Die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) het ontken dat ‘n privaatvliegtuig gestuur is om ten minste vier senior intelligensie-agente uit hul poste in Afrika te ontruim nadat City Press Sondag berig het hul dekking is in gedrang.
“Die bewerings van ‘n onttrekking van buitelandse agente uit hul plasings is sonder basis en word ten sterkste ontken as nog ‘n poging om inligting te smous,” het Brian Dube die SSA-woordvoerder gesê.
“Ons sal nie by spekulasie betrokke raak oor diegene wat dalk agter die beweerde lek sit en hul motiewe nie.”
Hy het aan Sapa gesê die minister is op rekord dat ‘n volledige ondersoek aan die gang is.
A anonieme bron in die SSA het glo aan City Press gesê dat ‘n agent in Kameroen en nog drie spioene elders in Afrika inderhaas uit hul poste terugeroep is.
‘n Tweede anonieme bron het bevestig dat “ten minste vier” agente binne ure van die vrystelling van die spioenasie-inligting deur die televisie-netwerk Al Jazeera in Katar, uit hul poste verwyder is.
“Die ouens is vroeg Maandag gekontak en gesê om gereed te maak om onttrek te word. Dit het baie vinnig gebeur,” het ‘n bron na aan die SSA glo aan die koerant gesê.
“Die lekkasies veroorsaak chaos in die SSA, en veral onder die agente in die buiteland. Sommige van die ouens het jare en jare lank aan hul lewens en dekking gebou.
“Hul dekking is nou tot niet.”