Noord-Korea maak gereed vir missieltoetse

Deel op

Noord-Korea maak glo gereed vir medium afstand missieltoetse om sy afkeur uit te spreek oor die gesamentlike militêre oefeninge van Amerika en Suid-Korea wat vandeesweek begin het.

Mobiele lanseerders vir Rodong-missiele is by ‘n Noord-Koreaanse missielbasis noord van Pyongyang ontplooi, het Suid-Korea se Yonhap-nuusagentskap volgens militêre bronne gesê.

Volgens AFP het Noord-Korea het in Maart 2014 soortgelyke lanseerders gebruik om twee Rondong-missiele af te vuur wat sowat 1 000 km tot 1 500 km ver trek.

Suid-Korea se ministerie van verdediging het nie die Yonhap-berigte bevestig nie, maar gesê dit monitor die situasie.

“Ons troepe hou Noord-Korea vir bykomende missiellansering dop,” het die ministerie se woordvoerder Kim Min-Seok aan verslaggewers gesê.

“Ons het ons observasie in samewerking met Amerika verskerp en ‘n krisisbestuurstelsel ingestel,” het hy gesê.

Noord-Korea het Maandag twee kortafstand Scud-missiele in die see by die suidkus afgevuur toe Suid-Korea ‘n reeks gesamentlike militêre oefeninge begin het.

Die jaarlikse oefeninge veroorsaak altyd militêre spanning tussen dié twee lande. Resolusies van die Verenigde Nasies het alle ballistiese missieltoetse deur Noord-Korea verban.

Die grootste van die twee militêre gesamentlike oefeninge van Suid-Korea en Amerika, Foal Eagle, het Maandag begin.

Die militêre oefeninge sal agt weke lank duur en sluit die opleiding van sowat 200 000 Koreaanse en 3 700 Amerikaanse troepe in die lug, see en op die grond in.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.