E-tol hier om te bly

Deel op

Die Gautengse premierskantoor het Dinsdag berigte in die Sowetan ontken wat sê dat die premier aangekondig het dat die e-tolstelsel in die provinsie geskrap gaan word, het Sapa berig.

“Die storie is heeltemal verkeerd,” het Makhura se woordvoerder, Thabo Masebe, gesê. Hy het gesê die premier provinsiale rede van Maandag bly onveranderd. “Daar is nêrens gesê dat die e-tolstelsel vervang gaan word nie. Daar is wel sprake om stelsels te kombineer.”

Volgens die koerant het die provinsiale regering ʼn ooreenkoms met die nasionale regering bereik dat die e-tolstelsel vervang gaan word met ʼn nuwe stelsel. Die nuwe stelsel sal ten doel hê om die skuld te delg wat vir die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) aangegaan is.

Makhura het Maandag “groot finansiële verligting” aan padgebruikers belowe en gesê die konsultasieproses is steeds aan die gang.

“Die provinsiale regering neem deel aan die huidige konsultasieproses om ‘n beter bedeling te ontwikkel wat die negatiewe impak van e-tol op die mense van Gauteng sal verminder,” het Makhura tydens sy provinislae rede verklaar. “Ek is vol vertroue dat die nuwe bedeling groot finansiële verligting aan motoriste sal bring, terwyl die betaalstelsel vereenvoudig word om dit vir motoriste makliker te maak om te betaal.”

Mpumelelo Mkhabela, die Sowetan se redakteur, het by navraag per SMS aan Sapa gesê: “Dankie vir die belangstelling in die berig. Lees asseblief môre [Woensdag] se koerant.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.