Groot moondhede het klein lande met terreurwaarskuwings oorlaai

Deel op

Suid-Afrikaanse owerhede het glo ‘n terreuraanval in die land afgeweer in 2010 volgens intelligensieverslae wat deur die internasionale nuusagentskap Al Jazeera uitgelek is.

Volgens Sapa is die inligting glo vervat in twee voorleggings deur die Staatsveiligheidsagentskap (SSA).

Wat ook duidelik na vore kom uit die spioenasielek is ‘n georkestreerde poging deur sommige groot moondhede om ‘n gemeenskaplike verhaal gebaseer op die vrees vir terreur te skep.

Dit is gedoen deur die intelligensiedienste van kleiner lande met allerlei waarskuwings te oorlaai, om sodoende hul prioriteite in ‘n sekere rigting te stuur.

Westerse intelligensie-agentskappe skyn egter grootliks onbewus te wees dat die SSA sulke aktiwiteit in die land beskou het as beperk tot ‘n handjievol individue wat meestal deurreis na ander Afrika-lande.

Die gefnuikte aanval het aan die lig gekom toe Jermaine Grant vasgetrek is. Hy is in Desember 2011 in Kenia in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by terreur.

Die polisie het glo tydens Grant se arrestasie op toerusting afgekom wat soortgelyk is aan die wat in Julie 2005 tydens die selfmoordbomaanvalle in Londen gebruik is.

Volgens die voorleggings het ‘n geldskieter wat in April 2011 in hegtenis geneem is, beweer dat hy instruksies ontvang het van Haroen Al Fadoel, wat by Al-Kaida betrokke is, om in die Verenigde Arabiese Emirate ‘n kontakpersoon te ontmoet oor die aanval in Suid-Afrika.

Die doel van die ontmoeting was glo om geld te kry vir die bomaanval in Suid-Afrika. Vyf selfmoordbomaanvallers sou glo die aanval uitgevoer het. Die aanval was sedert 2007 beplan en daar is glo nagenoeg $1 miljoen benodig om dit uit te voer.

Tydens die ontmoeting het Al Fadoel se kontak aan die geldskieter gesê die geld is nie dadelik beskikbaar nie maar dat dit tyd sal neem. Die geldskieter het glo later met agente in Doebaai ontmoet oor die aanval in Suid-Afrika wat tydens ‘n Joodse konferensie in Kaapstad sou plaasvind.

Grant het Samantha Lewthwaite, wat aan hom as Natalie Faye Webb bekend was, geïdentifiseer as een van die sleutelfigure wat aanvalle in Kenia beplan het. Lewthwaite het in Julie 2008 na Suid-Afrika gekom maar is egter in Junie 2009 na die Verenigde Koninkryk gedeporteer.

Lewthwaite het haar persoonlike besonderhede verander en onder die paspoort van Asmaa Shahidah Bint-Andrews gereis. Sy het in September 2009 na Suid-Afrika teruggekeer. Sy het glo hierna die identiteit van Natalie Faye Webb aangeneem. Dié naam is in Oktober 2009 op die departement van binnelandse sake se stelsel geaktiveer.

Volgens die dokumente was Lewthwaite glo betrokke by Al-Sjabaab en was sy in beheer van logistieke reëlings, veral behuising en vervoer, ivm die aanval in Kenia.

Volgens Al Jazeera se berig is Webb, Lewthwaite en Bint-Andrews dieselfde persoon. Lewthwaite is die weduwee van Jermaine Lindsay, een van die Londen-selfmoordbomaanvallers. Lewthwaite het glo tussen 2009 en 2011 in Suid-Afrika gewoon.

Ronnie Kasrils, Suid-Afrika se minister van Intelligensie tussen 2004 en 2008 het in ‘n vroeëre onderhoud met Al Jazeera gesê ‘n terreurbedreiging in Suid-Afrika is “spekulasie” en bygevoeg dat hy glo dat waarskuwings oor ‘n aanslag deur Al-Kaida in Suid-Afrika “oordrewe” is.

Kasrils het dié bewerings gemaak sonder dat hy glo bewus was van die uitgelekte dokumente in Al Jazeera se besit.

Nog ‘n voormalige spioenasiehoof Barry Gilder het Kasrils se siening beaam aan Al Jazeera en gesê Al-Kaida is nie as ‘n “bepaalde bedreiging vir Suid-Afrika gesien nie”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.