Terreuraanval ruk Deense hoofstad

Deel op

In nog ’n beweerde terreuraanval in die Deense hoofstad Kopenhagen, is twee mense dood en vyf polisiebeamptes in twee verskillende skietvoorvalle beseer wat slegs ure namekaar plaasgevind het.

Die eerste voorval het omstreeks 16:00 Saterdag by die Krudttoenden kultuursentrum plaasgevind en die tweede gister ná middernag by ’n sinagoge .

Dit het vrese na vore gebring van nog ’n terreurvlaag in ’n Europese hoofstad nadat 17 mense in Parys ’n maand gelede vermoor is.

Die polisie kon nie sê of die skietery by die kultuursentrum en voor die sinagoge met mekaar verband hou nie, maar dat dit nie uitgesluit kan word nie.

Twee ure later het die polisie aangekondig dat hulle ’n man by ’n trein­stasie doodgeskiet het nadat die man op hulle begin skote vuur het. Hulle ondersoek of die voorval met die ander twee voorvalle verband hou.

Volgens die polisie se verklaring het die skietery plaasgevind nadat hulle ’n adres naby die stasie onder observasie geplaas het. Geen polisielede is in die voorval beseer nie.

Die polisie het ‘n klopjag uitgevoer op ‘n internetkafee naby aan waar die verdagte geskiet is. Hoewel die polisie glo dat hy alleen opgetree het, probeer hulle bepaal of hy enige medepligtiges gehad het

Die Deense polisie het gesê in die eerste voorval het die skieter ’n outomatiese geweer gebruik om deur die vensters van die sentrum te skiet. Tydens die skietery was ’n paneelbespreking oor die vryheid van spraak aan die gang.

’n Man (55) wat die geleentheid bygewoon het, is dood en drie polisielede is beseer. Twee lede het aan die Deense sekuriteitsmaatskappy, PET, gesê die omstandighede van die voorval “dui aan dat ons praat van ’n terreuraanval”.

Die skieter het in ’n gekaapte voertuig van die toneel gevlug. Die voertuig is later ’n paar kilometer van die toneel gevind.

’n Sweedse kunstenaar, Lars Vilks (68), wat al ver­skeie doodsdreigemente in die gesig moes staar vir spotprente oor die profeet Mohammed, was een van die hoofsprekers by die geleentheid. Die naam van die geleentheid was “Kuns, laster en die vryheid van uitdrukking”. Hy is deur sy lyfwagte weggeneem en het geen beserings opgedoen nie. Vilks het later vir die nuusagentskap AP vertel hy glo hy was die teiken gewees. “Watter ander motief kan daar wees? Dit is moontlik dat dit deur Charlie Hebdo geïnspireer is,” het hy gesê.

Die polisiewoordvoerder, Joergen Skov, het gesê dit is moontlik dat die skieter beplan het om die omstandighede van Charlie Hebdo te herhaal. Nadat die polisie vir ure na die eerste skieter gesoek het, het hulle gerapporteer daar is ’n tweede skietery in ’n ander deel van die stad.

Wadsworth-Hansen het gesê die skieter het skote op twee polisiebeamptes buite ’n sinagoge gevuur. Hulle is in die arms en bene gewond, maar dit is nie lewensgevaarlik nie. ’n Lid van die gemeenskap het wel sy lewe verloor.

Die polisie beskryf die skieter van die eerste voorval as ’n man tussen 25 en 30 jaar oud, atleties gebou en hy het ’n swart outomatiese geweer gehad. Hulle het ’n dowwe foto vrygestel an die verdagte geklee in donker klere en ’n serp wat sy gesig bedek.

Met besoek aan die toneel na die eerste skietery het die Deense premier, Helle Thorning-Schmidt, dit “n politiese aanval en dus ’n terreuraanval” genoem.

Die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, het gister in Kopenhagen geland.

Die polisie in Denemarke het intussen minstens twee verdagtes in hegtenis geneem.

Moslemleiers in Denemarke het intussen die aanvalle veroordeel. Hulle sê die meeste Moslems respekteer die Deense samelewing.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.