Kritiese besinning oor die nuwe direksie van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument

Op 19 Februarie het Jacques van der Elst, die uitvoerende hoof op die Afrikaanse Taalraad (ATR), op die ATR-webtuiste die nuwe direksie van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) aangekondig: “In ‘n onverklaarbare stap het die Minister van Kuns en Kultuur ‘n Engels-dosent van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie benoem om die leiding te neem as voorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Hy is prof Mashudu C Mashigo [soms Mashige gespel, bv op die ATM-webwerf] wat op die oomblik waarnemende dekaan is vir Onderwys en Opleiding by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie en ‘n doktorsgraad in Engelse letterkunde het.”

Die ander benoemde raadslede is: Wannie Carstens, M A B Nyamende, Steward van Wyk, Elvis Saal, Janis Grobbelaar en Donovan Lawrence. Die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, benoem dié raadslede omdat die ATM finansieel afhanklik van ‘n staatsubsidie is. Die ANC-regering is gevolglik in die posisie om ruim misbruik van sy mag te maak en sy ideologiese voorkeure in ruil vir belastingsgeld aan sulke instansies op te dring. Dit gebeur bv ook aan al die plaaslike universiteite. By universiteite is die sondebok Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys. Nzimande is egter nie verantwoordelik vir die ATM-vergryp soos verkeerdelik berig is in die Netwerk24-berig van 22 Februarie nie. Hieronder volg ‘n paragraaf oor elk van die ATM-raadslede. Ek vul Van der Elst se verklaring aan uit internetbronne, insluitende die genoemde Netwerk24-berig.

Uit Mashudu Mashigo se geskrifte blyk sy pro-swart- en anti-apartheid- (wat dalk kan verbreed tot anti-blanke- en veral anti-Afrikaner-) gesindheid. Hy dui die tale wat hy magtig is aan as Engels en vyf Afrika-tale; nie Afrikaans nie. ‘n Vraag wat hom voordoen, is: Op grond waarvan is Mashigo as voorsitter van die ATM-raad benoem? Nog ‘n vraag is: Gaan die voertaal van die ATM-raad voortaan Engels wees? Dat dit geen hersenskim is nie, blyk uit die feit dat Mashigo se eerste kommunikasie met sy mede-raadslede in Engels was. Net ‘n grootliks merietelose regering soos die ANC kan so ‘n verregaande sotlikheid bewimpel. By die ANC is daar geen werklike sensitiwiteit vir die Afrikaner en Afrikaans nie. Dit bring mee dat die ANC se periodieke oproepe om versoening van skynheilige valsheid drup.

Wannie Carstens het sy status as raadslid behou. Die rede is nie ver te soek nie. Hy het in sowel die ATM- as ATR-raad gedien. Sy uitgangspunt is polities en nie-taalkundig. Hy strewe daarna om versoening in die nuwe Suid-Afrika te bevorder; nie om in die eerste plek en kompromisloos die heil van Afrikaans te bevorder nie. Hy is ‘n Afrikaans-dosent aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Carstens is die enigste blanke Afrikaanssprekende man in die ATM-raad, heel moontlik weens sy Damaskus-ingesteldheid. Dit veroorsaak dat hy die rol van nie-wittes in Afrikaans oorbeklemtoon en dié van Afrikaners (asook Nederlanders, Duitsers, Franse, ens) verswyg of onderbeklemtoon. Sy jongste uitlatings (Die Burger, 3 deser, p 6) is sorgwekkend. “Ons moenie vergeet dat Afrikaans baie foute in die verlede gemaak het nie. Ons sit met ‘n gemeenskap wat sy vertroue verloor het in die taal.” Het Afrikaans foute gemaak, of sekere mense? Maar let op Carstens se invalshoek: nie wat in en met Afrikaans tot stand gebring is nie, maar watter foute begaan is. Hy fokus ook nie op diegene wat Afrikaansgetrou is nie, maar op “‘n gemeenskap” (klaarblyklik die bruines) waarvan die opperlaag uitmunt in dislojaliteit teenoor Afrikaans. “Die dae van kragdadigheid is verby.” Carstens sou sonder gewetenswroeging ingepas het by die Nasionale Party se onderhandelingspan deur toe te gee aan elemente wat geweld, dreigemente van geweld en verswelging gebruik het om hulle doel te bereik. Ons kan dankbaar wees dat die leiding by die Slag van Bloedrivier nie aan Carstens toevertrou is nie. Daar is geen heil in ruggraatloosheid nie; sekerlik nie in taalsake nie.

