Dawie Louw se roman, eMajuba

Helen Schöer het D(awie) Louw se roman, eMajuba (Tygervallei: Naledi, 2014, 397p, R179) geresenseer (Die Burger, By, 31 Januarie, p 8). Heel aan die begin verwys Schöer na die volgende opmerking van Louw: “Die pas waarteen die Afrikaner verengels, is egter geen verbeeldingsvlug nie. Dis die harde werklikheid en dis hoekom eMajuba geskryf is” (p 394). Die resensent skryf voorts: “Plek-plek slaan daar ‘n prekerigheid in die boek deur oor die dreigende heengaan van (goeie, ordentlike, suiwer) Afrikaans.”

“Louw het twee ander dinge ook op sy agenda … Hy voel duidelik beswaard dat die Boere alleen die blaam vir apartheid dra, en dat die Britte skotvry daarvan afkom. [“Net die Boer moet die skuld vir apartheid kry, niemand anders nie,” p 365.] Ook is hy nie gelukkig met die plek van die Anglo-Boereoorloë, of Vryheidsoorloë, in die geskiedenis nie, want daaroor preek die karakters ook plek-plek vir mekaar … As jy saamstem met Louw oor die taal en die geskiedenis, soos baie mense sekerlik doen, gaan jy sommer lekker lees. Maar wees gerus, selfs al is jy nie gepla met die Afrikaner en sy geskiedenis nie, is daar oorgenoeg in die boek om jou te boei.”

Die trant van Schöer se opmerkings maak dit myns insiens duidelik dat sy nie (of sekerlik nie in dieselfde mate as Louw) oor Afrikaans en Afrikanergeskiedenis “gepla” is nie. Let in hierdie verband ook op die woorde “prekerigheid”, “heengaan” en “beswaard”. Dat die karakters vir mekaar “preek”, is ‘n growwe veralgemening; ‘n vertolking gevoed deur die resensent se gebrekkige simpatie met Afrikaners en Afrikaans. Daar is myns insiens net ‘n enkele geval waar Louw se “agenda” (soos Schöer dit noem) moontlik te opsigtelik deurslaan (kyk heel aan die einde hieronder); ‘n geval van: “Askies, ek klink nou fokken prekerig” (p 63). Vir die res is dit nooit steurend nie.

Schöer skryf: “Ek het nie ‘n probleem daarmee dat skrywers ‘n agenda het nie – my probleem is eerder dat dit hier lomp hanteer is in die dialoog.” Ek dink die werklike probleem is dat “betrokke literatuur” in die nuwe Suid-Afrika geloof word as dit die huidige bedeling (bv swart meerderheidsregering en gedwonge rasse-integrasie) steun en dat pogings ter onderskraging van Afrikaners en Afrikaans feitlik outomaties met skeptisisme bejeen en glad te geredelik as ongewens beskou word.

Die boektitel verwys na die Slag van Majuba aan die einde van die Boere se Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) toe hulle met ‘n klinkende oorwinning politieke vryheid verkry het. “Met Majuba is ‘n hele oorlog gewen … Eie vlag, eie volkslied, eie taal, eie trots” (p 195). Die verwys ook na die kop Klein-Majuba in die omgewing van die plase waar die twee boeregesinne woon. Die e-voorvoegsel verwys na die hedendaagse elektroniese kommunikasie van inligting, wat later in die verhaal ‘n groot rol speel. Na die konvensionele en guerrilla-oorlogvoering van die Anglo-Boere-oorlog en die ANC en PAC se terreurveldtogte het kuberoorlogvoering sy verskyning gemaak. In die boektitel word dus aangedui dat die roman met sowel die verlede as die hede te make het.

Die boek handel oor twee ineengestrengelde boere-familiesages, dié van die Boshoffs en die De Beucks, oor vier of vyf geslagte heen, van 1901 tot 2014. Die Suid-Afrikaanse geskiedenis word in die teks weerspieël. Aan die begin skryf die outeur: “Die gegewens in hierdie verhaal is fiktief. Gebeure, mense en plekke wat vooreenstem met die werklikheid, is slegs as vertrekpunte gebruik” (p 5). Later brei hy hierop uit: “eMajuba is ‘n verbeeldingsvlug. Die ‘feite’ in die boek is geplaas om ‘n fiktiewe storielyn te ondersteun, al klink dit plek-plek histories korrek. Die karakters is ook almal fiktief, al word daar deurentyd so direk op die (bekende) man afgepraat” (p 394). In die teks word daar meermale na die Rubicon verwys; ook na bv Uhuru, Mulder-gate en die wapenskandaal. Ons weet dat PW Botha dit wyslik geag het om nie die Rubicon oor te steek nie. FW de Klerk het dit egter te midde van dawerende applous gedoen, met fatale gevolge vir die land, die blankes en veral die Afrikaners.

