Geweld het in Ladybrand uitgebreek in die Oos-Vrystaat.
Die Manyatseng-lokasie in Ladybrand is in rep en roer nadat honderde huise, wat volgens die munisipaliteit onwettig opgerig is, deur die Rooi Miere afgebreek is.
Inwoners het hulle teen die uitsettings verset.
Die voorsitter van die Mantsopa Inwonersvereniging, Kaye Durant, sê die uitsetting, deur die Rooi Miere, moes onderbreek word toe die Manyatseng-gemeenskap gewelddadig geraak het.
Die Rooi Miere het later egter teruggekeer, vergesel deur die polisie, en het voortgegaan met die uitsetting.
OFM-nuus se verslaggewer op die toneel sê so ver die oog kan sien, is daar net sinkplate, pale en bourommel en tekens van buitebande en hout wat gebrand het.
Honderde mense sal sonder ‘n dak oor hul kop moet klaarkom.
Durant sê tans is dit ‘n hele oorlog. Verskeie buitelanders se ondernemings word geplunder, daar is by skole ingebreek, twee wyksraadslede se huise is afgebrand en skoolkinders dwaal sonder toesig rond weens die geweld.
Polisiemagte moes versterkings van Harrismith, Ficksburg en Bethlehem inroep om te help om die gewelddadige gepeupel onder beheer te hou.
Volgens Durant is ‘n Pakistani sake-eienaar beseer tydens die plundering wat plaasgevind het by sy winkel en is na Bloemfontein geneem vir dringende mediese sorg.
Die munisipale woordvoerder Mohlomi Mokoatsi sê die munisipaliteit het gelas dat die uitsettings voortgaan.
Volgens onbevestigde berigte is drie mense geskiet en gewond deur rubberkoeëls.