Grondkwessie in Swakopmund raak warm

Deel op

Ontevredenheid onder inwoners­ van informele nedersettings­ op Swakopmund­ in Namibië het Maandag kookpun­t bereik toe sowat 20 plakkershuise­ plek moes maak vir die regering se massabehuisingskema­, het die Republikein berig.

Inwoners van die DRC informele­ nedersetting het selfs gedreig om weens gedwonge uitsettings die reg in eie hande te neem.

Die probleme in Swakopmund­ hou klaarblyklik nie verband met die afgelope­ naweek se onwettige besetting­ van munisipale­ grond in ’n ander deel van die Mondesa-­woonbuur­t nie.

’n Klein groepie grond- en huislose­ inwoners het begin om ’n onontwikkelde­ blok woonpersele­ te beset, maar ná die inhegtenisneming­ van hul leiers is die onwettige strukture afgebreek en die perseel is ontruim.

Maandag het ’n amptelike struktuur­ van die hervestigingsprogram, die Democratic Resettlement Community­ Concern Group Association­ (DRCCGA), in groot getalle in verset getree teen hul verskuiwing en die afbreek van hul huise.

Dit is nadat konstruksiewerkers van die Power Oyeno Construction­ groep van maatskappye begin het om die fondasies van die nuwe huise ooreenkomstig die massabehuisingskema­ te grawe.

Power Oyeno is verantwoordelik­ vir die bou van altesaam 2 034 huise teen ’n totale koste van N$583 miljoen op Swakopmund.

Die projekbestuurder, mnr. Gerry Munyama, was gister duidelik­ onkant betrap deur die protesoptrede­. Hy het aan verslaggewer­s verduidelik dat die perseel geoogmerk is vir die behuisingskema­ en dat slegs die Nasionale­ Behuisingsonderneming­ en die plaaslike munisipalitei­t antwoorde­ oor die mense se ontevredenheid­ kan verstrek.

Volgens die voorsitter van die DRCCGA, mnr. David Nghiimbwasha,­ moet sy mense egter nou plek maak vir dié huise sonder enige waarborge dat hulle vir dié huise in aanmerking kan kom.

Hy het verskeie briewe aan Republikein­ ­beskikbaar gestel waarin sy vereniging onder meer ’n regsmening oor die gedwonge uitsettings­ ingewin het.

Die munisipaliteit van Swakopmund­ het egter reeds op 29 April 2013 ’n formele kennisgewing­ aan inwoners van die buurt gestuur waarin hulle gewaarsku word met uitsetting indien verdere onwettige­ strukture opgerig word.

“Geen verdere onwettige bouwerk sal geduld word en oortreders­ sal deur wetstoepassers­ van die grond verwyder­ word,” lui die omsendbrie­f deur die hoofbestuurder­ van gemeenskapsontwikkeling­.

In antwoord daarop het die vereniging­ skriftelik by die minister­ van streek- en plaaslike owerhede­, behuising en landelike ontwikkeling­, genl.maj. (afgetree­) Charles Namoloh, aansoek gedoen dat hulle as inwoners van die buurt die totale woonbuurt by die munisipalitei­t wil uitkoop.

’n Afskrif van die aansoek is op 15 September verlede jaar ook by die munisipaliteit ingehandig.

“Hierdie grond behoort aan DRC Village 110. Ons was die eerste mense hier en nou word ons nie eens geken in die saak nie. Ons sal nie toelaat dat hulle voortgaan nie, daar moet eers ’n oplossing gevind word,” het Nghiimbwasha gesê.

Volgens hom het hy self die polisie in kennis gestel van die gespanne­ toestand in die buurt omdat vrese bestaan het dat geweld kan uitbreek­.

Sowat twee ure later het die burgemeester­ van Swakopmund, mnr. Juuso Kambueshe, opgedaag en met die volle komitee van die vereniging vergader.

Later het die uitvoerende hoof, mnr. Eckart Demasius, met sy eie afvaardiging­ ook opgedaag.

Wat bespreek is en besluite wat geneem is, is nie bekend nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.