Lüderitz ontstoke oor naamsverandering

Deel op

“Hulle kan die dorp se naam verander soos hulle wil; ons sal ‘Buchters’ bly,” was die algemene gevoel oor die moontlike naamsverandering wat Lüderitz mag tref.

Wit en swart inwoners wat met Republikein gesels het, is uiters ongelukkig oor die nuwe poging vir ’n naamsverandering en sê hulle was nie deur die dorpsraad oor die kwessie geraadpleeg nie.

Die Rally for Democracy and Progress (RDP) se voormalige raadslid op die dorpsraad en lid van die Lüderitz Erfenisraad, mnr. Reginald Hercules, het gister gesê inwoners het reeds in 2013 met pres. Hifikepunye Pohamba se aankondigings oor verskeie naamsveranderinge, dit duidelik gemaak dat hulle nie die dorp se naam verander wil hê nie.

“’n Petisie met honderde handtekeninge van beswaar was aan die burgemeester, me. Susan Ndjaleka, oorhandig. Sy is bewus van die gevoelens van die gemeenskap,” het Hercules gesê.

“As die nuwe naam op ons afgedwing gaan word, is ons volgende stap om dit in die hof te beveg,” het nóg ’n lid van die Erfenisraad wat verkies om anoniem te bly, bygevoeg.

Inwoners is ook ongelukkig omdat die kennisgewing van vergaderings met verskeie sektore op die dorp oor die kwessie slegs twee dae voor die tyd uitgereik is. Baie sê ook hulle is onseker oor die oorsprong van die hernude poging om die naam te verander.

“Mense is bitterlik ontstoke,” het ’n bekende sakepersoonlikheid op die dorp gesê.

Die voorsitter van die voormalige Lüderitzbucht-stigting, sê hy is “totaal en al negatief” oor die nuwe verwikkeling.

“Ek dink dit is baie hartseer dat die kwessie só hanteer word. Ons weet nie wie agter hierdie veldtog is nie. Ons weet nie waar dit vandaan kom nie. Hoekom is dit nou so belangrik? Wie het hierdie gesprek begin? Ek dink buitestanders het dit begin. Ek glo nie ’n ‘Buchter’ sou dit begin nie. Dit lyk asof die nuwe naam op ons afgedwing gaan word. Dit getuig van diktatorskap,” het hy gesê.

Ndjaleka wou gister geen kommentaar lewer nie, omdat sy die hele dag in vergaderings was. Haar kantoor het teen druktyd ook nog nie op vrae geantwoord nie. Daar is dus geen duidelikheid oor die oorsprong van die nuwe poging nie.

Gerugte loop egter die dorp vol dat Ndjaleka “en haar raadslede” die naamsveranderingsproses begin het.

Hoofman David Fredericks van die Soromaas tradisionele owerheid op Bethanie het oorspronklik in 2010 !Nami#nûs as ’n naam vir Lüderitz voorgestel. Die kiesafdeling is egter in 2013 so vernoem en die dorp se naam het onveranderd gebly.

Fredericks het gister gesê sy “aanvanklike standpunt” was egter dat die dorp se naam as sodanig moes verander het.

Hy het gesê hy het sedertdien met die dorpsraad vergaderings oor die kwessie, ook dié van gister, gehad.
Van die inwoners met wie Republikein gepraat het, het gesê Fredericks het by die eerste vergadering met skoolhoofde prontuit gesê die naam sal verander word. Ander het weer gesê hy het gepraat oor die oorsprong van die name Lüderitz en !Nami#nûs. Fredericks wou gister egter nie sê wat sy bydrae op die vergaderinge was nie.

“As daar dan geskiedkundige oorwegings vir die naamsverandering is, hoekom kan die dorp nie weer Angra Pequena genoem word nie?” het een inwoner gevra.

Angra Pequena is die naam wat die Portugese seevaarder Bartolomias Dias wat in 1487 op die suidelike kus geland het, die gebied genoem het.

“Ek dink nie die oorwegings vir die nuwe naamsverandering is op feite gebaseer nie,” het stigting gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.