidie het van 41% van die US-begroting in 2000 na 25% in 2015 gedaal (Matieland, 2014, p 9). Desnieteenstaande is die US-bestuur soos klei in die hande van die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande.

Op 4 Maart het Bradley Frolick op Bonfiire aangekondig dat daar op 6 deser ‘n optog op die US-kampus gehou gaan word met die oog op: “Reaffirming the importance of the human dignity of all Maties … we unite in solidarity as Maties to be able to walk free from the fear of violent attacks, cat-calling, homophobia, racism, xenophobia and other discrimination suffered.” Die US-studente word beskryf as “active agents of change.” Ander kenmerkende politieke retoriek sluit in “challenges” en “the spirit of Ubuntu”.

Die aanleiding vir hierdie optog was nie die onlangse ontvoering van ‘n blanke US-vrouestudent of die verkragting van ‘n ander een nie. Benadeling van blankes lei gewoonlik nie tot entoesiastiese openbare protes nie. Wat sowel wittes as nie-wittes hierdie keer geaktiveer het, is drie swart US-studente wat hulle ongevraagd bemoei het met ‘n geskil tussen wittes en swartes in ‘n kitskosonderneming in die dorp. Ek haal die koerantberig, geskryf deur Raymond Willemse, volledig aan.

“‘n Rassevoorval het kop uitgesteek by die Universiteit Stellenbosch (US) waar wit mans glo swart studente aangerand het. Of die wit mans studente is, kan nog nie bevestig word nie. Die voorval het glo oor die naweek by McDonald’s in Merrimanlaan gebeur. Een van die studente, Sikhulekile Duma, voorsitter van die Demokratiese Alliansie Studente-organisasie (Daso), het in ‘n verklaring namens die organisasie druk op die US-bestuur geplaas om op te tree.

“Luidens die verklaring het aanvallers glo swart werknemers by dié eetplek verneder en oor die toonbank aan hul klere gepluk. Duma het gesê hy was verplig [!] om tussenbeide te tree. Duma, Sphele Masuku en Lwazi Phakada is later buite die eetplek glo aangerand. Die aanval is by die polisiekantoor asook die US aangemeld en word ondersoek. In die verklaring eis Daso ook dat die US rassisme op die kampus moet prioritiseer en meer doen om rassistiese ingesteldhede onder studente te bekamp.

“By navraag oor die beweerde voorval het Prof Leopoldt van Huyssteen, waarnemende rektor en visekanselier, gesê die US beskou enige vorm van rassisme, geweld, skeltaal of menseregte-vergrype in ‘n baie ernstige lig, ongeag waar die insident plaasgevind het – op kampus of elders in die dorp. ‘Die identiteit van die aanvallers is in hierdie stadium nie aan die universiteit bekend nie, maar die onmiddellike prioriteit is om die beseerde studente te ondersteun. Die universiteit se krisisdiens was in verbinding met die studente om hulp en berading aan te bied.

“‘Ons het ‘n standpunt van zero-verdraagsaamheid ten opsigte van rassisme en diskriminasie. Ons sal nie skroom om op te tree teen enige student wat skuldig bevind word aan enige gedrag of uitlatings wat strydig is met die dissiplinêre kode vir studente, of wat ‘n kriminele oortreding begaan het nie. As dit in die ondersoek aan die lig sou kom dat die beweerde aanvallers in Saterdag se voorval wel US-studente is, sal die interne dissiplinêre prosesse geïnisieer word,’ het Van Huyssteen gesê” (Eikestadnuus, 26 Februarie, p 2; dié berig was ook in Die Burger, ‘n koerant wat ongeneë is om ruimte aan bv plaasmoorde af te staan).

Let daarop dat net die blankes se geslag in die berig gespesifiseer word. Hulle word dus as dubbel afkeurenswaardig voorgestel, want hulle is wit en boonop mans. Sedertdien was daar geen sprake van dat hierdie blankes, die “aanvallers” genoem, US-studente is nie. Duma, die klaer, is die voorsitter van Daso en dus polities aktivisties. Hy en twee mede-swartes het hulle aan die blankes opgedring en is toe reggesien. Nou eis Duma/Daso “dat die US rassisme op die kampus moet prioritiseer” omdat daar glo “rassistiese ingesteldhede” onder die studente is. Dít terwyl die voorval buite die kampus in die dorp plaasgevind het en dit drie swart studente is wat moeilikheid met (klaarblyklik) nie-US-studente gesoek en dit gekry het. Druk is deur Duma/Daso op die US-bestuur geplaas om op te tree en die waarnemende rektor, Van Huyssteen, het dadelik ‘n verklaring teen rassisme uitgereik en simpatie met die swartes uitgespreek. (Dit herinner aan Jonathan Jansen se onlangse gedrag teenoor twee wit studente aan die Universiteit Vrystaat toe Jansen kant vir die valse aantygings van ‘n swart student gekies het.)

