Verdagte brief in Kopenhagen gevind na moordaanvalle

Deel op

Die polisie van Kopenhagen het Maandag gesê dat ’n “verdagte” brief ondersoek word wat in die kultuursentrum gevind is waar Saterdag se Moslemterreuraanval die lewe van een mens geëis het.

Dit is die tweede soortgelyke aanval in Europa, nadat medewerkers van ‘n Franse satiretydskrif Charlie Hebdo in koele bloede in Parys neergevel is deur Moslemaanvallers.

“Ammunisie-deskundiges is uitgeroep na Krudttoenden. Dit is die normale prosedure,” het die Kopenhaagse polisie op Twitter geskryf. Die nuusagentskap, Ritzau, het berig dat die brief bood­skappe bevat wat met Saterdag se aanval verbind word.

Die verdagte skieter in die twee aanvalle die naweek is Sondag deur polisie doodgeskiet, maar Kopenhagen is steeds op ’n hoë gereedheidsgrondslag. Twee mense is Maandag aangekeer en word daarvan beskuldig dat hulle die aanvaller gehelp het.

Denemarke steier om sin te maak van die naweek se dodelike aanvalle.

Maandagaand het inwoners vir ’n kerslig-nagwaak byeengekom op die toneel waar die gewapende man losgebrand het op ’n spraakvryheidforum. Die eerste slagoffer was die 55-jarige rolprentmaker, Finn Norgaard, wat tydens die forum se byeenkoms doodgeskiet is. Dieselfde aanvaller het daarna die stad se hoofsinagoge geteiken en die 37-jarige Dan Uzan doodgeskiet.

Die eerste minister, me. Helle Thorning-Schmidt, het by die geleentheid ’n beroep op nasionale eenheid gedoen.

“Vanaand wil ek aan alle Deense Jode sê: Julle is nie alleen nie. ’n Aanval op Jode in Denemarke is ’n aanval op Denemarke, op almal van ons,” het Thorning-Schmidt gesê.

Die Deense parlement het Maandag vir die eerste keer sedert die aanvalle vergader.

Die verdagte in die aanvalle is geïdentifiseer as Omar Abdel Hamid El-Hoessein. Hy het kort voor die skietery op Facebook trou aan die leier van die Islamitiese Staat-groep, Aboe Bakr al-Baghdadi, gesweer.

Amerika se president, Barack Obama, het Maandag sy solidariteit met Denemarke in ’n telefoonoproep aan Thorning-Schmidt betuig. Die twee leiers het ooreengekom om saam te werk om aanvalle op vryheid van uitdrukking asook anti-Semitiese geweld te bekamp, het die Withuis in ’n verklaring gesê.

Die FBI het hulp aangebied aan Deense owerhede met die ondersoek na die moordaanvalle.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.