Daar is verwysings na historiese figure soos Paul Kruger, Christiaan de Wet, Koos de la Rey, Siener van Rensburg, koningin Victoria, koning Edward VII, Cecil John Rhodes, Horatio Kitchener, Emily Hobhouse, Louis Botha, Jan Smuts, DF Malan, John Vorster, Jaap Marais, PW Botha, Lang Hendrik van den Bergh, Eschel Rhoodie, Niel Barnard, Bram Fischer, Beyers Naudé, Ian Smith, Oliver Tambo, Nelson Mandela, Ruth First, Chris Hani, Kader Asmal en Thabo Mbeki. Daar is ook ‘n ligbruin airedale terriër genaamd Nelson. ‘n Karakter “wonder of dit is om iemand te vereer” (p 254). Oor FW de Klerk word daar geswyg.

Die verlede en hede word vindingryk in die hoofstukke afgewissel. In die hoofstukke wat oor onlangse gebeure handel, word daar soms verhelderende kommentaar op vroeëre hoofstukke gelewer. Daar is ‘n oorvloed aksie en dit lyk asof die boek geskryf is met moontlike verfilming in gedagte. Die teks vloei moeiteloos in goeie Afrikaans. Die gebeure is meesal geloofwaardig, hoewel hulle noodwendigheid soms bevraagteken kan word. Ek dink dit is gedoen om die spanningslyn in stand te hou. ‘n Ander oorweging was seker om onverwagte kinkels aan die verhaal te gee. Ek gaan egter nie die storie hier oorvertel nie en volstaan met die opmerking dat dit ‘n roman ver bo die gemiddelde in gehalte is.

Ek verkies om my aandag by ideologiese aspekte te bepaal en gebruik/misbruik Louw se teks as vertrekpunt. “Joernalistiek gaan oor … die skep van persepsie, en veral die manipulasie daarvan” (p 12). “Persepsies … is van die sterkste kragte wat bestaan” (p 70-71). Persepsie is: “Die krag wat die denke van die massas vorm en manipuleer … Dat persepsie ook die verlede kan misvorm, het hy ook geweet” (p 174). Tans is daar bv “‘n persepsie dat dit kief is om Engels te wees” (p 183). “Toe ek Afrikaans praat, bekyk hy my of die kat my daar ingedra het” (p 208). Ons moet myns insiens poog om hierdie situasie om te keer: Dat dit kief is om Afrikaner en Afrikaans te wees. Dit is propaganda in die massamedia (pers, radio, rolprente, televisie, internet) wat die persepsie geskep het dat apartheid net sleg was en dat gedwonge rasse-integrasie wonderlik is; dat die blankes boos en die swartes moreel meerderwaardig is; dat wittes verguis en swartes geprys moet word; dat Nelson Mandela “one of the great peace makers of all time” (p 374) was, dus nie ‘n geweldenaar nie maar ‘n vredemaker en versoener was; dat die nuwe Suid-Afrika nie-rassisties en strate beter as die ou Suid-Afrika is; en selfs dat ‘n blink toekoms op ons almal wag, al is daar nie eens genoeg elektrisiteit nie.

Ons verlede moet nie versmaai word nie. “‘n Mens het ‘n verlede nodig” (p 146). “Die verlede bied meer sekerheid as die hede” (p 62). Daar word verwys na “die onblusbare gees van ‘n Boerevolk wat hom nie laat onderkry nie” (p 84). In die skole in die konsentrasiekampe is net Engels geduld. Een van die karakters is ‘n onderwyseres en “word betrap dat sy Afrikaans met die kinders praat en word terug tent toe gestuur” (p 89). “Afrika is voos van die littekens van imperialisme” (p 235). “Kolonialisme en imperialisme het Afrika vermink, maar hoekom word net een deel van die bevolking vir die gruwels van apartheid blameer?” (p 64). “Boer is ‘n bedreigde spesie” (p 87). Daar word verwys na ‘n karakter se “beheptheid met die Boere” (p 106). “Ons moet nie opgee nie … Ons sal weer ‘n Majuba hê … Ons gaan Kitchener opdonder, net soos Colley destyds” (p 91). “Die Kakies kan óns in hierdie varkhokke aanhou, maar nie ons gedagtes nie” (p 108). Oor die konsentrasiekampe: “Hoe de donder het die Britte daarmee weggekom?” (p 117). “Die Britte [het] tot vandag toe nie om verskoning gevra … vir die gruwels wat hulle hier kom pleeg het nie” (p 329). “Engeland … sal hom nooit twee keer laat nooi om te moor en te vermink nie” (p 149). “Die Boer haal niks op niemand uit nie. Ons keer net dat ons mense weer beleef wat die Engelse aan ons gedoen het” (p 238).