Maar is dit (noodwendig) ‘n geval van rassisme? Gestel drie wit US-studente het in die onderonsie ingemeng en is deur daardie wit mans (of deur swartes) reggesien. Dan sou geen haan daaroor gekraai het nie en daar sou geen optog teen rassisme plaasgevind het nie. Dit is die lakmoestoets wat in al sulke gevalle aangelê moet word: Word wittes en swartes eenders behandel? Dus, is daar gelykberegtiging? Adriaan Basson het bv onlangs verkondig dat die dood van Solly Ozrovech kom koud laat (Netwerk24, 7 deser). Maar dit is die soort ding wat Basson nooit van enige nie-witte, hoe merieteloos dié ook al was, sal sê nie. Dit is goedkoop joernalistiek van iemand wat fanaties probeer om hom nie skuldig te maak aan enigiets wat Afrikaners of Afrikaans kan bevoordeel nie.

Op 7 deser is op die US-webwerf verslag oor die optog gedoen. Lede van die US-bestuur en -administrasie, asook dosente soos Amanda Gouws, het saam met studente aan die optog deelgeneem. Op die foto is daar bv swartes wat in die swartmag- en Nelson Mandela-tradisie gebalde vuiste vertoon. Die mate waarin die US reeds verengels het, blyk uit Engelse benamings wat op die webwerf in die Afrikaanse teks gebruik word, soos “Reaffirming Human Dignity March”, “2DO-program” en “BeWell-program”. Soos ek by vorige geleenthede uitgewys het, is daar deesdae talle verskynsels op die US-kampus wat Engelse name het, terwyl sulke eksklusief Afrikaanse name nie meer geduld word nie. Studente wat Engels is of probeer wees, moet glo welkom voel, terwyl Afrikaanse studente se sensitiwiteit vir hulle moedertaal klaarblyklik nie in dieselfde mate in ag geneem hoef te word nie.

Wanneer die militante feminis Amanda Gouws iets (oor ideologie) skryf, kan ‘n mens reken op ‘n linkse politieke inslag. Oorweeg wat sy oor die optog te sê het in die breër konteks wat ek hier in my teks skets. “Vrydag het personeel en studente ‘n optog by die Universiteit Stellenbosch gehou vir menswaardigheid en, onder meer, teen rassisme, seksisme en homofobie. Dit was ‘n sigbare gebaar teen die verdingliking van mense. Mans en vroue het aan die optog deelgeneem. Die vraag is hoekom meer mense nie deelgeneem het nie. Of is ons nie bereid om teen die monsters in onsself te veg nie?” (Die Burger, 9 deser, p 8).

Die optogorganiseerders het in Engels ‘n verklaring oor hulle versoeke en eise (“requests and demands”) uitgereik. Hulle verlang ‘n “Discrimination Policy … for both staff and students”, ‘n “Discrimination office” en ‘n “Discrimination officer”. Verder: “The current mechanisms in place have not been effective in addressing serious cases of discrimination in all its forms … We request the response from management within the next two weeks.”

Die gedienstige US-bestuur het spoedig ‘n bestuursverklaring uitgereik en daar is ook die genoemde berig op die US-webwerf gepubliseer. ‘n Viserektor, Arnold Schoonwinkel, het die versekering gegee “dat die US geen vorm van menseregteskendings, rasse-, geslags- of enige ander vorm van diskriminasie of aantasting van enige persoon se menswaardigheid sal verdra nie.” Dit gaan glo om “gelyke beregtiging vir almal … Omdat die US sy rol sien as belangrike veranderingsagent in Suid-Afrika, wat die omgewing skep waarin studente en personeel van alle agtergronde gedy, betreur ons dit dat onmenswaardige voorvalle soms ‘n skaduwee gooi oor jare se hard werk.”

Daar word dan uitgewei oor van die “inisiatiewe” waarmee die US reeds vorendag gekom het, soos “verbreding van toegang” (eintlik die verslapping van die toelatingsvereistes vir nie-wit studente), “fokus op bevordering van diversiteit … meng doelbewus plasing in koshuiskamers en versprei diversiteit doelbewus eweredig.” Met ander woorde, daar is aan die US, ooreenkomstig ANC-beleid, gedwonge rasse-integrasie. Die vryheid om, soos voorheen, jou koshuiskamermaat te kies, bestaan nie meer nie. Iedere US-student is teen wil en dank die slagoffer van (onnatuurlike) sosiale ingenieurswese/manipulering. Dit ressorteer onder “die voordele van diverse gemeenskappe.” Sodanige vermeende voordele word beklemtoon en nie nadele soos die onlangse verkragtingsgeval of dat akademiese werksaamhede (bv klasse en toetse) saans nie meer moontlik is nie. Dít ten spyte van enorme uitgawes om die veiligheidsituasie op die kampus te probeer verbeter. Die Woordfees het pas op Stellenbosch plaasgevind, maar die veiligheidsituasie is so bedenklik dat dit ‘n kontantlose fees was. Vir alles moet per kaart betaal word.

