Australië stuur troepe teen ISIS

Deel op

Australië het gister aangekondig dat nóg 300 troepe na Irak gestuur sal word as ‘n gesamentlike sending met Nieu-Seeland om te help om plaaslike magte op te lei wat teen ISIS veg.

Die besluit volg nadat verlede week in Wellington, Nieu-Seeland, besluit is om sowat 140 soldate in ‘n nie-gevegsending te ontplooi om Irak se militêre kragte te versterk om teen Moslemjihadiste te veg.

Die eerste minister van Australië, Tony Abbott, het gesê die besluit volg op ‘n formele versoek van die regerings van Irak en Amerika.

“Ek wil beklemtoon dat ons die besluit nie ligtelik geneem het nie. Op die ou end is dit Irak wat ISIS moet verslaan, maar ons wil nie die Irakiërs op hul eie los nie,” het hy aan verslaggewers in Canberra gesê.

“Ons staan bekend as vredeliewende mense en ons is traag om by konflikte ver van hier betrokke te raak, maar soos ons weet, het hierdie konflik nou al vir maande na ons uitgereik.”

Sowat 170 Australiese spesiale magte is reeds in Irak om te help om regeringstroepe op te lei en Abbot het gesê dit is in sy land se nasionale belang om hul teenwoordigheid te versterk.

“Ek beklemtoon dat dié dodelike kultus (ISIS) na ons land deurgesypel het. Sowat 100 Australiërs veg saam met IS en ander terroristegroepe in Sirië en Irak,” het hy gesê.

“Nog sowat 150 wat hierdie ekstremiste ondersteun, is hier ter lande, dus is hierdie verbintenis ‘n kwessie van binnelandse asook internasionale sekuriteit. Ek beklemtoon dat dit absoluut in Australië se nasionale belang is om dit te doen.”

Australiese en Nieu-Seelandse troepe sal vanaf Mei by die militêre basis in Taji, noord van Bagdad, gestasioneer wees.

Sedert Augustus het Amerika saam met geallieerdes, Australië ingesluit, ‘n veldtog van lugaanvalle teen jihadiste in Irak en Sirië van stapel gestuur.

Australië se rol is beperk tot ondersteuning in lugvaart, opleiding, raadgewing en intelligensie.

Die land het met 2 000 troepe in die oorlog gehelp in Amerika se koalisie in Irak sedert Maart 2003, totdat hulle in 2009 onttrek het. Geen Australiër het nog tydens die oorlog of operasionele diens tydens ontplooiing omgekom nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.