Optog vir vermoorde Russiese opposisiefiguur gehou

Ondersteuners van die Russiese opposisieleier Boris Nemtsof het gistermiddag in Moskou ‘n optog gehou en geëis dat die moordenaars van dié vurige teenstander van pres. Wladimir Poetin aan die kaak gestel word en vir dié moord boet.

Die 55-jarige voormalige adjunkpremier is kort voor middernag Vrydag ver­skeie kere in die rug geskiet terwyl hy ‘n hanetree van die Kremlin af oor ‘n brug gestap het, het AFP berig.

Sy moord het die protesoptog wat hy vir gister beplan het, in ‘n roumars verander met sy hartseer ondersteuners wat foto’s en blomme op die brug neergesit het waar hy minder as 48 uur tevore vermoor is.

Poetin het Saterdag ferm onderneem om die moordenaars te straf terwyl opposisieleiers dit ‘n “politieke moord” genoem het en Westerse leiers daarop aangedring het dat ‘n behoorlike ondersoek na die voorval gedoen word.

Nemtsof het enkele ure voor sy dood in ‘n radio-onderhoud ‘n beroep op mense gedoen om die opposisieveldtog wat hy vir gister beplan het, te steun en aan te dring op die onmiddellike beëindiging van die die oorlog in die Oekraïne en te eis dat Poetin bedank. Die owerhede in Moskou het toestemming gegee dat 50 000 mense aan dié opmars deelneem.

Die sluipmoord Vrydagnag is die jongste van ‘n reeks moorde op opposisiefigure sedert Poetin 15 jaar gelede aan bewind gekom en dit herinner aan die moord op die anti-Kremlin joernalis Anna Politkofskaja wat in Oktober 2006 op Poetin se verjaardag doodgeskiet is.

Poetin het die jongste sluipmoord voor die deur van sy vyande gelê wat die Kremlin se ondergang soek. Hy het Saterdag in ‘n boodskap aan Nemtsof se ma beloof hy sal alles in sy vermoë doen om die “organiseerders en skuldiges agter die veragtelike moord” aan die pen te laat ry.

Bondgenote van Nemtsof wat hom sy lewe lank vir die kruisvaart teen korrupsie beywer het en as adjunkpremier in die regering van Boris Jeltsin gedien het, sê die rede vir sy moord was sy teenstand teen die Kremlin se beleid.

“Hierdie was sonder enige twyfel ‘n opdrag van Poetin,” sê die 59-jarige Alexander Badijef. “Hulle het ons gewys wat die lot sal wees van diegene wat teen hulle opstaan.”

Ondersoekers sê die sluipmoordenaars het ten minste agt skote uit ‘n motor na Nemtsof gevuur wat saam met die 23-jarige Oekraïense model, Anna Durtiskaja, gestap het. Sy is ongedeerd.

Beeldmateriaal deur ‘n verafgeleë CCTV-kamera wys hoe die vermeende moordenaar langs die pad hardloop en in ‘n wagtende motor spring wat daarna wegjaag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.