Dit is baie duidelik dat die optogorganiseerders en die US-bestuur veral blankes as sondebokke in hulle visier het. Gouws se monsters verwys ook eerder na wittes as nie-wittes. In werklikheid is blankes die tradisionele US-studente en wittes is ook die tradisionele inwoners van Stellenbosch. Blankes kan nie verantwoordelik vir die huidige verslegtende (bv misdadige en geweldadige) toestand op die kampus en in die dorp gehou word nie. Maar gestel ons aanvaar in hulle letterlike betekenis die bostaande mooi klinkende retoriek oor menswaardigheid, nie-diskriminasie, menseregte en gelykberegtiging vir almal. [Gelykberegtiging: “met dieselfde, ewe veel regte.” Geregtigheid: “hoedanigheid wat die mens in staat stel om reg aan ‘n ander te laat geskied; billikheid, regverdigheid” (HAT).]

Gelykberegtiging vereis dat blatante rassediskriminasie nie onder ‘n ander naam, bv regstelling/transformasie, aan die US voortgesit mag word nie. Dan moet studentetoelating en die toekenning van studiebeurse en koshuisplasings sonder inagname van bv ras (en geslag) gedoen word. In werklikheid word werwingsbeurse suiwer rassisties uitsluitlik aan nie-wit studente toegeken. (Matieland, 2014, p 9). In 2014 is “‘n addisionele R102.3 miljoen” vir hierdie doel bewillig (p 14). Die totale bedrag wat bestee word om nie-wit studente na die US te lok, moet dan astronomies wees. Dít terwyl die Botman-US geweier het om iets te make te hê met ‘n studiebeurs waaraan die erflater die voorwaarde gekoppel het dat dit aan ‘n blanke student toegeken moet word. Pleks van jaarliks miljoene der miljoene te bestee ter verswarting van die kampus en die dorp behoort die studiegeld eerder verlaag te word. Soos die geval op talle terreine is, word daar tans van blankes wat vir hulle onderrig betaal, verwag om noodgedwonge die studiegeld van nie-wittes te subsidieer. Is dit gelykberegtiging? Die US verkies om eerder naarstiglik Russel Botman se nie-akademiese, rassistiese “visie” na te jaag waarvolgens die US voor die einde van hierdie dekade ‘n oorwegend nie-wit universiteit moet wees. Wanneer ek deesdae op die kampus en in die dorp loop, vervul dit my met heimwee vir wat was en met afgryse vir wat is. (Maar dit geld eintlik vir die ganse nuwe Suid-Afrika.)

Verder behoort personeellede sonder inagname van ras en geslag aangestel en bevorder te word. Die US se advertensies mag dan ook nie meer lui dat voorkeur aan “die aangewese groepe” (dus nie-wittes en vroue) gegee word nie. Diegene in die akademie wat nie-akademiese norme soos ras en geslag gewetenloos aanhang, is myns insiens nie akademici in die ware sin van die woord nie maar bloot mense wat verkeerdelik akademiese poste beklee. Daar mag dan ook nie teen Afrikaanssprekende studente gediskrimineer word deur soos Schoonwinkel te redeneer dat alle klasse in Engels aangebied of getolk moet word, maar dat Afrikaanse studente nie noodwendig lesings in Afrikaans nodig het nie omdat hulle glo Engels goed genoeg verstaan.

Die US bepleit menswaardigheid net wanneer dit hom pas. Mensontering word op groot skaal gepleeg, maar blankes is die slagoffers, gevolglik kan enige beswaar wat daarteen geopper word as “rassisme” geëtiketteer word. Talle akademies uitnemende blankes se toekomsdrome word jaarliks verpletter, bv blankes met gemiddeld ‘n A-simbool in matriek word om suiwer rassistiese redes toelating tot mediese studie geweier, terwyl nie-wittes met ‘n C-simbool of swakker wel toegelaat word. In die geval van swart kandidate is daar reeds (onnodige) kompensasie in daardie C-simbool ingebou, bv omdat hierdie tans bevoordeeldes op skool nie in hulle moedertaal studeer het nie. Talle blankes met voortreflike akademiese rekords word deurlopend om suiwer rassistiese en seksistiese redes aan die US en ander universiteite aanstellings en bevorderings as dosente en navorsers geweier en (feitlik) geen haan kraai daaroor nie. Dit is ‘n mensonterende wanpraktyk wat terselfdertyd die akademiese gehalte van plaaslike universiteite (onherstelbaar) erodeer.

