Verskeie lesings by die Universiteit Stellenbosch moes na ander lokale verskuif word en die rooster moes aangepas word, nadat die Van der Sterr-gebou gedeeltelik in ‘n brand vernietig is.
Die woordvoerder van die universiteit, Susan van der Merwe sê die drie-verdieping Ekonomie en Bedryfswetenskap-gebou sal gesluit word weens veiligheidsoorwegings en waterskade.
Brandbestryders het Sondag gespook om die brand onder beheer te bring.
Dit wil voorkom asof die hele boonste verdieping asook die dak verwoes is. Die voorkant van die gebou lyk ongeskonde, maar daar word strukturele skade vermoed.
Daar was glo opknappingswerk aan die gebou gedoen.
Daar is nog geen aanduiding wat die oorsaak van die brand kon wees nie.