Eskom-skorsings veroorsaak skokgolwe

Deel op

In reaksie op die skorsing deur die voorsitter van die Eskomraad, het graderingsagentskappe hul “kommer” oor die gebrek aan bestendigheid van kragvoorsiening te kenne gegee.

Die voorsitter van die Eskomraad, Zola Tsotsi het aangekondig dat die kragverskaffer se uitvoerende hoof, Tsediso Matona, en nog drie uitvoerende hoofde Donderdag geskors is.

Suid-Afrika gaan tans onder ‘n kragkrisis gebuk weens Eskom se beroerde bestuur, oorbodige uitgawes en swak beplanning. Eskom stuur daarbenewens ook op ‘n finansiële krisis af.

Die Minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, het intussen bevestig dat sy die skorsings by Eskom goedgekeur het.

Brown sê die President en sy adjunk is oor die besluit ingelig. Brown sê sy is vol vertroue dat die ondersoek na Eskom sal help om al die vrese oor die bestuur van die kragverskaffer te besweer.

Opposisielede eis dat Eskom se vorige raadslede en uitvoerende hoofde ingesluit word by die ondersoek weens “historiese probleme” by Eskom wat ondersoek moet word.

Die vakbond NUM het die skorsing van vier uitvoerende beamptes gekritiseer. Die vakbond is ontevrede dat hulle nie geraadpleeg is nie.

Die NUM het gesê hy sal enige omkeerstrategie steun wat verseker dat die stemme van die werkers deur die maatskappy ter harte geneem word.

Die NUM se hoofsekretaris, Frans Baleni, het die skorsings as skokkend bestempel, en gesê die raadsvoorsitter, Zola Tsotsi, is in ‘n onbenydenswaardige posisie geplaas.

Volgens Baleni beteken die skorsings dat die bestuur ineengestort het. Hy sê hulle sou verwag het dat die voorsitter van die Raad van Eskom eerder in die pad gesteek moes gewees het.

Die ondersoek sal fokus op die swak prestasie van aanlegte, vertragings in die totstandkoming van die nuwe generasie aanlegte, die hoë koste van energie-opwekking en kontantvloeiprobleme.

“Ek glo dat hierdie krisis en die skorsings by Eskom het alles te doen met massiewe kostes en tydsoorskryding by Medupi, Kusile en Ingula,” het die energiedeskundige Chris Yelland getwiet. “Suid-Afrikaners moet hulleself gereed maak vir aankondigings deur die Eskom-raad oor ‘n massiewe verdere koste-oorskryding by Medupi en Kusile in die dae wat voorlê.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.