Richard Pithouse oor rassisme

Deel op

Onlangs het daar ‘n nogal eienaardige forumartikel, onder die opskrif “Rassisme het nog vele dekmantels,” in Die Burger (4 deser, p 11) verskyn. Dit het geen reaksie in die gedrukte uitgawe ontlok nie. Die rede hiervoor kan moontlik die pretensie op geleerdheid by die outeur, Richard Pithouse, ‘n dosent in staatsleer aan die Universiteit Rhodes in Grahamstad, wees. Die hardlywige vertaling kan nog ‘n rede wees waarom die teks skynbaar nie die verlangde resultate behaal het nie. Die artikel is gepubliseer “met vergunning van die South African Civil Society Information Service (www.sacsis.org.za).” Iemand by Die Burger, ‘n koerant wat deesdae geensins uitmunt in insig in ideologie nie, moes verdienste in hierdie teks ontdek het, bv dat dit ‘n hou sou inkry teen wit rassiste, veral Afrikaners. Oënskynlik het die reaksie op die publikasie daarvan nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Deel van die probleem is dat Pithouse geen poging aanwend om “rassisme” te definieer of enigsins te verduidelik nie. Uit die teks kan lesers aflei dat rassisme volgens Pithouse eendersyds met die geringskatting van nie-wittes deur wittes te make het en andersyds gevolglik net by wittes aangetref word. Sy grondliggende uitgangspunt is die gelykheid of wesenlike eendersheid van mense (met dié uitsondering dat wittes rassiste en nie-wittes nie-rassiste is). Pithouse is dus pens en pootjies in die mode; ‘n mode wat politieke korrektheid genoem word.

Volgens die Collins World Encyclopedia (2003, p 765) is rassisme

“belief in, or set of implicit assumptions about, the superiority of one’s own race or ethnic group, often accompanied by prejudice against members of an ethnic group different from one’s own. Racism may be used to justify discrimination, verbal or physical abuse, or even genocide, as in Nazi Germany, or as practised by European settlers against American Indians in both North and South America.”

Dit lyk asof Pithouse hiervolgens reg het deur rassisme met (gewaande) meerderwaardigheid te verbind en die genoemde voorbeelde bevestig dat (net) wittes hulle daaraan skuldig maak.

Maar let daarop dat rassisme hiervolgens dikwels/”often” vooroordeel insluit, met as implikasie dat dit nie altyd die geval hoef te wees nie. Verder word rassisme hier beskou as gevalle waar mense hulle eie etniese groep hoër as ander etniese groepe ag. Jacob Zuma se onlangse bewering dat wittes sedert 1652 verantwoordelik is vir al die probleme in Suid-Afrika kan dan seker as rassisme vertolk word, dus as aanduidend van nie-wittes se vredevolle meerderwaardigheid in vergelyking met die moeilikheidmakende minderwaardigheid van wittes.

Zuma se uitlating vind aansluiting by wat Nelson Mandela gesê het: “Elders told of the good old days before the arrival of the white man. Then our people lived peacefully under the democratic [!] rule of their kings and councillors and moved freely all over their country. Then the country was ours” (David James Smith, Young Mandela, London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, p 18). Anders as wat historiese bronne te kenne gee, beweer Mandela dat swart stamme in vrede saamgeleef het en opperhoofde nie outokraties opgetree het nie.

Die punt is dat hierdie verwysings na Zuma en Mandela toon dat swartes ook op meerderwaardigheid in vergelyking met wittes aanspraak maak, wat dan per definisie rassisties is. Sodanige rassisme word dus klaarblyklik nie net by wittes aangetref nie. Met verwysing na die Collins-definisie is nog ‘n beswaar dat rassisme myns insiens nie uitsluitlik neerkom op die verheffing van jou eie etniese groep nie, al sou dit in die meerderheid gevalle seker so wees. Byvoorbeeld, talle nie-Joodse kommentators het al gewys op die feit dat die Jode as ‘n klein etniese groep buite verhouding baie Nobel-pryse gewen het. Enersyds kan daar fout met die beoordeling wees, maar andersyds is dit moontlik dat die Jode as ‘n etniese groep in sommige opsigte (bv intellektueel) meerderwaardig kan wees.