Abner Nyamende is ‘n afgetrede dosent in Afrika-tale aan die Universiteit Kaapstad. Daar is niks wat daarop dui dat hy ‘n bydrae tot die heil van Afrikaans kan lewer of selfs dat hy Afrikaans goedgesind is nie. Dit is heel moontlik dat die twee swart swartes in die ATM-raad, Mashigo en Nyamende, sal veroorsaak dat die ander vyf raadslede (wat almal Afrikaanssprekend of ten minste Afrikaansmagtig is) welwillend en gelate (dus nie-kragdadig en versoenend) sal aanvaar (ooreenkomstig die algemene gebruik in die nuwe Suid-Afrika) dat daar voortaan op raadsvlak in Engels oor die Afrikaanse Taalmuseun en die Afrikaanse Taalmonument geskryf en gepraat gaan word.

Steward van Wyk is ‘n bruin Afrikaans-dosent in letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Aan die UWK is hy bekeer tot die Jakes Gerwel-tradisie waarvolgens Afrikaans ingevolge ANC-politiek benader en gedoseer word. Soos by Carstens, kry politiek by Van Wyk voorkeur bo Afrikaans. Dit blyk duidelik uit sy magisterverhandeling (1992) oor Elsa Joubert se roman, Die swerfjare van Poppie Nongena, en sy doktorale proefskrif (1999) getiteld: Adam Small: apartheid en skrywerskap. Ooreenkomstig die huidige mode beskou Van Wyk homself nie as bruin nie maar as swart en is sy navorsingsbelangstelling “swart Afrikaanse skryfwerk”. Geen ewewigtige benadering van Afrikaans, veral Standaardafrikaans, kan myns insiens van Van Wyk verwag word nie.

Elvis Saal is ‘n bruin Afrikaans-dosent in taalkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Sy doktorale proefskrif handel oor tienertaal en MIV. By hom gaan dit eerder om die mengeltaal Kaaps en slang/sleng, oftewel informele omgangstaal, as om die bevordering van ‘n ordentlike taal soos Standaardafrikaans.

Myns insiens dank Janis Grobbelaar haar aanstelling in die ATM-raad aan twee dinge: haar radikaal linkse politiek en die ANC-gebruik dat daar vroue-verteenwoordiging in alles denkbaar moet wees. Sy is sekerlik nie benoem op grond van haar taal- of letterkundige kennis nie. Die naaste wat Grobbelaar aan Afrikanerskap gekom het, was toe sy in ‘n Afrikaanssprekende blanke gesin gebore is. Sy is ‘n dosent in sosiologie, ‘n vak wat baie ruimte vir linkse politieke propaganda bied. Toe sy in die jare sewentig ‘n dosent aan die UWK was en daar gepoog is om haar tydelike aanstelling te verleng of om haar permanent aan te stel, is daar tereg in die UWK-senaat betoog dat ‘n dosent vergoed word om klasse aan te bied; nie om hulle te ontwrig soos sy tydens die 1976-kampusonluste gedoen het nie. Daarna was sy dosent aan Unisa en tans is sy aan die Universiteit Pretoria verbonde. Vir die 1994-verkiesing is sy as ANC-kameraad weke lank toegelaat om as amptenaar van die sogenaamde Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) diens te doen. In 1996-1998 het haar voorliefde vir ANC-politiek bo akademiese werk weer geblyk toe sy twee jaar lank gesekondeer is om voltyds vir die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) te werk. Sy was van die vroegste aanstellings wat Desmond Tutu en sy mede-kornuite gedoen het, wat ‘n aanduiding gee van hoe hoog sy in radikaal linkse politieke kringe aangeslaan word. Een van die maniere waarop sy haar ANC-spore verdien het, is die bydrae wat sy as mede-outeur tot die bundel, Vir volk en vaderland: a guide to the white right (1989), gelewer het. Die teks handel oor “the nature of white rightwing Afrikanerdom”. Op die internet is daar talle voorbeelde van linkse elemente wat Grobbelaar lof toeswaai. In Van der Elst se teks staan: “Grobbelaar wat kundigheid vermeld op die terrein van Afrikanernasionalisme, ras, klas, etnisiteit, die Suid-Afrikaanse demokratiese oorgang, menseregte, sosiale geregtigheid, en die SA Waarheids- en Versoeningskommissie.” Haar WVK-agtergrond het sy telkens in plaaslike en oorsese toesprake en publikasies gebruik. Wat duidelik behoort te wees, is dat Grobbelaar om linkse politieke redes in die ATM-raad aangestel is en sekerlik nie om Afrikaans en veral nie Afrikaners in enige positiewe opsig te dien nie.

