Die polisie in Mosambiek het ‘n man in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hy tradisonele bier vergiftig het.
Sowat sewentig mense is dood nadat hulle pombe, ‘n tradisionele Mosambiekse bier by ‘n begrafnis gedrink het. Die bier, wat gemaak word met gort of koring, word oor twee dae gebrou.
Graciano Antonio is in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om te vlug, het ‘n provinsiale woordvoerder van die polisie, Luis Nudia gesê.
Hy is na die hoofstad van die noordoostelike Tete-provinsie geneem waar hy aangekla sal word.
Byna 200 mense is in die hospitaal opgeneem nadat hulle van die pombe gedrink het, het die gesondheidsowerheid gesê.
Die gesondheidsowerheid is van mening dat die bier met krokodilgal vergiftig is, maar kenners is skepties of dit giftig is.
Monsters van die dodelike bier is sedertdien na die Verenigde State en Duitsland gestuur vir toetse.