Wat erken behoort te word, is dat die woord “rassisme” deesdae glad te dikwels as algehele verdoeming van mense, veral wittes, misbruik word. Ingevolge politieke korrektheid mag wittes onophoudelik en maksimaal sleggesê word. As daar, bv ter wille van ewewig, vir wittes in die bres getree en iets goeds van hulle beweer word, word die beskuldiging van “rassisme” glad te maklik gemaak. Onlangs is “rassisme” op Praag tereg ‘n amorfisme genoem. Rassisme is ‘n term wat soos (en dikwels saam met) die rassekaart uitgehaal word ter benadeling van blankes. Hieroor is die Menseregtekommissie nie begaan nie. Sodra daar die moontlikheid bestaan dat swartes deur wittes benadeel is, bemoei die Menseregtekommissie hom dadelik met oorgawe daarmee.

‘n Ander probleem is dat die verbod op die aanspraak van meerderwaardigheid by etniese groepe (ingevolge die definisie van rassisme) die werklikheid van verskille in ontwikkelingsvlak, asook kultuurverskille, ontken of irrelevant probeer maak. Dit is moontlik, selfs waarskynlik, dat daar in 1652 verskille in ontwikkeling by, aan die een kant, Jan van Riebeeck se geselskap en, aan die ander kant, die Khoi-San was. Die Europeërs kon bv huise en skepe bou, wat bokant die vermoëns van die Khoi-San was. In daardie sin was daardie Europeërs meerderwaardig in vergelyking met die inheemses; net soos sommige Jode moontlik intellektueel meerderwaardig kan wees in vergelyking met ander etniese groepe omdat hulle baie Nobel-pryse inpalm. In 1652 was die San in vergelyking met die Europeërs heel moontlik meerderwaardig wat jagvermoë betref.

Pleks van alle indiwidue en (etniese) groepe gelyk te verklaar (of te wens) sou dit myns insiens wys wees om enersyds ontwikkelingsvlakke (op bepaalde tye) in ag te neem en andersyds om te spesifiseer in watter opsigte die een of die ander meerder- of minderwaardig is. Hierdie twee elemente (ontwikkelingsvlakke en opsigte) word vanuit bepaalde kulturele oogpunte (bv Europees/Westers, Oosters, Afrikanisties) geëvalueer. Daarom volg dit nie noodwendig dat die een absoluut beter as die ander is nie. Vir die Europeërs kan die vermoë om huise te bou beter/belangriker as jag wees, terwyl die omgekeerde vir die San kan geld. Die punt is: Dit gaan nie noodwendig om (inherente) meerder- of minderwaardigheid nie. Sowel indiwidue as groepe kan oor tyd beter of slegter word.

Sodra groepe naas indiwidue aan die orde kom, word daar noodgedwonge van veralgemenings gebruik gemaak. Maar wat fundamenteel belangrik is, is die erkenning dat mense indiwidueel en groepsgewys (bv kultureel) verskil, dus nie eenders is soos wat die heersende propaganda beweer nie. Op ‘n bepaalde tydstip kan sekere indiwidue of groepe in sekere opsigte beter of slegter as ander indiwidue of groepe wees. Dit is in die openbare (dus gemeenskaps-, lands-, wêreld-) belang dat die beste eienskappe van indiwidue en groepe sonder belemmering optimaal benut moet kan word. Daarvoor is eerlikheid, erkentlikheid, verdraagsaamheid, grootmoedigheid, ens, nodig. Dan sou dit heeltemal in orde wees om openlik te besin oor of wittes of swartes bv ‘n land ten beste kan ontwikkel of regeer. Wetenskaplike navorsing oor bv die intelligensie van etniese groepe behoort eerder aangemoedig as ontmoedig (of selfs verbied) te word. Dit is immers ‘n bybelse waarheid dat verskillende mense verskillende talente ontvang het.

Volgens die HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, 2005, p 893) het die woord “rassisme” die volgende betekenis:

“Veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras – ‘n denkrigting wat aanneem dat ‘n besondere ras meerderwaardig is en die reg het om ander rasse te oorheers.”