Donovan Lawrence is ‘n bruin Afrikaans-dosent in taalkunde. Hy was voorheen aan die Universiteit Johannesburg verbonde, maar tans het hy ‘n pos in die Skool vir Opvoedkunde aan die Universiteit Witwatersrand (Wits).

Om klaarblyke redes het ek oor die twee blanke Afrikaanssprekendes (ek sal hulle nie Afrikaners noem nie) in die ATM-raad meer volledig as oor die ander raadslede geskryf. Opsommend kan van die sewe ATM-raadslede gesê word: 6 mans, 1 vrou; 2 wittes, 2 swartes, 3 bruines; 5 Afrikaanssprekendes, 2 nie-Afrikaanssprekendes; 4 Afrikaans-taal- of letterkundiges, 2 nie-Afrikaans-taal- of letterkundiges, 1 sosioloog. Bowenal: Daar is nie ‘n enkele raadslid wat ongekwalifiseerd vir Standaardafrikaans en Afrikaners in die bres sal tree nie. Die benoeming van die nuwe ATM-raad kan ‘n misdaad teen die mensdom en spesifiek ‘n misdaad teen Afrikaners en Afrikaans genoem word. Afrikaners en Afrikaans verdien beter as dit. Mense soos Van der Elst en Carstens behoort nou in te sien dat hulle kruip- en paaibeleid te midde van ANC-boosheid in die ATM, ATR en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die posisie van Afrikaners en Afrikaans net verder versleg het.

Van der Elst leun steeds agteroor om die ANC ter wille te wees. Hy het dit net teen die voorsitter: “Hoewel die samestelling van die raad redelik gebalanseerd lyk met kundigheid op die gebied van Afrikaans, is dit onverklaarbaar waarom die Minister juis prof Mashigo aanstel om leiding te neem van die raad van ‘n suiwer Afrikaanse instelling … Is dit in hierdie geval nie maar weer ‘n politiek gemotiveerde aanstelling nie? Kundigheid en geskiktheid vir ‘n pos moet vir seker die vernaamste norme vir ‘n aanstelling wees.” Maar Van der Elst behoort na meer as twee dekades tog te weet dat “kundigheid en geskiktheid vir ‘n pos” vir die ANC op geen vlak en op geen gebied “die vernaamste norme vir ‘n aanstelling” is nie. Die uitlewing van swart mag en die moedswillige belediging en versmaaiing van blankes en veral Afrikaners geniet by die ANC baie hoër voorkeur.

