Noodsamesprekinge oor hervormings wat nodig is om Griekeland se ekonomiese reddingsplan te verleng, is Woensdag in Brussel gehou. Intussen het die nuwe regering in Athene geswoeg om genoeg kontant bymekaar te skraap om die res van die maand te kan oorleef.
Die Europese Kommissie, die uitvoerende eenheid van die EU, het volgens AFP bevestig dat die onderhandelings in Brussel begin het, maar het geen besonderhede oor die inhoud of deelnemers verstrek nie.
“Ek kan bevestig dat tegniese onderhandelings met deskundiges en Griekse owerhede en internasionale vennote begin het, wat deur onderhandelings in Athene verder ondersteun sal word, het die kommissie se woordvoerder, Mina Andreeva, gesê.
“Dit is baie belangrik dat hierdie tegniese onderhandelinge plaasvind in ’n kalm en polities-neutrale atmosfeer, sodat daadwerklike stappe gedoen kan word, het sy gesê.
’n Griekse regeringsbron het gesê onderhandelinge sou twee dae duur met die doel om die regte “raamwerk te vind oor hoe om voort te gaan.
“Die instansies’ soek spesifieke data, en dit is wat hulle sal kry, het die bron gesê, met verwysing na die Griekse regering se benoeming van die Troika-groep krediteure – die kommissie, die Europese Sentrale Bank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).
Griekeland se eurosone-vennote het verlede maand ooreengekom om die land se reddingsplan tot Junie te verleng, in ruil vir hervormings, hoewel die uitbetaling van die volgende porsie van sowat 7 miljard einde April afhang van ’n oorsig van hervormingsplanne.
Griekeland moet hierdie maand 6 miljard betaal om skuld te delg, wat 1,5 miljard aan die IMF insluit.
Volgens verslae wat gister vrygestel is, het die linkse regering van eerste minister Alexis Tsipras oorweeg om pensioenfondse te gebruik om staatsamptenare se salarisse te betaal terwyl onderhandelinge met die troika voortgaan.