Die sinode van die NG Kerk in Namibië het Saterdag ’n buitengewone vergadering gereël om die wysiging van artikel 1 van die Kerkorde te bespreek én om daaroor te stem.
Dié wysiging is egter nie deur die sinode aanvaar nie, het die Republikein berig.
Die voorgestelde wysiging van artikel 1 is daarop gemik om die belydenisgrondslag van die NG Kerk te verbreed. Dié wysiging sal dus gemeentes die ruimte gun om die Belydenis van Belhar as ’n opsionele vierde belydenisskrif in hul eie gemeentes te aanvaar of nie.
Die Belydenis van Belhar is ’n belydenisskrif met eenheid, versoening en geregtigheid as kerntemas, om die destydse Nederduits-Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika se protes teen apartheid te verwoord.
Die voorgestelde wysiging van artikel 1 beteken nié dat alle gemeentes Belhar onvoorwaardelik moet aanvaar nie. Die besluit wat die lede van die Namibiese sinode dus Saterdag in die gesig gestaar het, is of hulle die ruimte vir ander gemeentes gun om die Belydenis van Belhar te aanvaar.
Die voorgestelde wysiging van artikel 1 lees as volg:“Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie.”
Volgens ’n verklaring van die moderamen (bestuur van die sinode) van die NG Kerk in Namibië het die sinode reeds in 2006 tot die ooreenkoms gekom dat die inhoud van Belhar “in ooreenstemming is met die Skrif” en dat dit ook ooreenstem met die “roepingverklaring van die NG Kerk in Namibië”.
Die uitslag van die stemproses was egter vir sommige lede ’n bitter pil om te sluk. Alhoewel 58% van die lede van die sinode ten gunste van die wysiging gestem het, het die Algemene Sinode, ’n tweederdemeerderheid nodig om voort te gaan met die stemproses.
Die Algemene Sinode word gevorm deur 10 sinodes, waarvan Namibië een is; die ander nege sinodes is in Suid-Afrika. Om artikel 1 te wysig, moet elke sinode met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan stem. Dus, as daar slegs een sinode is wat nie ’n tweederdemeerderheid “ja-stem” verkry nie, kan die wysiging nie gedoen word nie. Twee-derdes van alle gemeentes moet ook ten gunste van die wysinging stem vir die wysiging om goedgekeur te word. Op sinodale vlak stem elke afgevaardigde as individu, onafhanklik van sy of haar gemeente se besluit.
Volgens dr. Kobus Gerber, die hoofsekretaris van die NG Kerk, sal die stemproses in ander nege sinodes wél voortgaan, aangesien dit belangrik is dat die “kerk hom in die geheel kan uitdruk”.
Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, het ook die buitengewone vergadering bygewoon.
Volgens hom het dit al voorheen by ander stemprossese gebeur dat daar nie ’n tweederdemeerderheid behaal is nie, maar daar later weer gestem word.
Die moderator van die Namibiese sinode, ds. Pine Pienaar, het nadat die uitslag van die stemproses bekend gemaak is, dit sterk benadruk dat daar verdere gesprekke op ’n strukturele én persoonlike vlak moet plaasvind vir die sinode om saam ’n werkbare voorstel te vind.
Volgens Pienaar is die kwessie van Belhar nie nou “van die tafel af” net omdat die sinode “nee” gestem het nie.