Nabetragting oor Majuba-byeenkoms

Deel op

Watter rol speel die geskiedkundige veldslag by Majuba op 27 Februarie 1881 vandag? Dié vraag hou my nogal besig ná verlede naweek se Majuba-byeenkoms wat deur ‘n beraamde 2000 mense bygewoon is (sien foto’s hierby).

Saterdagoggend het ek die Majuba-berg saam met honderde ander Majuba-gangers uitgeklim. Bo-op die berg is ‘n groot klomp Engelse soldate wat tydens die veldslag gedood is (slegs ‘n enkele Boer of Afrikaner het gesneuwel) begrawe, terwyl die plek waar die Engelse bevelvoerder, generaal Colley, getref is met ‘n wit kruis gedenk word.

Een van die massagrafte vir Britse soldate bo-op die berg
Een van die massagrafte vir Britse soldate bo-op die berg

Nadat ‘n groep studente van die cantus-gildes van Tukkies en die PUK in 1981 begin het om die berg jaarliks te besoek, neem die saamtrek jaarliks in getalle toe. Dis veral jongmense wat Majuba toe kom en die hele byeenkoms gee die gevoel van ‘n Voortrekkerkamp soos wat baie Afrikanerkinders steeds gereeld meemaak.

Vele vlae wat regdeur ons geskiedenis van 363 jaar in die land gebruik is, is deur die perdekommando tydens Saterdagoggend se vlaghysing vertoon. Daar was selfs drie ossewaens met bewaringsgeesdriftiges wat in periodekostuums selfs in die waens geslaap en gekampeer het. Noem dit jou 1836-model-karavaan!

Elke moontlike vlag wat ons deur die geskiedenis al gebruik het, is deur die perderuiters vertoon, met my gunsteling, die Prinsevlag, heel regs
Elke moontlike vlag wat ons deur die geskiedenis al gebruik het, is deur die perderuiters vertoon, met my gunsteling, die Prinsevlag, heel regs

Soos iemand teenoor my opgemerk het: “Majuba is vir ons oorwinningsgrond.” Afgesien van Bloedrivier en Magersfontein, is daar seker nie nog ‘n plek waar ons ons vyande so oortuigend verslaan het soos by Majuba nie. Wat die huidige Mujuba-terrein ook uniek maak, is dat dit volkome in privaatbesit (of dan volksbesit) verkeer in die vorm van die Majubatrust. Die plaas met die berg was voorheen in die hande van die Ossewabrandwag en daarna die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O., tans bekend as die Noordwes-universiteit. ‘n Mens sidder by die gedagte aan wat die huidige swart, Engelssprekende rektor, Dan Kgwadi, met Majuba sou aangevang het indien dit nie in 2002 deur die trust vir ‘n bedrag van R300 000 aangekoop is nie. Blykbaar het 300 Afrikaners elkeen R1 000 geskenk om Majuba te bekom en dit toon in watter mate ons tog kan “saamstaan” as dit belangrik is.

'n "Britse soldaat" bo-op die berg
‘n “Britse soldaat” bo-op die berg

Soos die bestaan van Finland moontlik gekenmerk word deur die Finne se eeue lange stryd teen die Swede en Russe, dra ons geskiedenis die letsels van ons konstante gevegte met Engeland. So onlangs as die tweede wêreldoorlog moes die klein Finse volk nog 93 000 soldate in gevegte met Russe afstaan.

Die plek waar generaal Colley doodgeskiet is
Die plek waar generaal Colley doodgeskiet is

Weliswaar word ons nie meer deur Groot Brittanje beset nie, maar Engeland is konstant in ons land teenwoordig deur middel van die Engelse taal, die British Council en die Britse media wat steeds ‘n propaganda-oorlog teen ons voer al is ons tans magteloos en verdruk.

Selfs die Kasteel in Kaapstad is aanvanklik deur die V.O.C. gebou om ons land teen ‘n Engelse aanval te verskans. Die teurreur van die 1980’s sou ook nooit plaasgevind het as Brittanje nie radikale Engelstalige “Suid-Afrikaners” gehuisves en hulle deur Swede laat befonds het nie.

Vandaar dus die betekenis van Majuba: ‘n plek waar ons die Engelse op hul baadjie gegee en vir twee goue dekades daarna in die Transvaal onafhanklikheid gesmaak het. Mense besef nie vandag watter geweldige oplewing daar op alle gebiede tussen 1881 en 1899 onder ons mense plaasgevind het nie: polities, ekonomies én kultureel. Sonder die steun van Kruger vir ‘n Nederlandstalige staatsdiens en onderwys, sou daar vandag geen Afrikaanse taal gewees het nie. Die mees aktiewe Kaapse taalstryder, S.J. du Toit, het ook tussen 1882 en 1888 as superintendent van onderwys in die Z.A.R. diens gedoen.

