In hierdie rubriek het ek net so ʼn paar Afrikalande uitgesonder wat deel is van die AKS groep van lande, maar die hele lys is aansienlik langer. Ek het hieronder ‘n tabel opgestel, weereens nie volledig nie, wat mens ‘n redelike idee gee van die lande se sterk en swak punte.
Indien mens na die lys kyk, is dit duidelik dat al die lande wel iets het wat ekonomies nuttig kan wees, en in ʼn paar gevalle is dit meer as net nuttig. Die potensiaal bestaan vir Afrikalande om leiers op bepaalde gebiede te wees, maar dit blyk dat daar altyd die een of ander rede is dat Afrikalande hulp moet ontvang.
Mens kan net wonder met watter verwagtinge die nasies byeen gekom het in Ghana se hoofstad, Accra, en wat hulle beoog het om te bereik.
Die feit dat verskeie lande se ministers die ontwikkelingshulp nou op sowat 25% minder skat dink ek beteken nie veel nie, aangesien die oorgrootte meerderheid van die lande in elk geval nie die korrekte besteding uitvoer waarvoor die geld bekom is nie. En in dié gevalle waar die fondse wel reg aangewend word, is daar soveel probleme met korrupsie en ander onderduimse aksies dat niemand behalwe ‘n klein handjie vol mense vrug van die projekte pluk nie. Dit blyk die Afrikamanier te wees.
Landnaam In land se guns Probleme, nadele
Angola |
Yster, diamante, olie |
Probleme met menseregte skendings, korrupsie, smokkelary |
Botswana |
Diamante, minerale, toerisme |
Probleem dat bestaansboerdery steeds groot is in land, lae reënval, soms droogtes
|
Kameroen |
Ru-olie-produksie en -raffinering, kakaobone, koffiebone, aluminium, tekstiel, hout |
Probleme met korrupsie baie groot, bestaansboerdery steeds algemeen |
Sentraal-Afrikaanse Republiek |
Goud, uraan, diamante, ander minerale |
Siviele onrus, geweld tussen regeringsgroepe en rebellefaksies |
Tsjad |
Olie, tekstiel, sigarette |
Probleme met vlugtelinge vanaf Darfoer (Soedan), wisselvallige reënval. |
DRK |
Mynbou, diamante, koper, sink, ander minerale, kobalt, ru-olie, koffie |
Probleme met onstabiliteit, faksiegevegte, rebellegroepe, korrupsie |
Ivoorkus |
Sogenaamde vrye ekonomie |
Probleme met kinderslawe-arbeid wat weer toeneem, politieke onrus, faksiegevegte, rebelle groepe, onderdrukking van menseregte |
Kenia |
Bosbou, visserye en landbou, koffieverbouing, tee, toerisme, |
Probleme met regering en faksiegevegte, korrupsie, vervoerinfrastruktuur- probleme |
Namibië |
Myne, diamante, lood, sink, tin, silwer, wolfram, uraan, koper, vissery |
Ontoereikende landbou- potensiaal, mynbou te klein, toerisme is groot |
Nigerië |
Ru-olie-ontginning, landbou |
Probleme, onstabiliteit, regeringsmagte en rebellegevegte, sabotasie van oliepyplyne en platforms |
Swaziland |
Mynbou, steenkool, onverwerkte asbes, tekstiel- vervaardigings- bedryf |
Bestaansboerdery, hoogste MIV/vigssyfers in Afrika suid van Sahara |
Liberië |
Diamante, ystererts, rubber, hout, kakao, koffie |
Land is vernietig deur burgeroorlog |
Malawi |
Tabak, tee, suiker, katoen, koffie grondbone |
Uitvoerekonomie, baie vatbaar vir wisselinge elders in wêreld |
Mosambiek |
Toerisme, landbou, visserye |
Deur burgeroorlog vernietig, stadig weer besig om reg te kom |
Rwanda |
Koffie, tee, velle, tin erts |
Vernietig deur burgeroorlog, volksmoord, korrupsie, vloede |
Sierra Leone |
Diamante, kakao, koffie, vis |
Burgeroorlog, korrupsie, kinderslawe-arbeid, kindersoldate |
Somalië |
Lewendehawe, piesangs, vis, velle, houtskool |
Burgeroorlog, korrupsie, wetteloosheid, seerowery |
Soedan |
Olie en petroleum- produkte, katoen, sesamprodukte, suiker |
Geloofsonverdraagsaamheid, burgeroorlog, godsdiensoorlog, rebellegroepe teen regeringsmagte |
Zimbabwe |
Katoen, tabak, goud, tekstiel produkte, magnetiese en nie-magnetiese allooie |
Korrupsie, magsvergrype, volksverhongering, onverdraagsaamheid teen minderheidsgroepe |
My siening is dat indien die lande daar byeengekom het om hulle armoede aan die wêreld voor te hou as bewys dat hulle gehelp moet word, die wêreld net so entjie wyer kan kyk as hulle redes wil sien hoekom die lande níé gehelp moet word nie. In die bostaande kolomme is reeds heelwat bewyse, as mens dit so wil stel.
