Ontevrede inwoners in die Victor Khanye munisipale distrik van Delmas in Mpumalanga, het ‘n memorandum met griewe oorhandig oor samesmeltingsplanne vir die munisipaliteit, het RSG berig.
Skole en sake-instellings in die gebied het Maandag tot ‘n stilstand gekom toe inwoners betoog het teen planne dat die munisipaliteit inskakel by die Emalahleni munisipaliteit wat onder administrasie geplaas is.
Volgens inwoners is hulle nie daaroor geraadpleeg nie. Hulle eis eerder inskakeling by die Ekhuruleni munisipaliteit aan die Oosrand.
Hulle sê hulle gaan andersins beperkte dienslewering kry van ‘n munisipaliteit wat reeds onder administrasie is.
Ekhuruleni is 30 kilometer verder, terwyl Emalahleni, voorheen Witbank, 80 kilometer, ver is.
Dit is vandag die spertyd vir mense om kommentaar te lewer oor die hervasstelling van munisipale grense.
Die ministerie van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die Munisipale Afbakeningsraad gevra om sekere munisipale grense opnuut vas te stel.
Die voorsitter van die Raad, Jane Thupana, sê inwoners van die betrokke munisipaliteite in drie provinsies word toegelaat om gesamentlik of individueel voorleggings te doen.
Thupana sê die Oos-Kaap, Limpopo en Noordwes moet kennis neem dat dit vandag die laaste dag vir voorleggings is.