Dit sou myns insiens ‘n oordrewe en onregverdigbare veralgemening wees om te beweer dat ras/etnisiteit (deurgaans) karakter en bekwaamheid bepaal. Sommige groepe kan egter in groter mate as ander oor bepaalde karaktertrekke en bekwaamhede beskik, juis omdat mense ook groepsgewys verskil. Sedert die Tweede Wêreldoorlog word dit meesal (of liefs) nie aan biologiese faktore toegeskryf nie, maar eerder aan bv kulturele of ervarings-/omgewingsverskille.

In die demokratiese na-oorlogse era is daar al hoe minder sprake dat diegene wat hulle tradisioneel as meerderwaardig beskou het, regeer. Pleks van kwalitatiewe vereistes te stel, bepaal die meerderheid kiesers, dus kwantiteit, deesdae wie regeer. “Laat staan die ewige bakleiery oor ras en aanvaar dat almal gelyk is,” het Jacob Zuma onlangs gesê (Die Burger, 9 deser, p 2). Hy verkondig dit omdat gelykverklaring swartes bevoordeel; ook omdat dit klasloosheid in die kommunistiese tradisie weerspieël. Na analogie van gelyke stemreg (een mens, een stem) behoort daar egter nie voortgeborduur te word asof werklike gelykheid in alle opsigte in die praktyk bestaan nie. Selfs die wenslikheid van gelyke stemreg kan bevraagteken word. Stemreg vir almal mag dalk aanvaarbaar wees, maar nie gelyke stemreg nie. Die stem van geletterde, ingeligte, ontwikkelde, ens, kiesers behoort meer gewig te dra as dié van ongeletterde, oningeligte, onontwikkelde en maklik intimideerbare/misleibare mense. By laasgenoemdes kan ongelyke stemreg as motivering dien om te verbeter en dan stemreg te verwerf wat meer gewig dra. Dink ook hoeveel beter ons regeer sou word as van politici (op die sentrale, provinsiale en plaaslike vlak) vereis word dat hulle gegradueerdes moet wees. Tans is selfs funksionele geletterdheid nie ‘n vereiste vir ‘n (hoogs lonende) loopbaan in die politiek nie.

Pithouse noem dat sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘n “stel biologiese vooroordele heelwat geloofwaardigheid verloor” het. Die Wikipedia se definisie van rassisme is dus eintlik verouderd: “Racism consists of both prejudice and discrimination based in social perceptions of biological differences between peoples.” Byvoorbeeld, velkleur as sodanig is nie die (hoof)rede waarom daar gediskrimineer word nie. Teen blankes word daar in die nuwe Suid-Afrika gediskrimineer nie omdat hulle wit is nie, maar omdat hulle as aandadig aan slawerny en rassediskriminasie deur hulle voorgeslagte beskou word; ook omdat daar jaloesie/haat is omdat blankes dikwels begaaf (bv kundig, vindingryk, bekwaam) en (gevolglik) welvarend is. Ek verkies om eerder na etniese groepe as na rasse te verwys. Deesdae word daar nie geroem op die bloed wat in jou are vloei nie, maar eerder op jou DNS, wat egter niks van jou kultuur, bv moedertaal, openbaar nie. Om kulturele onderskeide te erken, is myns insiens nie net regverdigbaar nie, maar ook hoogs wenslik en kan tot ‘n groter mate van geregtigheid lei.

Pithouse begin sy artikel met die stelling dat rassisme nie tot apartheid gereduseer moet word nie, want daar is ook nog kolonialisme en neokolonialisme. Later verwys hy na die Ku Klux Klan, Nazi-Duitsland, Frankryk se “wreedaardige koloniale geskiedenis” en rasse-segregasie in die VSA. Dit is duidelik dat hy net blankes van rassisme beskuldig. Hy is ook onsensitief vir die feit dat kolonialisme en apartheid veel meer as bloot rassisme behels het. Byvoorbeeld, om die behoud van jou eie kultuur voorop te stel, kan onmoontlik sonder meer rassisties, oftewel boos, wees.

