Moenie Afrikaans die skuld gee

Op bladsy 6 van ​Die Burger van 3 Maart word prof. Wannie Carstens aangehaal as sou hy gesê het: “Ons moenie vergeet dat Afrikaans baie foute in die verlede gemaak het nie.”

Ek hoop van ganser harte dat hy verkeerd aangehaal is of dat dit nie is wat hy eintlik wou sê nie. As dit egter korrek is dat hy dit gesê het, moet ek, met alle respek aan my vriend en oud-Taalkommissie-kollega, sê dat dit die louterste onsin is. Die taal Afrikaans kan nie “foute maak” nie.

Dit is juis sulke stellings – veral komende van iemand wat vanweë sy (in die berig genoemde) verbintenis met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat reeds meer as ’n eeu lank Afrikaans bevorder en help standaardiseer, en vanweë sy publikasies, hoogleraarskap en gereelde radio-onderhoude deur ’n groot deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap waarskynlik as ’n gesaghebbende beskou word – wat meehelp dat die “gemeenskap . . . sy vertroue in die taal verloor het”.

As ’n mens so ’n beskuldiging wil maak, moet jy die baba op sy naam noem. Sê dan dat dit die SA Akademie deur sy optrede of sy Taalkommissie deur sy wyse van standaardisering van die ortografie van Afrikaans in die 10 verskene uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls was. Of dalk was dit die taalstryders van ouds, of die eertydse NP, of die destydse Afrikaner-Broederbond of al die wit Afrikaanssprekendes wat al die vermeende foute gemaak het. Of die FAK of die ATKV of woordeboekmakers of terminologieskeppers. Wie ook al die foute sou gemaak het waarna die polities korrekte vingers deesdae so dikwels gewys word, noem hulle, maar moenie die taal die sondaar maak nie. Of was dit altemit Engels wat die vroue en kinders en bejaardes (van watter ras ook al) tydens die ABO in die konsentrasiekampe laat sterf het? Of Duits wat die Sjoa gepleeg het? Of Frans wat in die Napoleontiese oorloë Rusland binnegeval het? Of Arabies wat gyselaars onthoof?

Dit is tog onsin. Dit is mense wat ’n bepaalde lewensbeskouing het of ’n bepaalde beleid aanhang of bepaalde doelstellings het en toevallig ’n taal soos Afrikaans, Engels, Duits, Frans of wat ook al praat wat die “foute maak”. En dalk maak hulle foute in of met of ten opsigte van die taal, maar dit is gewis nie die taal se foute nie.

Gelukkig weet ek dat Carstens waarskynlik nie bedoel het wat hy glo gesê het nie; maar mense met sy agtergrond moet hul woorde dalk ’n bie­tjie beter tel. Afrikaans as volwaardige kultuurtaal is onder genoeg druk om nog die skuld gegee te word vir foute wat mense wie se (moeder)taal dit is, dalk gemaak het.

Tom McLachlan, Onrusrivier

McLachlan is ‘n vorige ondervoorsitter van die Akademie se Taalkommissie

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.