‘n Routydperk van drie dae is in Haïti, die oudste swart republiek, aangekondig nadat jolyt in ‘n nagmerrie ontaard het.
Minstens 16 mense het Dinsdag in Port-au-Prince, die hoofstad van Haiti, omgekom toe ’n man tydens die jaarlikse karnaval bo-op ’n vlot geskok is.
Die sanger van die hip-hop-groep Barikad Crew, Fantom, is geskok deur die oorhoofse kragkabel toe hulle vlot onder dit beweeg het. Verskeie ander mense is ook deur die kragkabel geskok.
Volgens premier Evans Paul het 16 mense gesterf en 78 is beseer. Hy het ook ’n routydperk van drie dae afgekondig.
Hy en pres. Michel Martelly het saam met honderde mense hul medelye op die ongelukstoneel gaan betoon.
Die sanger sal na verwagting oorleef, het een van die dokters wat hom behandel in ’n radio-onderhoud gesê.
Volgens dr. Joel Desire is die meeste van die mense wat gesterf het, egter doodgetrap in die stormloop nadat Fantom geskok is.