Massa-aksie vir grond lei tot duisende aansoeke

Deel op

Voorlopige getalle dui op nagenoeg 33 000 Namibiërs van verskillende ouderdomme en oor kleurgrense wat Vrydag as deel van die landwye massa-aksie eise vir erwe by plaas­like owerhede ingedien het.

“Ons sien wie almal alleen eet; ons wil ook eet. As hulle nie vir ons grond gee nie, sal ons sand in hul maaltye sit,” het Job Amupanda gewaarsku.

Amapundu en Dimbulukeni Nauyoma het hulself as “grondaktiviste” van die Regstellende Herposisioneringsveldtog (AR) beskryf.

Volgens Amupanda sluit hierdie getal nie die meer as 14 000 aansoeke in wat op 21 November verlede jaar by die Windhoek munisipaliteit ingedien is nie.

Die getalle wat die AR-aktiviste gister gerapporteer het, is soos volg: Windhoek (ongeveer 2 500 aansoeke), Walvisbaai (meer as 9 500), Okahandja (bykans 4 000), Swakopmund (meer as 3 500), Ondangwa (bykans 2 500 aansoeke), Ongwediva (2 500), Oshakati (2 500), Keetmanshoop (meer as 800), Otjiwarongo (bykans 2 000), Tsumeb (bykans 2 500) en Rundu (meer as 300).

Met baie getalle wat nog uitstaande is, sê die grond-aktiviste was die massa-aksie ’n reusesukses.

“Dit is duidelik uit hierdie getalle dat die grondkwessie ’n landwye probleem is,” het Amupanda gesê.

Volgens die AR-groep het die massa-aksie op ’n vreedsame wyse plaasgevind ondanks “sekere politici” se pogings om te verhinder dat dit gebeur.

Amupanda het gesê ’n politikus op Rundu het so ver gegaan om ’n “mol”, wat slegs bekend is as Kupembona, te betaal om wan­inligting oor die massa-aksie te versprei.

“Die jeug moet hierdie mol uitsnuffel en identifiseer en van hom ’n verduideliking eis,” het hy geëis.

Die AR-groep het weer eens benadruk dat hy munisipaliteite tot 31 Julie geleentheid gee om grond aan die jeug te verskaf. So nie, sal hulle eenvoudig grond beset, het Amupanda opnuut gedreig.

Op Grootfontein het die gerugte van ’n grootskaalse opmars na die munisipale kantore en massa-optrede teen 11:00 Vrydag die rondte gedoen, maar volgens die woordvoerder van die munisipaliteit, mnr. Luke Salomo, het niks gebeur nie.

Teen 16:00 Vrydag toe die munisipale kantoor gesluit het, is net 75 aansoeke ontvang.

Grootfontein het twee weke gelede 130 gedienste erwe beskikbaar gestel en ’n verdere 137 gedienste erwe is verlede jaar vir die massa-behuisingsprojek beskikbaar gestel. Benewens hierdie erwe is geen gedienste erwe op Grootfontein beskikbaar nie.

Op Otjiwarongo is altesaam 1 846 aansoeke Vrydag ontvang. Die skakelbeampte van die munisipaliteit, me. Adelheid Shilongo, sê die dorpsraad sal nou briewe waarin ontvangs van die aansoeke erken word, aan al die aansoekers stuur.

“Ons sal maar moet wag ek hoor wat die ministerie van streek- en plaaslike regering, behuising en landelike ontwikkeling ons aanbeveel om te doen,” het sy gesê.

Op Ongwediwa het aansoekers reeds vanaf 09:00 voor die dorpsraad se kantoor saamgedrom. Mnr. Peter Tuhafeni, organiseerder van die massa-aksie op dié dorp, het aan Nampa gesê 2 230 jeugdiges het eise ingedien. Mnr. Malakia Petrus, ’n lid van die dorpsraad se bestuurskomitee, sê hierdie aansoekers se name sal by die bestaande waglys vir grond gevoeg word en hulle sal nie voorkeurbehandeling kry nie.

Die massa-aksie vir Rundu is op die nippertjie gekanselleer ná ’n mediakonferensie deur die Swapo-leierskap in Kavango-Oos waarin lede van die party versoek het om hulle nié deur die AR-aktiviste te laai mislei nie. Nampa berig jeugdiges sonder grond het nietemin individuele eise by die dorpsraad ingedien.

Uit Keetmanshoop word berig die munisipaliteit het nagenoeg 150 aansoeke vir grond ontvang. Lede van die polisie het ’n oog oor die verrigtinge gehou, maar alles het vreedsaam verloop. Die aansoeke is deur die Swapo Jeuliga se penningmeester vir die Khomasstreek, mnr. Lukas Shekwaanyena, ingevorder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.