Pithouse verwys na “narre soos Steve Hofmeyr en skadelike trolle* wat hul lewe op die kommentaar-afdelings van aanlyn media mors.” Dit dui op ‘n relatief nuwe verskynsel. Voorheen is beswaar gemaak teen wat Afrikaners glo “om die vleisbraaivure” kwytraak. Deesdae word daar al hoe meer geweeklaag oor die kommentaar wat op die aanlyn- (bv sosiale) media gepubliseer word. Op hierdie twee gebiede wil die oorverligtes graag uitdrukkingsvryheid aan bande lê. Dié besware is nooit teen afrikanisme, kommunisme en dergelike skadelike uitlatings van nie-wittes gemik nie, maar altyd net teen wat blankes, veral Afrikaners, glo te sê sou hê. As tans benadeeldes, as neo-tweedeklasburgers, soek blankes/Afrikaners ‘n uitlaatklep vir hulle griewe. Hulle word nie toegelaat om hulle besware in die massamedia, bv die gedrukte koerante, te lug nie en selfs op baie van die elektroniese webwerwe word polities korrek strenge sensuur toegepas. Pleks van blankes/Afrikaners in hierdie opsig te probeer muilband behoort daar eerder van hulle mishae kennis geneem en na oplossings vir hulle ongelukkigheid gesoek te word. [* Volgens die HAT is ‘n trol ‘n mitologiese “wese, reus of dwerg, wat in ‘n grot woon en soms boos kon wees.” Dalk het daar ‘n drukfout ingesluip: ‘n t pleks van ‘n d.]

Voorts word beweer dat rassisme veroorsaak dat ‘n “verwronge beeld van Martin Luther King [ge]vier” word. In werklikheid was King, wat karakter, bv moraliteit, betref (soos maklik op die internet vasgestel kan word), van die bedenklikste wesens/organismes wat ooit daarin geslaag het om in sekere kringe ikoniese status te verwerf. Pithouse skryf voorts oor Amerika: “Maar niks hiervan verhinder steun vir vorme van de facto-segregasie nie, of vir die ongestrafte moord op swart mans, die akuut rassige aard van die strafregstelsel of imperialisme wat met bomme en marteling verwoesting reg oor die wêreld saai nie.” Hier het Pithouse dit teen die (wit) Amerikaners, bv hulle neo-kolonialisme. Maar hy verswyg bv die (kommunistiese) neo-kolonialisme van China en Rusland, asook dié van Islamitiese groepe. “Ongestrafte moord op swart mans” moet liewer nie geopper word nie. Baie meer swartes is deur mede-swartes vermoor as deur wittes. Ook is dit waarskynlik dat meer Amerikaanse wittes deur swartes vermoor is as andersom. Dit geld sekerlik Suid-Afrika; by uitstek die nuwe Suid-Afrika.

Die onafhanklikheidswording van Indië in 1947 word deur Pithouse geloof as die einde van (tradisionele) kolonialisme. Hiermee word gekontrasteer die “wetlik verskanste rassisme” van enersyds apartheid in Suid-Afrika in 1948 en andersyds van Israel met sy totstandkoming in dieselfde jaar. Wat Pithouse te kenne gee, is dat Suid-Afrika en Israel uit pas met die werklikheid was/is. Na die Tweede Wêreldoorlog het ‘n “verskuiwing … plaasgevind na ‘n abstrakte bevestiging van universele gelykheid via die taal van menseregte.” Pithouse vra hom nie af of “universele gelykheid” ‘n romantiese droom is nie. Byvoorbeeld, Arthur Kemp sê van gelykheid: “A far-fetched notion even among homogenous groups of people” (Nova Europa, Ostara Publications, 2013; Amazon Kindle 474). Werklike gelykheid is uiters vergesog in ‘n multikulturele land soos Suid-Afrika. Pithouse besin ook nie oor die moontlikheid dat die verskansing van blanke- of Afrikanerkultuur in Suid-Afrika en dié van Jode in Israel moontlik verdienste kan hê nie. Dit is ook kenmerkend van baie blanke Engelssprekendes dat hulle voorgee dat rasse-segregasie plaaslik in 1948 met apartheid begin het, terwyl apartheid in werklikheid ‘n voortsetting, in gewysigde vorm, van die tradisionele, insluitende koloniale, rassebeleid was.

