Brande woed in Wes-Kaap

Brandbestryders in die Wes-Kaap is besig met ‘n verbete stryd teen ‘n brand wat in die vroeë oggendure opgevlam het, het RSG berig.

‘n Vlootbasis in die omgewing is ook na wat berig word in gevaar. ‘n Brandweer-woordvoerder, Theo Layne sê sterk wind is besig om pogings te bemoeilik om die brand onder beheer te bring.

‘n Groot deel van die gebied was gister nog weens die brand onbegaanbaar.

Lewens en eiendom word bedreig. Minstens drie huise in Muizenberg het reeds aan die brand geslaan en ‘n aftree-oord is ontruim.

Die vlamme word deur ‘n sterk suidewind in die rigting van Noordhoek aangeblaas. Layne sê 30 brandweerwaens is op die toneel.

Geen beserings is tot dusver aangemeld nie. Layne sê eiendomme wat in gevaar is, word ontruim. Hy sê dit kan ‘n uitgerekte proses wees aangesien die brand oor ‘n uitgebreide gebied, wat die berghange insluit, strek.

Dele van die Ou Kaapse-weg en Chapman’s Piek-rylaan is intussen gesluit.

Berigte is ook ontvang van ‘n brand wat in Bettiesbaai woed.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.