Die ossewaens met die misbedekte berg in die agtergrond
Die ossewaens met die misbedekte berg in die agtergrond

In sy mooi toespraak op Saterdag 28 Februarie, het mnr. Andries Breytenbach verwys na Majuba as “simbool van vryheid” wat soms deur die mis bedek word, maar ander kere weer helder in die sonlig skitter. Die vorm van Mujaba wat vaagweg soos ‘n paramide daar uitsien, vertoon daarom ook ‘n ooreenkoms met die Voortrekkermonument in Pretoria. Soos hy dit gestel het:

Daardie berg staan vas en geen mensehand kan dit uitwis nie.

Anders as byvoorbeeld die Taalmonument in die Paarl wat tans vir ANC- polities korrekte doeleindes misbruik word, kan Majuba as natuurlike berg nie sonder meer “oorgeneem en getransformeer” word nie. Selfs die Voortrekkermonument mag in die toekoms deur die ANC of SAKP steen vir steen afgebreek word, maar Majuba as “natuurlike piramide” en simbool van ons oorwinning sal vir altyd bly staan.

Vandat ek in Egipte was, word ek soveel te meer deur piramides geboei. Die piramide is naamlik ‘n soort teken van Afrikabeskawing, selfs die geboorteplek van die Mediterreense beskawing wat later op die Europese sou uitloop. Ek verstout my om te dink dat die Afrikanerbeskawing van Suid-Afrika en die Egipties/Griekse beskawing van Noord-Afrika die enigstes is wat ooit op dié vasteland geskep is en ‘n groot opbloei beleef het. Tussen die Voortrekkermonument, Majuba en die piramides van Egipte strek vier tot vyf duisend jaar se geskiedenis, waartydens die stryd teen barbarisme, dekadensie en verval byna konstant gewoed het. Van die magtige Rome, wat ook eens oor Noord-Afrika geheers het, het daar niks oorgebly nie!

Hoewel die jaarlikse Majuba-fees vergeleke met ander volksfeeste reeds ‘n byna ongekende sukses geniet, is daar nog ruimte om byvoorbeeld die hoeveelheid kulturele aktiwiteite daar uit te brei. Vrydagoggend het ons ‘n slypskool vir opstelskrywers op hoërskool aangebied. Die GHA reël vanjaar ‘n opstelkompetisie vir skoolleerlinge met een van twee temas om van te kies: “Slagtersnek” of “Afrikaans 90”. Sodoende word ons kinders aan die dink gesit oor ons geskiedenis en ons taal. Hulle kry die geleentheid om hul eie navorsing te doen en daaroor te besin.

Daar het ook Saterdag 28 Februarie ‘n skyngeveg tussen Boere en Engelse plaasgevind, waaraan ‘n Engelstalige vereniging van Johannesburg deelgeneem het. Oral in die kamp en teen die hange van die berg het ‘n mens veral “Britse soldate” in volle rooi mondering teëgekom, waarvan die meeste baie goed Afrikaans kon praat! Daar was egter ook heelwat mense in deftige Boeredrag met spesiaal gemaakte bandoliere wat deur ‘n leerwerkster van Pretoria, Biani Grune, van BG Leerwerk met die hand gemaak word. Sy het heel naweek fluks sake gedoen, ook met meer gewone gordels en swepe wat deur omtrent elke kind op die terrein aangekoop is.

Ons het ‘n PRAAG-stalletjie beman en ek het persoonlik ‘n hele paar van ons boeke verkoop, hoewel ons net drie titels saamgeneem het: die Paul Kruger-biografie, Negrologie en Kreeftegang. Dis vir my ‘n riem onder die hart om te weet dat nog mense só aan ons PRAAG-boeke, waaronder geskiedenis, vertalings en letterkunde, blootgestel kon word.

Met die sensuur en Grootbroerbeheer wat daar deesdae op kampusse en toenemend by ander monumente (soos die Taalmonument?) toegepas word, kan Majuba dalk ook vir simposia, literêre skryfskole en ander aktiwiteite gebruik word. Ná alles, en solank die terrein deur die trust besit word, verteenwoordig dit reeds ‘n stukkie “bevryde grondgebied” waar ons oor die hede en die verlede kan besin, maar ook die Afrikaanse kultuur kan bevorder noudat hy staatloos geraak het.

Die uitsig bo van Majuba af
Die uitsig bo van Majuba af

Om bo van die berg af na die piepklein kampeerterrein en herberg van Majuba te kyk, is ‘n ervaring wat die uur se steil stap bergop die moeite werd maak.

Majuba, wat in Zoeloe “plek van die duiwe” beteken, is regtig vrye Afrikanergrond wat deur ons almal benut behoort te word om die huidige Afrikaanse beweging tot groter en groter hoogtes te laat vorder, ampers soos ‘n mens die berg self bestyg. Dis nie te ver van Pretoria en die Rand af nie en ook van die Vrystaat af bereikbaar. Die berg en omgewing is asemrowend mooi en op Volksrust is daar blykbaar verskeie gastehuise ook vir diegene wat meer gerief verkies as om te kampeer of in die herberg te oornag.

Wat van ‘n PRAAG-naweek op Mujaba? Of dalk moet ons van ons buitelandse vriende ook aanstaande jaar op 27 Februarie saamnooi dat hulle ‘n Afrikaner- patriotiese byeenkoms in sy volle glorie en hartlikheid kan ervaar?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.