Die Mantsopa-plaaslike munisipaliteit in die ooste van die Vrystaat het uitgevaar teen die Ekonomiese Vryheidsvegters, nadat hulle inwoners aangemoedig het om grond onwettig te beset.
Dit volg nadat sowat 300 onwettige grondbesetters Dinsdag in die Marikana-informele woonbuurt by Ladybrand verwyder is, het RSG berig.
Die grondbesetters, wat pensioentrekkers en gestremdes ingesluit het, se hutte is deur ‘n stootskraper platgestoot.
Die EFF het na bewering T-hemde aan die grondbesetters uitgedeel en hulle aangemoedig om die munisipaliteit se hofbevel te verontagsaam.
Die burgemeester, Dennis Tsepe het die EFF daarvan beskuldig dat hulle kwesbare groepe gebruik om politieke punte aan te teken.
Die Menseregtekommissie het vroeër gesê die munisipaliteit moes alternatiewe verblyf aan kwesbare groepe beskikbaar gestel het, voordat hulle uitgesit word.