Daar is heelwat lande hierbo met swak en korrupte regerings, rebellefaksies wat teen regering veg, geloofsonverdraagsaamheid, kindersoldate, kinderslawe-arbeid, etniese onverdraagsaamheid. So kan die lys voortgaan, (en ek het probeer om bondig te wees).
Wat wel opvallend is omtrent bogenoemde lande is dat almal wel iets het wat hulle tot eie ekonomiese voordeel kan aanwend, maar ek dink die een ding wat grootliks by die swart Afrikaan ontbreek, is die wil om vir homself iets te doen.
As mens so kyk, is mynbou en landbou twee bedrywe wat redelik wyd oor die lys versprei is.
Hoewel vele van die nasies nie totaal onafhanklik van handel kan wees vir hulle voortbestaan nie, is hulle nou so erg afhanklik van buitelandse hulp dat hulle daarsonder seker totaal in die verderf sou verval.
Maar ek dink dat baie van die nasies tesame met andere ook vir hul eie ondergang te blameer is. My redes daarvoor is soos volg.
Dit het begin met kolonialisering wat gelei het tot Westerse invloede. Dit het later uitgebrei na mediese dienste wat tot gevolg gehad het dat die bevolkings gegroei het teen ‘n hoë tempo wat vroeër of later ‘n katastrofe sou afgee wat nou met ons is. Dit is redelik eenvoudig dat ‘n sekere stuk grond net soveel mense kan dra, wat voedselvoorsiening. betref Die voedsel voorsiening deur die VN en ander organisasies oor dekades het verder gehelp om die groter komponent van die AKS -ande verder te verswak, in dié opsig dat hulle geleer het om afhanklik te wees van voedselhulp in pleks daarvan om dit self te verbou.
Die een ding wat baie Afrikalande nie wil doen nie, is die aanpassing by die Westerse manier van doen, maar hulle verwag steeds om soos die Weste te lewe. Steeds is daar die geneigdheid om soos die voorgeslagte onder ‘n boom te wil sit en dagdroom van groot troppe beeste en ‘n kraal vol vroue, maar aan die ander kant is die Afrikaan nie bereid iom te werk vir dit wat hy wil hê nie. Hulle smag na alles wat Westers en blink is, maar vergeet dat anders as beeste, geld nie net in ‘n bank lê en aanteel nie. Dit moet op die een of ander manier verdien word.
Mens kan nie hoop om ‘n eerstewêreldland te word terwyl jy derdewêreldse gewoontes aankleef nie. Die twee dinge is net nie versoenbaar nie.
Dit is nou maar net soos Afrika en sy geesgenote is. Hulle dink dat die wêreld hulle ‘n lewe skuld, terwyl hulle eintlik niks gedoen het daarvoor nie.
Dat die verlede wel bevlek is met donker dade, soos slawehandel en ander vorme van stropery is ongetwyfeld so, maar siende dat daardie praktyke lank reeds gestaak is, dink ek nie dat die Weste die lande enigiets meer skuld nie, gegewe ook die kolassale bedrae hulpgeld wat sedertdien deur die Weste aan Afrika bewillig is.
Wat mens wel waarneem is dat hoewel astronomiese bedrae geld in die lande gestort word by wyse van ontwikkelingshulp, dit geen beduidende verskil gemaak het aan die omstandighede daar nie. Dan begin mens later wonder hoekom die Weste die moeite doen om miljarde dollars en ponde in ‘n bodemlose put in te smyt.
Dit wil voorkom asof die mense wat op die vergadering byeen gekom het van een belangrike beginsel vergeet het: “Welsyn begin by die huis", soos die Engelse spreekwoord lui.
Indien hulle gedink het dat die eerstewêreldlande hulle eie bevolkings gaan laat krepeer, net om verder geld te mors op ‘n hoofsaaklik ondankbare stuk grond wat ryklik bedeeld is met minerale, landbougrond en water, alles wat hy nodig het om ‘n leier op die gebied van mynbou, olievoorsiening, landbou en vissery te wees, moet hulle weer dink. Ek dink die dae van onbepaalde welwillendheid en gaafheid is vir eers verby.
Die middele in Afrika is daar, en die lande het meer in die vorm van ontwikkelingshulp gekry as enige ander wêrelddeel. Maar steeds kan hulle net nie op hul eie voete staan nie. Waar daar wel suksesverhale is, is dit normaalweg gevalle waar blankes vanaf Westerse lande die organisasies bestuur en beheer. Nou kan ek net begin wonder daaroor. Is dit omdat hulle nie wil nie of omdat hulle nie kan nie?
Sover het ek opgemerk dat as mens daagliks saam met iemand werk in ‘n beroep, dan begin mens tog om iets van die werk te leer, en hoe langer mens daar werk en leer, hoe meer begin mens van die betrokke veld te wete kom. Dus wil ek glo dat dieselfde beginsel vir ander mense ook gelc. Maar dit blyk dat die Afrikaan die uitsondering op die reël is.