Blanke studente word aktief en doelbewus op die US-kampus ontheem deurdat geboue wat na eerbare blankes soos DF Malan, HF Verwoerd en BJ Vorster vernoem was, hernoem is. Dit word “visuele transformasie” genoem. Dit word gedoen omdat sulke benaminge glo (nie-wit) studente aanstoot kan gee. Terselfdertyd word name van ANC-aktiviste soos Beyers Naudé, Desmond Tutu en Russel Botman ingevoer as benaminge vir dele van die US. Dat sulke name aanstoot aan blankes kan gee, word glad nie in ag geneem nie. Ek sou eerder elders losies soek as om plasing in die koshuis Russel Botman te aanvaar. Ingelyks sou ek weier om te studeer of doseer aan ‘n universiteit wat die naam Nelson Mandela (uit eie erkenning ‘n vrot student) of Walter Sisulu (wat nooit op hoër skool was nie) dra. Albei was ANC-kornuite met hoë politieke profiele; twee mense wie se nagedagtenis aanstootlik vir minstens sommige blankes is.

Ek het egter nie beswaar om aan ‘n universiteit te studeer of doseer wat na Desiderius Erasmus (1469-1536) of Gottfried Wilhelm Leibniz (1646-1716) vernoem is nie, omdat sodanige name akademies tersaaklik en sinvol is. Die punt is dat daar in die huidige US-bestuur groot sensitiwiteit vir die gevoelens van nie-wittes en veral swartes is, maar daar is nie naasteby dieselfde sensitiwiteit vir die gevoelens van blankes nie. Polities korrekte afgode word aanbid. Ons bevind ons tans in ‘n groot era vir klein geeste.

Daar word deur die bestuur op die US-webwerf gepleit vir ‘n “oop gesprek”. Daar is geen twyfel dat enige linkse mens, bv kommunis, hetsy as bv student of dosent, welkom is om op die US-kampus te sê net wat hy wil nie. Maar geld dit ook vir regse politieke menings? Wanneer laas is ‘n regse mens toegelaat om die US-studente toe te spreek of as spreker by bv die Woordfees op te tree? Talle ANC-kornuite, insluitende kommuniste, is die afgelope twee dekades deur die US met die toekenning van eredoktorsgrade vereer. Wanneer laas is ‘n Afrikaner op ‘n soortgelyke manier vir sy bydrae tot Afrikanerkultuur of die Afrikaanse taal en letterkunde vereer? Daar is talle nie-polities betrokke Afrikaanse skrywers wat erkenning verdien, maar die US is ongeneë om hulle te vereer omdat dit nie die nuwe ANC-gedienstige US-beeld sal bevorder waarna so naastiglik gestreef word nie.

Op 1 April sal Wim de Villiers diens as US-rektor aanvaar. Sy uitgangspunt behoort te wees dat die US ingevolge Jannie Marais (8.09.1851-30.05.1915) se stigtingsdonasie en -voorwaarde eerder Afrikaans as Engels moet wees; ook omdat alle ander plaaslike universiteite deesdae eerder eentalig Engels as Afrikaans is. Maar is daar werklik enige hoop om te glo dat De Villiers die US gelykberegtigend op die pad van pro-blank, pro-Afrikaner en pro-Afrikaans sal probeer plaas? Sou hy bv ‘n beroep op US-studente doen om hulle magisterverhandelings en doktorale proefskrifte in Afrikaans te skryf? Sou hy by US-professore aanbeveel dat hulle hulle intreeredes in Afrikaans lewer? Sodanige hoop sal waarskynlik beskaam. Jannie Marais was immers blank en ‘n man en daarby is hy ‘n eeu gelede dood. Dit is kenmerkend van die huidige US-bestuur dat nog geen poging aangewend of aangekondig is om Marais vanjaar te huldig nie. Deur sy standbeeld (voorlopig) op die kampus te duld, is blykbaar die soort erkenning waarmee hy en sy geesgenote tevrede moet wees. By vanjaar se Woordfees is André P Brink gehuldig; nie Jannie Marais nie. Sal Die Burger hom verwerdig om vanjaar ‘n hoofartikel oor Marais se publiseer?

Die fundamentele vraag wat ek in die midde wil lê, is: Is daar by die huidige US enigsins sprake van werklike gelykberegtiging van blankes en veral van Afrikaners en Afrikaans? Die US het ‘n inrigting geword wat sekerlik meer pro-nie-wit as pro-wit is en hy is (daarom) ook meer pro-Engels as pro-Afrikaans. Hierby moet gevoeg word dat die US halsstarig voortgaan om al hoe meer sy tradisionele akademiese voortreflikheid in te boet weens sy oordrewe toepassing van regstellende aksie en sy sug na politieke korrektheid. Die resultaat is ‘n universiteit waarop egte akademici, asook doodgewone mense met gesonde insig, kwalik trots kan wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.