15 jaar van PRAAG: was dit die moeite werd?

Deel op

Vandag is PRAAG presies 15 jaar oud. Vroeg in die nuwe millennium op 22 Februarie 2000 (22.02.2000!) het ek en ander besef dat daar iets oor die gestadigde ondergang van Afrikaans en die Afrikaner gedoen moet word en daarom hierdie organisasie gestig. Die internet het al bestaan, maar was nog in sy kinderskoene.

roodt_fbfoto‘n Maand na ons stigtingsvergadering, het ons op 22 Maart 2000 ‘n eerste betoging in Braamfontein, Johannesburg, gehou teen die verbod op mnr. Lukas Rautenbach om Afrikaans met sy Afrikaanse kliënte by Transnet te praat. Die koerant Beeld het die volgende dag daaroor berig onder die opskrif:

Klein groepie betoog oor taal voor Transnet-kantoor

Feit is dat daar in 2000 so ‘n atmosfeer van verdwaasde aanvaarding onder Afrikaners geheers het dat niemand eens daaraan gedink het dat dit verkeerd was om mense by die werk te verbied om Afrikaans te praat nie! Daar was ook reeds fanatiese ondersteuners van anti-Afrikaanse en ANC-beleid in die geledere van Naspers en veral Beeld. Die joernaliste Hannelie Booyens, wat verlede jaar daarvoor gesorg het dat die Potchefstroom-kampus se “Nazi-rituele” aan die groot klok gehang word, het in daardie dae reeds ‘n epos waarin sy my in gekruide taal uitvloek vanaf haar Beeld-adres aan my gestuur. Ons het dit op ons webblad gepubliseer, waarna Beeld ons met regstappe vir “skending van kopiereg” gedreig het. Met ander woorde: Beeld en Hannelie Booyens het kopiereg op anti-Afrikaanse gevoelens, asook die f-woord, onder andere.

Van die begin af was dit ‘n opdraande stryd om Afrikaans en die Afrikanerkultuur te behou. Suid-Afrika is immers deur die ANC en SAKP verower vanweë een van die grootste propagandaveldtogte wat die wêreld ooit gesien het. Suid-Afrika is met ‘n klaargemaakte polities korrekte, kultuurmarxistiese ideologie – Made in USA – oorspoel en voortaan sou die boodskap wees: Praat en skryf Engels, maar ook: die dae van die blanke ras en “witheid” is getel, daarom moet julle en julle kinders liefs uit die “reënboognasie” uitgeteel word.

Gaandeweg is nuwe lyne in Suid-Afrika getrek: tussen dié wat alle wetgewing en diskriminasie teen blankes maar gelate aanvaar, en dié wat hul daarteen verset. Ook tussen diegene wat graag Die Stem wil sing en diegene wat dit as outyds of polities inkorrek beskou. Op 31 Mei 2003 het ons ‘n byeenkoms in die Ou Raadzaal in Pretoria georganiseer waartydens die sangeres en dosent Linette van der Merwe Die Stem sou sing. Dit het die meeste Afrikaanse organisasies, waaronder die FAK en Solidariteit, so afgeskrik dat daar weereens net “‘n klein groepie” opgedaag het.

Weliswaar het ons in die vroeë dae van PRAAG die mag van die media en van politieke korrektheid onderskat. Ek het gedink dat dit net ‘n kwessie van tyd sou wees voor daar – soos in Frankryk, Tsjeggië of ander Europese lande – ‘n spontane opstand of rebellie teen die onreg sou plaasvind. Dit was bloot nodig om die ooglopende onreg en ongelykheid aan Afrikaners te kommunikeer, waarna hulle spontaan by PRAAG sou aansluit en hulle soos tydens die “Praagse Lente” van 1968 hulle in massas teen die kommunistiese verdrukker sou verset. Dis ook waarom ons die akroniem PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) gekies het, ter herinnering aan daardie grootse opstand teen kommunisme in Tsjeggië, waarvan die ANC en die SAKP destyds die onderdrukking deur die Sowjetunie uitdruklik gesteun het.

Is ons daarvan bewus dat daar ná die mislukte Praagse Lente-opstand ongeveer 7 000 Tsjegge na Suid-Afrika gevlug het, wat deur die destydse Nasionale Party-regering met ope arms ontvang is? Juis het hulle hierheen gekom omdat hulle gedink dat Afrikaners oortuigde antikommuniste was… Adriaan Basson en Max du Preez het nog nie bestaan nie. Maar dan wil ek ook vra: Waar is die Afrikaanse romans of geskiedenisboeke wat die verhale van daardie Tsjegge opgeteken en vergestalt het, soos wat Milan Kundera en ander skrywers hul vlug na Frankryk opgeteken het? Daar is nog soveel boeke om in Afrikaans te skryf, waaroor hier onder meer.