Die aangeleerde hulpeloosheid, tesame met sy armoede, blyk al te wees waarop hy hom kan roem, niks meer nie en niks minder nie. Soos David Bullard gesê het, die Afrikaan soek iets of iemand om te blameer vir sy ellendes.
Nóg die lewe , nóg die Weste skuld die Afrikaan iets. En hoewel die Weste tog dink dat hy die een of ander gewetenskuld teenoor swart Afrika het, dink ek dat daardie gewete tog met tyd kan opdroog, soos wat ekonomiese toestande op eie bodem begin versleg.
Die Suid-Afrikaanse adjunkminister vir handel en nywerheid, mnr. Rob Davies, het die stelling gemaak dat dit nie reg is dat die kleiner lande moet betaal vir die foute van die wêreld se ryker lande nie.
Ek wil dit hier stel dat die ryk lande baie lankal reeds vir hulle eie foute betaal en dat hulle nou dalk op ‘n punt kom waar hulle nie meer veel verder kán betaal nie. Hulle het aan die begin probeer help, en op dié manier betaal, deur die bevolking aan beter gewoond te maak as waartoe hulle self in staat is. Daarna het die betaling aangehou deur geld in ontwikkeling in te pomp vir mense wat duidelik nie genoeg omgee om ontwikkel te word nie.
Indien daar iets is wat die Weste aan Afrika skuld, is dit die geleentheid om op sy eie voete te staan, en dit kan net op een manier bewerkstellig word. Hoe hard dit ook al mag klink, die regte ding om te doen is om die kontinent aan sy eie genade oor te laat en hulle te forseer om weer selfonderhoudend te raak. Dit is dalk die enigste manier om ’n kontinent met soveel potensiaal van totale ondergang te red.
Dit sal aan die begin absolute rampspoed en teenspoed veroorsaak, maar mens leer op jou vinnigste as die magie aan die rugstring begin vasklou. Dit is daardie gewaarwording van honger wat mense se grysmassa soms die nodige hupstootjie gee om weer te begin werk.
Wat die lande se ministers nie aan dink nie, is dat hulle doen en late redelik fyn deur die wêreld dopgehou word, en dit is dalk iets wat nou teen hulle begin tel. In baie van die lande is die regerings wat aan bewind is nie so heel demokraties verkose as wat hulle die res van die wêreld wil laat dink nie. ‘n Goeie voorbeeld is ons liewe buurman, Zimbabwe.
Die regering van nasionale eenheid is klaarblyklik in die proses om daargestel te word, maar sover dit die finale samestelling van die sogenaamde regering betref, blyk dit dat die proses een lang uitgerekte saak gaan word, wat waarskynlik ten doel het om die MDC te ontmoedig en op dié manier uit sy plek in die regering te hou. Die eindresultaat is natuurlik aan ons almal te bekend, hernude uitbraak van geweld en onderdrukking van opposisiepartylede onder onmenslike omstandighede. Hoewel dit tans redelik stil is daar, is die uitbreek van burgeroorlog nog glad nie uitgesluit nie.
Daar word ook van kleiner lande gepraat wat veral kwesbaar is met die nuwe verwikkelinge op internasionale markte, en as voorbeeld kan ek Swaziland hier ophaal. Dis ‘n klein koninkrykie waar die bevolking met die minimum moet klaarkom, terwyl hulle koning in weelde woon met ‘n horde vroue wat onlangs op ‘n inkopie-uitstappie gegaan het na die buiteland. Dit is redelik duidelik dat die koning net so nou en dan die regte geluide maak asof hy sou omgee vir sy volgelinge, maar tussenin net aan homself dink. Verder kan mens byvoeg dat die land vanjaar minder grond as ooit bewerk het vir landbou, terwyl hulle krepeer van honger en met een van die hoogste MIV/vigs syfers ter wêreld sit.
Ek is natuurlik ook van mening dat Mauritius se minister wat vir die klein lande opgekom het liewer nie te veel moet sê nie. Volgens ‘n verslag wat oor dwelmhandel gaan, is Mauritius ver van skoon as dit kom by dwelmhandel, en die logiese nadraai daarvan, geldwassery. Want wat is ‘n makliker manier om geld “te was” as om dit in gebou,e vakansieoorde en dies meer te belê? Verskeie dwelmsindikate is ook werksaam in Mauritius, en tot hulle daar skoongemaak het, het hy nie te veel om te sê rondom balke in ander sê oë nie.
Mnr. Rob Davies se stelling dat die groot moondhede vinnig geld kan kry om hulle kwynende ekonomieë te red, verbaas my. Wat wil hy hê moet hulle anders doen as om dít wat hulle oor jare opgebou het te red ? Dit is die enigste opsie wat enige regdenkende land sou oorweeg, maar dit wil voorkom asof die liberale Afrika-mentaliteit hom ook al platgetrek het.
Ek dink dat as die AKS-lande hulle asems ophou vir verhoogde beloftes van ontwikkelingshulp, hulle in is vir ‘n groot verrassing; dit sal nie vinnig gebeur nie. Die teendeel, dat die beloftes van hulp kleiner mag word soos wat vele ministers op die byeenkoms vrees, is ‘n baie meer realistiese verwagting.