Zuma loof Weermag oor landelike veiligheid

Deel op

President Jacob Zuma het lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat saam met die polisie gewerk het, geloof vir die “sukses” van die Landelike Veiligheidstrategie.

Dié strategie word tans landwyd by 117 polisiestasies geïmplementeer om veiligheid en sekuriteit in landelike gebiede en in die besonder in landbougebiede te bevorder.

Zuma het die Gewapende Magtedag-vieringe in Potchefstroom in Noordwes bygewoon. Die Leër, Lugmag, Vloot en Mediese Gesondheidsdienste was deel van die verrigtinge wat in 2012 as ‘n jaarlikse instelling afgekondig is.
 
Hy het die bydrae van soldate in anti-misdaad-oorgrensoperasies hoog aangeskryf. Die SANW is in dertien sub-eenhede ontplooi ter ondersteuning van Operasie CORONA in Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Oos-Kaap, Noord-Kaap en Noordwes.
 
Zuma het gesê die Operasie is ‘n groot sukses aangesien daar op onwettige wapens beslag gelê is, asook gesteelde voertuie en vee.

Minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula het voor die verrigtinge uitgewei oor die weermag se beleidshersiening wat tans sloer.

Sowat R11-miljoen is aan die hersieningsbeleid vir die weermag spandeer. Van die voorstelle wat in die 380-blad verslag gemaak is, is dat die weermag sy begroting verdubbel na R88-miljoen.

Die regering wil die Suid-Afrikaanse Weermag aanwend om werkloosheid onder swartes aan te spreek. Zuma het gesê jongmense word in ‘n verskeidenheid beroepe opgelei wat van ingenieurswese tot kommunikasie insluit.

Die program word in samewerking met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming aangebied en staan bekend as die Nasionale Landelike Jeugdienskorps.

Die vieringe is ter herdenking aan 21 Februarie 1917 toe sowat 600 Suid-Afrikaanse soldate dood is toe die hulle skip – die SS Mendi – gesink het. Daar was meestal swart soldate op die skip wat in die Eerste Wêreldoorlog in Frankryk geveg het.

Die SS Mendi het in die Engelse kanaal gesink nadat dit teen ‘n ander skip gebots het. President Zuma het verskeie soldate vereer vir hulle rol in die Weermag en ook in lande soos die DRK en die Kongo.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.