Die Afrikaanse Taalmuseum en die Taalmonument is in die Paarl omdat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 daar gestig is. Dit is waarom regte Afrikaners elke jaar op 14 Augustus steeds Afrikaansdag vier. Wat sou die lede van die GRA van die samestelling van die huidige ATM-raad dink? Sou hulle hoegenaamd kon verstaan dat net twee van die sewe lede wit is? Minstens een van dié twee is boonop die Afrikanersaak glad nie goedgesind nie. Dat daar drie bruines in die raad van sewe dien, sal op grond van die propaganda wat Carstens versprei, seker geredelik deur hom aanvaar word. Dit is die wrange vrugte van sy oordrywing van die rol wat die Khoi-San en die slawe in die ontstaan van Afrikaans gespeel het. In werklikheid is daar ‘n reuse verskil tussen ‘n mate van aandadigheid aan die ontstaan van ‘n taal en die ontwikkeling of uitbouing tot amptelike erkenning en verdere konsolidering van daardie taal.

Die Afrikaanse Taalmuseum en die Taalmonument is van die allerheiligste plekke van die Afrikaner en Afrikaans. Die nuwe ATM-raadsopset is heiligskennis. Die klippe behoort dit uit te roep. Behalwe die enkele berig op die ATR-webwerf en die een op Netwerk24 was daar (sover ek weet) nog geen berig hieroor in enige Afrikaanse koerant nie. Waar is al die Broeders heen? Dood, of in die boesem van die ANC? Waar is die reaksie van die DA, wat soos Antjie Krog smeek om so swart moontlik te wees? Is daar nog lewe in die VF+? Adriaan Basson, die redakteur van Beeld, het dit hopelik op sy gewete dat hy die laaste Afrikaanse kampus, dié in Potchefstroom, vernietig het. Hy sal nie behae daarin hê om ‘n lawaai oor die samestelling van die nuwe ATM-raad op te skop nie; ook nie die redakteur van Die Burger, Bun Booyens jr, nie. Booyens skryf eerder weekliks oor ligte, substansielose Engelse liedjies en in sy rubrieke durf hy beuselagtige onderwerpe aan soos: “Hoe beland ‘n grassnyer in ‘n mangat?” (Die Burger, 28 Februarie, p 14).

Ten spyte van die koms van die nuwe Suid-Afrika was die samestelling van die ATM-raad voorheen darem meer Afrikaans-geöriënteerd. Maar selfs toe is buitensporig agteroor geleun om nie-wittes te akkommodeer. Polities korrek is gepoog om ook niks te doen wat die vermoede sou bevestig dat Afrikaans die taal van Afrikaners is nie. In ‘n omvattende artikel oor die Taalmonument het ek genoem dat die geskiedenis van Afrikaans doelbewus misleidend op die inligtingspanele in die besoekersentrum uitgebeeld word (Praag 31.08.2014). Die byeenkomste wat by die Taalmonument aangebied is, was meesal daarop gemik om nie-wittes te lok. Die nuwe ATM-raad sal hierdie neiging na verwagting baie versterk. Die ATM sal vorentoe selfs nog minder eg Afrikaans wees, om van pro-Afrikaner nie te praat nie. Die suile van die Taalmonument simboliseer al hoe meer ‘n ten hemele geroep na uitkoms vir Afrikaans en die Afrikaner.

Ek gaan ‘n aanduiding gee van die soort byeenkoms wat onder die vorige ATM-raad beslag gekry het. Dié opvoering sal eersdaags plaasvind. Kyk hoeveel blyke van (ordentlike) Afrikaans daarin te vinde is. My aanvoeling is dat dit ‘n bespotting is van die Afrikaans wat ek ken. Ek haal vervolgens aan uit Die Burger (By, 28 Februarie, p 3).

“Die bekroonde Afrikaaps-span tree op Vrydag 13 Maart op as deel van die Tuinteater Piekniekreeks by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Dié piekniekreeks word ten bate van die Laat ons Lees!-voorleesprojek vir kinders aangebied. Afrikaaps is ‘n Afro-futuristiese hip-hop-konsep wat die invloed naspeur van die inheemse bevolking aan die Kaap op die ontstaan van Afrikaans. Die ensemble Die Argitekbekke verteenwoordig ‘n samesmelting van musikale genres. In ware hip-hop-styl sluit dié vertoning ‘glitches’, ‘scratches’, ‘beats’ en rym in, terwyl ‘n verskeidenheid tradisionele Kaapse style soos ghoema ook ingewerk word … Die Afrikaaps-span sluit in die jazz-musikant Kyle Shepherd (as musiekregisseur), die streektaal-spesialis-rymkletser en digter Jitsvinger en die sielvolle sangeres Blaq Pearl. Die vertoning begin om 19:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die Taalmonument.”