Dit hinder dat die swartes deurgaans gunstig, dus polities korrek, voorgestel word. Dít word gedoen al is dit waar: “Xhosa en Boer veg sedert 1779 teen mekaar” (p 345). “Die Boer behandel die swartman nou soos wat hyself deur die Brit behandel is” (p 233). “Om iets soos Sharpeville te verdedig is moeilik” (p 251). Myns insiens is dit in hierdie geval moeiliker om die swartes se gedrag te verdedig as dié van die wittes. “Dis polities korrek om die Boer vir alles te blameer” (p 293). Van die wit karakters het heelwat geraamtes in die kas. Tydens die Anglo-Boere-oorlog skaar die Boshoffs hulle by die Boere, terwyl die De Beucks hulle lot by die Britte inwerp. “Om met die Kakies te heul was hoogs voordelig” (p 223). Daar was selfs ‘n De Beuck wat met ‘n dame uit Engeland getrou het. ‘n Ander De Beuck word “later lid van die Broederbond. Ook van die Ossewabrandwag, en later selfs ‘n Stormjaer” (p 199). Nog ‘n De Beuck beklee nog later een van die hoofposte in die Nasionale Party-regering se inligtingsdiens, terwyl ‘n Boshoff en sy vrou by die ANC se gewapende vleuel, MK, aansluit. In die meer onlangse geskiedenis word in albei families kinders by Tswanas verwek. “Ek is nie so trots om Boer te wees soos wat sy was nie” (p 226). Die uitbeelding van sulke drastiese gedragsveranderings is nie onrealisties nie. Daar word verwys na die twee Boere-generaals, “Louis Botha en Jan Smuts se verraad” (p 150; ook p 166). Oor die mynwerkersstaking in 1922: “Jannie [Smuts] was nog altyd gretig om die Ingelse mynbase se vuilwerk te doen” (p 165-166). “Smuts, die man met hande rooi van sy eie mense se bloed” (p 185).

“PW [Botha] sal uit ‘n posisie van mag wil onderhandel” (p 338). “Soos PW, wil Mandela ook uit ‘n posisie van mag onderhandel. En mag spel jy met ‘n A en ‘n K en ‘n 4 en ‘n 7” (p 344). “Politiek gaan … oor mag … die politikus wat bereid is om mag af te staan, moet nog gebore word” (p 243). Dit is in 1975 gesê, dus voordat FW de Klerk in 1989 die staatshoof geword het. Hy het homself en sy regering van mag gestroop deur die veiligheidsmagte (weermag en polisie) glad nie as troefkaarte te benut nie. Sy onderhandelings is in swakheid volbring. De Klerk se verraad was/is selfs meer skadelik en durend as dié van Smuts. “Jou siel kan jy vir welvaart verruil, maar betaaldag kom” (p 156). Die outeur verwys na “die sondaars Nimrod, Efialtes en Tifoon [oftewel (myns insiens) Louis Botha, Jan Smuts, FW de Klerk] in die negende sirkel van die bevrore hel in die Inferno van Dante. Daardie laaste sirkel wat beskore is vir hulle wat die ergste sonde denkbaar pleeg: verraad” (p 200). Dink ook aan die talle Broederbonders wat hulle knus by die ANC geskaar het. “ANC lede met wit velle is nie meer ‘n vreemde gesig nie” (p 218). “Solank daar joiners is, sal daar altyd oorlog wees” (p 155).

