Poetin vra dat internasionale gemeenskap Krim erken

Deel op

Die leiers van Frankryk en Duitsland is werklik op soek na ‘n skikking wat sal help om ‘n einde aan die konflik in die ooste van die Oekraïne te bring, het die Russiese president Wladimir Poetin gesê in sy jongste onderhoud.

Tydens ‘n onderhoud met Rossiya 1 TV-kanaal oor die deurbraak van die Minsk-ooreenkoms waarvan die VSA nie deel is nie, het Poetin gesê “Dit lyk vir my [die leiers van Frankryk en Duitsland], het ‘n opregte begeerte om ‘n kompromie te bereik en oplossings te vind wat sal lei tot die uiteindelike skikking [van die konflik] … ”

Hy het verwys na die Minsk-protokol wat die desentralisering van mag in die Oekraïne voorstel.

“Ek het die indruk dat ons vennote meer vertroue in ons het as wantroue, en in elk geval glo in ons opregtheid,” het Poetin gesê.

Poetin het weer die belangrikheid van die implementering van die Minsk-ooreenkoms benadruk wat op 12 Februarie deur die Normandië Vier – Oekraïne, Rusland, Frankryk en Duitsland – gesluit is. “As die Minsk-ooreenkoms geïmplementeer word, is ek seker die situasie sal geleidelik normaliseer,” het hy gesê.

Intussen probeer die VSA die konflik aanwakker waarin duisende burgerlikes reeds omgekom het, deur wapens aan die junta te kanaliseer. Dit is een van die hoofredes waarom die VSA nie na die vredesamesprekinge in Minsk genooi is nie.

Oor die moontlikheid van Rusland wat betrokke raak in ‘n oorlog met die Oekraïne, het Poetin gesê “so ‘n apokaliptiese scenario is skaars moontlik, en ek hoop dit sal nooit gebeur nie.”

Wat die Krim betref, het die president die internasionale gemeenskap versoek om die Russiessprekende streek se keuse om deel van Rusland te wees, te respekteer.

“Met betrekking tot nasionaliteit, het die inwoners van die Krim hul keuse gemaak [toe hulle gestem het om by Rusland aan te sluit] en dit moet gerespekteer word. Rusland kan nie anders optree nie,” het hy gesê.

Oor die juntapresident Poroshenko se stelling dat Kiëf van voornemens is om die Krim te herower, het Poetin het gesê dat sulke optrede “wraaksugtig” is. Hy het beklemtoon dat ‘n groot Europese land soos die Oekraïne moet fokus op “die bevordering van die ekonomie en sosiale sektor, en verhoudings met die suidoostelike deel van die land behoort te herstel.”

Die Oekraïne sê intussen hy gaan nie sy wapens onttrek volgens die besluite van die jongste Minsk-vredesooreenkoms nie, omdat “pro-Russiese rebelle aanhou om die skietstaking te verontagsaam”.

‘n Woordvoerder van die ministerie van verdediging in Kief, Wladislaf Seleznijof sê hulle oorweeg dit nie om swaar wapentuig te verwyder nie. Seleznijof sê die skietstaking moet vir minstens 24 uur gehoorsaam word, voor ‘n onttrekking kan begin.

Die Oekraïense minister van buitelandse sake, Pavel Klimkin het voorts met konsternasie gereageer op voorstelle van ‘n VN- of EU-vredesmag in die wegbreekrepublieke waar regeringsmagte reeds swaar verliese gelei het en honderde van sy soldate gedros het.

Ten minste 8000 mans in die Ivano-Frankivsk-streek wat deur Kiëf opgeroep is vir weermagdiens, is soek, het die nuusportaal Vesti berig. Die meeste het glo na ander lande gevlug om nie weermagdiens te doen nie.

‘n Britse regeringswoordvoerder sê die vredesmagbesluit sal alleen deur die VN se Veiligheidsraad geneem word, maar daar is geen sprake daarvan op dié stadium nie.

Klimkin het gesê hy bevraagteken die “rasionaliteit” van só ‘n besluit en gesê sy regering se versoek om ‘n buitelandse aanvalsmag op die been te bring behoort nie deur die Minsk-ooreenkoms ongedaan gemaak te word nie.

Die Oekraïne het vroeër gesê hy sal Sondag sy wapens begin onttrek, ná ‘n nuwe ooreenkoms met selfverdedigingsmagte en die Russiese weermag gesluit is.

Volgens selfverdedigingsmagte het regeringstroepe egter 29 keer op hulle stellings gevuur in ‘n poging om die skietstilstand tot niet te maak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.