Wat met die ATM gebeur, is soortgelyk aan wat met ander Afrikaans-instansies gebeur sodra hulle om finansiële redes aan die ideologiese giere van die swart regering uitgelewer word. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) in Stellenbosch se owerheidsubsidie is in die nuwe Suid-Afrika in reële terme drasties ingekort, terwyl daar terselfdertyd van hierdie instansie verwag word om meer as voorheen te doen. Die fokus van die WAT is verwater ten behoewe van ander tale. Tans verkondig die WAT teen wil en dank dat hy veeltaligheid bevorder deur steun aan al tien die ander amptelike tale te verleen. Woordeboekmakers word nie net vir sommige van hierdie tale opgelei nie, maar selfs ook vir tale in die res van Afrika. Die werk ten behoewe van Afrikaans ly ongetwyfeld daaronder. Baie tyd en energie moet noodgedwonge aan fondsinsameling bestee word om die ANC se aalmoessubsidie aan te vul. Die weersinwekkendste feit is dat die WAT teruggekrabbel het van sy ideaal om ‘n werklik omvattende Afrikaanse woordeboek te wees. Dit is algemeen bekend dat politiek en seks die twee onderwerpe is wat by uitstek die taalkundige skeppingsvermoë van mense prikkel. Om die ANC te paai, is jare gelede reeds aangekondig dat “rassistiese” woorde en enige uitdrukkings wat dalk aanstoot kan gee, gesensor word.

Die Afrikaanse Letterkundige en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein gee ‘n selfs duideliker aanduiding van wat vir die ATM voorlê. Die webwerf is blykbaar net in Engels. “Since 1996, NALN prioritised its focus on the so-called Black (including Brown/Coloured) Afrikaans authors, extending the database and collection of their works”; sonder twyfel ten koste van blanke skrywers. “In 1994 NALN also initiated the idea of a literary museum for Sesotho … Following on a gradual downscaling in priority and loss of capacity over the past 20 years … a drastic restructuring in 2007 resulted in the immediate loss of 50% of professional capacity left.” Dit is waarskynlik uitsluitlik of hoofsaaklik blanke kundiges wat die trekpas gekry het. “This leaves the museum with the challenges of conceptualising and developing a total new generation of exhibitions, displaying a new, re-written story-line of the Afrikaans literature from the perspective of the post-1994 democratic dispensation. An exciting challenge – yet, without much internal intellectual, professional and technical capacity left, and without any budget for this mammoth task.” PJ Nienaber (1910-1995), die stigter, eerste uitvoerende hoof en siel van die NALN, sou in sy graf omdraai as hy moet sien hoe sy geliefde NALN nou daar uitsien. In die nuwe Suid-Afrika mag onreg maar gepleeg word, mits dit blankes is wat veronreg word.

Wat dus aan die drie Afrikaans-instansies (ATM, WAT, NALN) gebeur, is die afskaling van die kernfunksies en -take waarvoor hulle in die lewe geroep is en die byvoeging van nuwe funksies en take met ‘n sterk ideologiese, pro-nie-wit, ANC-inslag. Dit sluit die linkse herskrywing van die geskiedenis in. Dit is die bekende verskynsel: breek af en ontaard wat Afrikaners tot stand gebring het, want die nuwe heersers kan dit nie op hulle eie ewenaar nie. Daar word van hierdie eens blanke instansies verwag om soortgelyke nie-wit en veral swart instansies tot stand te bring, maar sonder voldoende middele, soos geld en bekwame personeel. Sub-Sahara-Afrika het hom aan die eens Europese Suid-Afrika opgedring, met katastrofiese gevolge.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.