Tot dusver was daar egter van ‘n Praagse Lente min sprake onder Afrikaners wat, soos in die gedig van Jan F. E. Celliers, die juk “geduldig, gedienstig, gedwee” aanvaar het:

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hun skowwe –
hul dra dit getroos en tevree.

Ten minste het ons mense in die onlangse verlede, veral by Steve Hofmeyr se konserte, openlik begin om Die Stem te sing. Dit het lank geneem, van 2003 af, maar ten minste doen ons dit al!

Die kwelvraag bly: Het PRAAG daarin misluk om ‘n gees van kritiek, verset en rebellie teen die ooglopende onreg wat daar teen ons gepleeg word, te kweek? Moes daar nie teen dié tyd, ná 15 jaar, al ‘n groter opstand, feller kritiek en minder aanvaarding gewees het nie? Vir my is dit ‘n moeilike vraag om te beantwoord. Die Afrikaner-establishment van oud-Broederbonders en ANC-gedienstige akademici het nog nooit enige erkenning aan PRAAG verleen nie. (Met die gelukkige uitsondering van daardie groot gees en skriba van die Afrikaanse taalgeskiedenis, prof. Jaap Steyn!) Wel het Max du Preez onlangs iewers gesê: “Dan Roodt rig groot skade aan”, bedoelende dat sy kultuurmarxisme (in sy mees onlangse rubriek haal hy die Italiaanse marxis, Antonio Gramsci, klakkeloos aan!) nie sonder kritiek in die gemiddelde Afrikaner se brein geplant word nie. In dié sin, wens ek ons kon méér skade aanrig.

As ek terugkyk oor vyftien jaar van betogings, petisies, vergaderings en buite-parlementêre politiek, dan moet ek erken dat ons slegs gemengde welslae daarmee gehad het. Onmiddellik moet ‘n mens egter die teendeel ook opper: Gestel ons het dit nié gedoen nie, wat sou die gevolg dán gewees het? Ek meen die enigste rede waarom die ANC en SAKP nie met selfs groter aggressie teen Afrikaans en Afrikaners opgetree het nie, is omdat hulle wel die oorblyfsels van taallojaliteit en patriotisme onder Afrikaners vrees. Die geluide wat ons gereeld gemaak het, het dus nie ongesiens verby gegaan nie, selfs al is dit by tye hoofsaaklik deur Naspers en die ander hoofstroommedia geïgnoreer.

Ná PRAAG het ander organisasies en groeperinge gekom wat ons model van intellektuele en openbare protes nagevolg het. Sommige het die oplaaiende gevoel van ontevredenheid onder Afrikaners in groot sake-ondernemings omskep, dog sonder om op ons grondbeginsels te kon verbeter.

As iemand my moes vra wat PRAAG se belangrikste bydrae oor die afgelope vyftien jaar was, sou ek sê dit was die nuwe Afrikaneridentiteit wat ons geskep het. In hierdie oorlog wat Groot Brittanje, die Johannesburgse uitlanders, terroriste soos Joe Slovo, Ronnie Kasrils en Aboobaker Ismail al jare lank teen ons voer, gaan dit in die eerste plek om ‘n aanval op ons identiteit. “Die Afrikaner moet verdwyn, hy moet oplos in die groter geheel, hy moet verengels en uitgeteel word tot ‘n vergete mulatbevolking,” is al jare lank hul konsekwente strategie.

Daarteen het ons nie net ewe konsekwent “nee” gesê nie, maar ook gaandeweg ‘n nuwe twintigste-eeuse identiteit vir die Afrikaner geskep. Ek sou dit só kon opsom:

