Staatsveiligheid wil amptenare wat vir CIA werk uitsnuffel

Deel op

Die departement van Staatsveiligheid sê bewerings wat op sosiale media gemaak word dat sekere openbare ampsdraers vir die Amerikaanse spioenasiediens, die CIA, werk, sal ondersoek word.

Daar word beweer dat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela en sekere opposisieleiers by spioenasie betrokke is.

‘n Woordvoerder van die departement, Brian Dube sê die bewerings is op ‘n webwerf en ander sosiale media-platforms gemaak.

Daar word bespiegel dat Madonsela, die EFF-leier Julius Malema, die voormalige parlementêre leier van die DA, Lindiwe Mazibuko en die president van Amcu, Joseph Mathunjwa CIA-spioene is.

Die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, Kebby Maphatsoe het voorheen gesê die openbare beskermer, Thuli Madonsela is deur die CIA geplant.

uThuliumele asitshele ukuthi ubani ihandler yakhe [Thuli moet ons vertel wie haar hanteerder is],” het Maphatsoe toe gesê.

“Hulle gebruik selfs van ons instellings nou … Hierdie Hoofstuk 9-instellings is deur die ANC geskep, maar word nou teen ons gebruik… Ama [die] Amerikaners wil hul eie uitvoerende hoof in Suid-Afrika hê, en ons moet dit nie toelaat nie,” het Maphatsoe gesê.

Die Openbare Beskermer sê sy is verras dat die departement van Staatsveiligheid bewerings dat sy en sekere opposisie politici by spioenasie betrokke is, ernstig opneem.

Madonsela se woordvoerder, Oupa Segalwe sê die bewerings is belaglik. Hy sê hulle het dit by misdaadintelligensie aangemeld om te ondersoek en uit te vind wie die misdadigers is wat daarvoor verantwoordelik is.

Segalwe sê hulle het nie verwag dat enige redelike persoon die bewerings in ‘n ernstige lig sou beskou nie.

Die webwerf beweer onder meer dat Mazibuko deur die Amerikaanse intelligensiedienste opgelei is nadat sy deur Madonsela gewerf is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.