Anglo American wil steenkoolbedryf verkoop weens aandrang op swart eienaarskap

Deel op

Verskaffing aan Eskom ‘nie belangrik in ons portefeulje’, sê Mark Cutifani

Deel op

Eskom se aandrang op “swart steenkool” mag daartoe lei dat die mynreus Anglo American al sy steenskoolverskaffing aan die elektrisiteitsmaatskappy staak. Volgens die HUB van Anglo, Mark Cutifani, word die maatskappy se besluit om sy steenkoolmyne vir die plaaslike mark te verkoop “ten dele” geneem as gevolg van Eskom se aandrang dat hul onderneming “meer as 50% swart” moet wees.

“Ons het ons planne geskets om vanuit ‘n deel van ons plaaslike verskaffing te onttrek,” het hy verlede week tydens ‘n mediagesprek gesê. “Ons reageer sowel op regeringsaandrang dat ons meer as 50% in plaaslike hande moet hê as op die feit dat, vanuit ons oogpunt, die plaaslike verskaffing ‘n goeie onderneming was, maar dit is nie so belangrik in ons portefeulje nie. Daarom, om strategiese redes en om die regering tegemoet te kom, sal ons ons eienaarskap tot onder 50% verminder, wat die New Largo-projek insluit.” Die transaksies sal egter op ‘n “handelsgrondslag” geskied en “enigeen” sal oorweeg word. Anglo sal ook geen hulp aan swart beleggers verskaf nie, wat self die fondse sal moet bekom om aandele by Anglo aan te koop.

Volgens Cutifani is daar “aansienlike belangstelling” om ‘n belang in hul plaaslike steenkoolondernemings te bekom. Daarteenoor gaan die groep glad nie enige van sy steenkooluitvoerondernemings verkoop nie. In die 2014-finansiëlejaar het die groep 18,2 miljoen ton (mt) steenkool uitgevoer, wat op ‘n jaargrondslag ‘n toename van 7% beteken. Oorsese kliënte dring geensins op rassekwotas aan as dit by die verskaffing van steenkool kom nie.

Die plaaslike steenkoolmark wentel hoofsaaklik om Eskom wat tans sukkel om genoeg elektrisiteit op te wek weens jare lange wanbestuur en die uitwerking van regstellende aksie wat ‘n verlies aan ingenieurskundigheid in die maatskappy veroorsaak het. Verkope van Anglo aan Eskom het verlede jaar met 5% tot 37,5 mt gedaal, hoofsaaklik omdat Eskom minder van Nieu-Vaal aangekoop het, asook omdat die mynmaatskappy produksie by Kriel afgeskaal het terwyl nuwe myngebiede beplan word.
“Ons is egter van plan om teen volspoed te werk sover dit steenkooluitvoere betref,” sê Cutifani. “Dus gesels ons met die regering oor wat vir ons werk en wat vir hulle werk,” sê hy. Volgens die nuwe regulasies van die departement van handel en nywerheid – die breëswartbemagtiging – moet nuwe steenkoolmyne oor ten minste 51% swart beheer beskik, terwyl Eskom in sommige gevalle op nog “swarter steenkool” aandring met 60% swart eienaarskap. Dít, in weerwil van mededingende wetgewing in die vorm van die Mynhandves wat slegs op 26% “bemagtiging” aandring.Dinge het vir die eerste keer tussen Anglo American en Eskom begin krap toe ‘n verskaffingsooreenkoms betreffende die New Largo-projek onderhandel is. Eskom se voorsitter, Zola Tsotsi, het Anglo van dubbelsinnigheid beskuldig toe daar onderhandel is vir verskaffing aan die nuwe Kusile-kragstasie wat teen 2017/18 in werking sal tree. Dié stasie sal 4 800 MW opwek. Volgens Vusi Mboweni, die waarnemende hoof van Eskom se primêre energiedepartement, mik die maatskappy tans na 55% swart bemagtiging by verskaffers, wat geslykstaande is aan 80mt per jaar teen 2022 vanaf die huidige 30% of 42 mt verlede jaar.
Dus sal Anglo American sy verskaffingseenhede aan Eskom verkoop, tesame met sy kopermyne in Suid-Amerika en sekere platinamyne in Suid-Afrika om sy huidige skuld van $12,9 miljard te verminder. Anglo wil in die toekoms iewers tussen $10 en $12 miljard skuld.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.