  1. Die nuwe Afrikaner is meer as ooit lojaal teenoor sy taal en tradisies.
  2. Ons ly nie meer aan enige romantiese illusies oor Afrika soos die geslag van NP van Wyk Louw wat Afrikaans as “brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika” gesien het nie. Veel eerder maak die internet en die verval van grense ons daarvan bewus hoeveel ons met ons Europese stamlande in gemeen het. Ook is ons probleme besig om hulle probleme te raak en heers daar vir die eerste keer in jare wedersydse begrip tussen ons.
  3. Die revolusie van 1994 het ook ‘n Afrikanerdiaspora veroorsaak, vandaar die soeke na ‘n globale Afrikaneridentiteit wat op ons gemeenskaplike taal en afkoms berus. Verkeer die Afrikaner vandag in Suid-Afrika nie ook maar in diaspora teenoor die ander, demografies en polities dominante volkere rondom hom nie?
  4. Terwyl Afrikaanse instellings een na die ander voor die politieke aanslag en staatsdruk geswig het, leef Afrikanerskap virtueel voort, op webblaaie en sosiale media. Sodoende ondergaan ons tradisie tegelyk ‘n herbevestiging en ‘n vernuwing.
  5. Hiermee saam en teenoor ‘n vyandiggesinde staat, ondergaan Afrikanerskap ook ‘n privatisering en Afrikaans verteenwoordig vandag ‘n opkomende mark vir musiek, letterkunde, films en ander kultuurprodukte wat sover moontlik ontwikkel moet word en wat Suid-Afrika se grense oorskry.
  6. Ons ekonomiese oorlewing, soortgelyk aan dié van Jode, Grieke of Portugese in Suid-Afrika, hang saam met die vestiging van etniese handelsnetwerke en onderlinge ondersteuning. ‘n Nuwe soort Reddingsdaadbond is nodig, wat egter aangepas is vir die een-en-twintigste eeu.

Watter rol kan PRAAG nog vorentoe speel? Ek dink kultuur en ekonomie onder Afrikaners is besig om op ‘n natuurlike manier saam te vloei. Soos wat diskriminasie in die werkplek of in die handel toeneem, word Afrikaners na die kleinsakesektor verdryf waar hulle noodwendig met mekaar moet handel dryf. Daarmee saam assosieer hulle deur Afrikaanse musiek, letterkunde, kunstefeeste en media met mekaar. Tans vind daar ‘n aanslag op die kunstefeeste plaas met Steve Hofmeyr wat gesensureer word en verbied word om op Oudtshoorn by die KKNK en Nelspruit se Innibos op te tree.

Die rol wat PRAAG kan speel, is om hierdie natuurlike samevloeiing van kultuur en ekonomie onder Afrikaners te stimuleer en uit te bou. Terwyl ons as ‘n versetsbeweging en taalaksiegroep begin het, bou ons tans aan ‘n sterker Afrikaanse kultuur en etniese ekonomie.

Meer konkreet, beteken dit die volgende:

Oor die volgende paar jaar, gaan ons die mark vir vertaalde Afrikaanse boeke waarmee ons reeds in 2003 begin het, geweldig uitbrei deur ten miste tien nuwe vertalings per jaar uit Frans, Duits, Nederlands, Russies, Tsjeggies en die Skandinawiese tale te publiseer. Nie net verbreed ons die aanbod van boeke in Afrikaans nie, maar neem sodoende ook weer bande op met Europese lande, ambassades, skrywers, uitgewers en alles wat daarmee saamhang.

Daarmee saam gaan ons voort om oorspronklike Afrikaanse boeke uit te gee, soos romans, digbundels, jeugliteratuur, geskiedenis, politiek, noem maar op. Kyk maar uit vir die wit PRAAG-boeke met hul blou titels, want oral in die boekwinkels sal hulle meer en meer rakruimte in beslag neem, asook op die winkel hier op ons webblad! Nuwe titels sal ook voor hul verskyningsdatum op Praag Uitgewery se amptelike webblad aangekondig word. Teenoor die armoedige, polities korrekte “Suid-Afrikaanse letterkunde” wat Naspers tans aan ons afsmeer, gaan PRAAG ‘n nuwe Afrikaanse letterkunde laat verrys wat volledig by die “Europese literêre metasisteem” ingelyf is. In sommige opsigte sal Afrikaans weer ‘n Noord-Europese taal raak en sal ons mense vir die eerste keer ‘n uitsig verkry op die taalgebied en stamlande waar ons vandaan kom. Meeste mense verkeer onder die illusie dat Engels ‘n mens toegang tot Europese letterkunde bied, maar hulle is verkeerd aangesien baie min Europese boeke ooit in Engels vertaal word. Veel eerder is die tale waar vertalings aktief heen en weer gedoen word: Frans, Duits, Nederlands, Sweeds, Noors en Deens. Afrikaans moet deel van dié groepering word.

Ons het daaraan gedink om Afrikaanse films ook te begin maak, maar omdat die behoefte aan goeie Afrikaanse boeke groter is en ons reeds in dié bedryf gevestig is, wil ons eers ‘n groot sukses daarvan maak alvorens ons ander media aandurf. Die kombinasie van kort artikels op ons webblaaie en boeklengte-publikasies in die vorm van romans of essays, sal hopelik ‘n groot bydrae tot die Afrikaanse kultuur lewer en vir daardie broodnodige herlewing sorg.

