Kommer dat weermag nie uitslag in Lesotho aanvaar nie

Deel op

Dit is nie seker of adj.pres. Cyril Ramaphosa se pogings om stabiliteit in Lesotho te bewerkstellig, suksesvol sal wees nie.

Rama­phosa is deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aangewys om as hooffasiliteerder op te tree wat tot die verkiesing gelei het.

Terwyl die ver­kiesing Saterdag vreedsaam verloop het en die leiers van die vier die grootste partye aan internasionale waarnemers die versekering gegee het dat hulle wel die uitslag van die verkiesing sal eerbiedig, bestaan kommer dat senior weermagoffisiere nie die uitslag sal aanvaar nie.

Mothetjoa Metsing van die Lesotho Congress of Democrats (LCD), die party wat Lesotho tussen 1993 en 2012 regeer het, geniet steeds steun onder senior weermagoffisiere, terwyl premier Tom Thabane, van die All Basotho Convention, homself voortdurend teen die weermag verset.

Sy herverkiesing kan dus tot geweld lei. Hy het gewaarsku dat Lesotho nie ‘n “eiland” is nie en moet kennis neem van die wense van SAOG.

Thabane het die weermaghoof, lt.genl. Thali Kamoli, vroeër van sy pos onthef en sy afdanking het uiteindelik tot die mislukte staatsgreep gelei toe soldate wat ‘n polisiekantoor in Maseru aangeval het, Thabane se huis bestorm het, en die premier gedwing het om na Suid-Afrika te vlug.

Thabane het onderneem om die aanstigters van die mislukte staatsgreep in Augustus verlede jaar te vervolg, wat die moontlikheid van geweld na die verkiesing verhoog.

Indien geen party ‘n volstrekte meerderheid behaal nie, sal partye tot koalisiesamesprekings gedwing word.

Intussen loop die party van Thabane ver voor, selfs in wyke waar sy teenstander tradisioneel goed gevaar het.

Die stemme word nie elektronies getel nie, maar met die hand, het ‘n OVK-amptenaar Rethabile Pholo gesê.

Volgens die plaaslike media, het sowat 1,2 miljoen mense – uit ‘n bevolking van 2,2 miljoen – geregistreer om te stem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.