Na Nelson Mandela se afsterwe berig ‘n nuusdiens: “Die volk se pa is dood” (p 47-48). Daar word twee keer selfs na “Madiba” verwys (p 50). In die ou Suid-Afrika was die Afrikaners die volk, bv “Sy … bid … vir haar volk” en soggens sing hulle “Kent gij dat volk” (p 95). Op Kerkplein, Pretoria: “Oom Paul [Kruger] met ‘n wakende oog oor dat volk” (p 357). Die nuwe Suid-Afrika het ongevraagd talle swart volksvaders en -moeders opgelewer waarmee Afrikaners kwalik wil assosieer. Daar is geen sprake van ‘n Suid-Afrikaanse nasie waarvan Afrikaners deel is nie. Daar is bloot ‘n Suid-Afrikaanse bevolking. Waarna Afrikaners smag, is “om te behoort” (p 221) aan ‘n eie land en ‘n eie nasie. “Ek wil … tussen my mense” wees (p 223). Vir ware nasieskap is ‘n etnies-kulturele tuisland vir Afrikaners gevolglik noodsaaklik.

Oor die Soweto-opstand in 1976 word geskryf: “Afrikaans het die skuld gekry” (p 288), dus Afrikaans is tot sondebok gemaak. Die onderwyseres van een van die karakters was daarop gesteld dat sy Afrikaans “mooi moes praat … Sonder jou moedertaal is jy niks … Onthou dit” (p 77). Dit herinner aan Jan Rabie (1920-2001) se woorde: Sonder Afrikaans is ek niks. “Die Afrikaner, veral, verengels teen die spoed van lig” (p 183). “Afrikaans boer vinnig agteruit. Met die sogenaamde nuwe Afrikaans wat die ou Afrikaans verdring. Asof laasgenoemde ‘n verleentheid vir die Afrikaner geword het” (p 184). “Almal wat Afrikaans is … is selfs lief om hul Engels uit te stal. Op straat praat hulle al Engels met mekaar. Weliswaar swakkerige Engels, maar so suiwer as wat hul swaar r’e dit toelaat. Natuurlik sonder ‘n enkele Afrikaanse woord tussenin. Engels, die taal van konings. Van die elite” (p 383). Waarom is dit vir alle Suid-Afrikaners belangrik om Engels so suiwer moontlik te besig, maar Afrikaans mag maar in mengeltaal of koeterwaals ontaard? (HAT: “Koeterwaals: onverstaanbare brabbeltaal; gebroke taal, kromtaal.) Dit kom neer op ‘n gebrek aan respek vir Afrikaans en eintlik vir Afrikaners. Baie Afrikaners praat self bedenklike Afrikaans omdat hulle hulle selfrespek verloor het.

Ten slotte kom ek by die enkele keer waar die dialoog neig om te “prekerig” en dus roman-disfunksioneel te word (p 364-365).

Met verwysing na die gedig van Totius (1877-1953), “Vergewe en vergeet”, word genoem dat die wondmerk van die doringboompie wat al groter word,

“Engels [kan] wees wat ons taal so binnedring. Nee, nie binnedring nie. Binnegenooi word … Toe onse Lord Kitchener sy geveg teen die Boervrou wen, het Boer respek vir Kakie gekry.”

“Die Afrikaner is sy identiteit kwyt. Na ’94 is hy ‘n weggooikind. Een wat nou na aanvaarding soek.”

“Maar daar’s ‘n nuwe Afrikaner op pad. Wat soos ‘n Phoenix uit die as verrys. Wat lojaal teenoor Afrikaans gaan bly.”

“Watter Afrikaans? Die taal het deesdae vele stemme.”

“Ek praat van die Afrikaans wat uit die hart kom. Wat deel van jou is. Waarop jy trots is. Wat vertroetel en opgepas moet word.”

“Hoe lyk hierdie nuwe Afrikaner van jou?”

“Die Phoenix gaan verby velkleur kyk. Hy gaan verdraagsam wees teenoor ander wat ook lief vir die taal is. Hy gaan verdraagsaam teenoor hul godsdiens wees. Teenoor hul politiek. Onbenullige verskille tussen mense gaan nie saak maak nie. Die Taal gaan die gemene deler wees … Boer triomfeer omdat hy uiteindelik van sy vooroordele ontslae is.”

“Jy hou nie van die Engelse nie … Is ek reg?”

“Verkeerd. Om vandag se Engelsman vir destyds se vergrype te blameer is absurd. En onregverdig.”

Dan is dit ook onregverdig om al die hedendaagse blankes in Suid-Afrika vir slawerny, kolonialisme, imperialisme en rasse-segregasie/apartheid te blameer. Daarmee word nie geïmpliseer dat hierdie verskynsels noodwendig net sleg was/is nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.