Vyf miljoen Dene koop jaarliks ‘n verstommende 30 miljoen boeke aan. Dit verteenwoordig ‘n uitgewersbedryf van seker om en by tien miljard rand. Enkele jare gelede is die totale uitgewersbedryf in Suid-Afrika, wat veral Engelse skoolboeke in die swart skole insluit, op slegs R1,6 miljard beraam. Indien Afrikaners, wat reeds geesdriftig Afrikaanse musiek ondersteun, Afrikaanse boeke teen dieselfde tempo as Dene begin aankoop, is dit dus teoreties moontlik dat ons boekbedryf dié van die res van Suid-Afrika kan oortref. Duisende werkgeleenthede kan sodoende geskep word, om nie te praat van die algemene kulturele en politieke uitwerking van so iets nie. Pleks van die stereotipe propaganda oor Suid-Afrika wat tans die wêreld ingestuur word, sal die komplekse, genuanseerde prentjie wat Afrikaners raaksien, in duisende romans en politieke boeke verwoord word.

Terloops, sal van ons boeke wat onlangs slegs as e-boeke verskyn het, binnekort ook op papier beskikbaar wees. Veral Gustav Venter se twee romans, Die amigdale van Alrina Smal en Bodem, verteenwoordig onverskrokke werke wat in enige normale land sonder sensuur reeds almal aan die praat sou gehad het.

Die ironie is dat die brandewyn-en-Coke-kultuur wat ons vyande ons so graag voor die kop gooi, vandag juis die linkse kultuur in Suid-Afrika benoem. Of miskien moet ‘n mens dit die dagga-en-domkop-kultuur noem. Onlangs lees ek ‘n onderhoud met die Franse skrywer en denker, Régis Debray, wat op ‘n stadium ‘n ondersteuner van Ché Guevara in Suid-Amerika was. Hy sê: “My menings is links, my smaak is regs, veral wat letterkunde of kuns betref.”* In dié opsig het die daggakoppe en marxiste in Afrikaans nog geen kultuur geskep nie; hulle het bloot dít wat bestaan en deur regses en konserwatiewes geskep is, probeer afbreek.

Die politieke en veral demografiese revolusie wat Suid-Afrika getref het, staan nog in sy kinderskoene. Na alle verwagting, gaan dit radikaliseer en sal ons uiteindelik soos in Zimbabwe die toenemende onteiening van blanke grond en ander bates soos aandele en pensioengelde beleef. Dit is dus van die uiterste belang dat Afrikaners, tesame met ons oor en weer vertaling van Europese skrywers, ook maatskappye buite Suid-Afrika in ander jurisdiksies moet vestig van waar ons ‘n gedeelte van ons ekonomiese aktiwiteit, soos invoer-uitvoer, aanlyndienste, ens., kan bedryf. Liefs moet ons ons eie bank in Europa vestig waar die ANC nie ons kontant, aandele en ander bates kan nasionaliseer nie.

By gebrek aan enige onmiddellike politieke oplossing, is dit ons doel om Afrikaners as ‘n hegte kulturele en ekonomiese eenheid saam te snoer, met die Afrikaanse kultuur wat bloei, asook klein en groter sake wat hier en globaal met mekaar handel dryf en sodoende die Afrikanerekonomie laat groei.

Dit was ‘n klein begin op 22 Februarie 2000, maar so tussen twintig en dertig mense in ‘n lesingsaal van UNISA. Vandag strek PRAAG se invloed – danksy ons webblaaie en ander inisiatiewe – regoor die wêreld. Maar dit is nog nie genoeg nie.

Persoonlik voel ek geweldig trots daarop om ‘n Afrikaner te wees. Ons beskik oor ‘n unieke taal en kultuur waarvan die hele wêreld behoort kennis te neem. Op gelyke voet met die lande van Noord-Europa waar ons vandaan kom, behoort ons ons as die mees suidelike punt van die Westerse kultuur te herbevestig, met dieselfde regte as elke ander volk op aarde.

Slegs wanneer ons in die naam van ‘n intelligente en gesofistikeerde tradisie praat wat ook vir ander verstaanbaar en toeganklik gemaak is, sal ons daarin slaag om ons só te laat geld.

Indien PRAAG hierin ‘n rol kan speel, was en is hierdie hele avontuur beslis die moeite werd.

* “Régis Debray: un candide à sa fenêtre” in Le Bulletin Gallimard nr. 506, janvier-février 2015, bl. 7.


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.