Die de facto-segregasie in die Diep Suide van die VSA (tot 1964), Australië (tot 1966) en Suid-Afrika (tot 1990), insluitende die “openlike verbintenis tot geïnstitusionaliseerde wit oorheersing” word sonder meer deur Pithouse as “periferaal en agterlik beskou.” Moontlik was hierdie verskynsels randeiers in amptelike internasionale retoriek, maar sekerlik nie in die daaglikse praktyk in baie lande nie. Die karakterisering daarvan as “agterlik” is sekerlik sterk oordrewe. Byvoorbeeld, as kultuurbehoud hoef dit nie verwerplik te wees nie. Maar Pithouse herhaal sy gemeenheid. Hy loof die onafhanklikheidswording van talle Afrika-lande in die jare sestig. “Van tóé af het die wêreld apartheid en wit oorheersing in Rhodesië onherroeplik as agterlik beskou.” Hy vra homself nie die volgende voor die land liggende vraag af nie: Hoe sou Suid-Afrika en Zimbabwe daar uitgesien het sonder daardie “agterlikheid”, dus sonder dat daar ooit blankes aan die bewind was? Selfs daarvoor het Pithouse ‘n smeerwoord, naamlik “baasskap”: “Europese baasskap oor Afrika-kwessies is ‘ontwikkeling’ genoem.” Wat vir hom belangriker as daardie ontwikkeling is, is “die voortgesette ontkenning van gelykheid in die praktyk” tydens die blanke bewind.

“Vandag is dit maklik om apartheid, of die brandewyn-en-Coke-fascis van Ventersdorp [Eugène Terre’Blanche], af te maak en rassisme te projekteer op die verlede of mense wat karikature daarvan in die hede blyk te wees – terwyl in ontkenning geleef word van die teenwoordigheid van rassisme in praatwyse en magsuitoefening wat in ons hedendaagse wêreld sosiaal gemagtig word.”

Dit lyk asof Pithouse vir gematigdheid by ander mense pleit, maar hy stel self ‘n swak voorbeeld met sy woordkeuse: narre, trolle, agterlikheid, fascis en karikature. Later gebruik hy vir die derde maal die woord “agterlik” en nogeens “brandewyn-en-Coke-fascis”. Nog is dit het einde niet. Pithouse se gemeenheid bereik ‘n hoogtepunt (of laagtepunt) wanneer hy apartheid eers etiketteer as ‘n “kru, embarrasserende anachronisme” en daarna as ‘n “agterlike vorm van Afrikaner-nasionalisme.” Dit lyk asof hy weereens die Britte se vaderskap van rasse-segregasie/apartheid probeer ontken, hoewel hy darem ook verwys na “rassisme in Engelssprekende setlaarskolonies.”

Wanneer wit Suid-Afrikaners hulle in die nuwe Suid-Afrika “by ‘n gemeenskap van internasionale witheid aansluit,” toon dit glo dat hulle nog nie hulle rassisme afgesweer het nie. “Wanneer wit Suid-Afrikaners hulself beskou as mense met ‘n spesiale band met globale witheid, swig hulle dikwels voor die narsistiese [selfkoesterende] fantasie dat hul teenwoordigheid in Afrika ‘n unieke en kosbare geskenk is. Dit maak ‘n gemeenskap gegrond op die veronderstelling van ware eerder as abstrakte gelykheid onmoontlik.” Al uitweg wat daar volgens Pithouse vir wittes in Afrika oorbly, is blykbaar om te verswyg of ontken wat hulle op hierdie kontinent tot stand gebring het. Hulle moet ook van hulle andersheid gestroop word, bv deur hulle kultuur te versaak en identiteitsloos in die swart massa op te gaan. Hier is by uitnemendheid ‘n super studeerkamer-liberalis aan die woord.

Swart solidariteit word deesdae plaaslik en sonder ophou as ‘n positiewe bate voorgehou. Hier bepleit Pithouse die teenoorgestelde vir blankes. Wittes moet glo ophou om met ander blankes te assosieer en hulle by die swartes skaar. Dit laat my dink aan wat Lothrop Stoddard destyds geskryf het: “Cohesive instinct is as vital to race as gravitation is to matter” (The rising tide of color against white world-supremacy, New York: Charles Scribner’s Sons, 1920; Amazon Kindle 2319).

Pithouse is in die diepste put van politieke/ideologiese onredbaarheid, soos ook blyk uit die laaste paragraaf van sy artikel:

“As wit Suid-Afrikaners nie hul belegging in globale witheid en hul vereenselwiging met wat hulle as die inherente morele meerderwaardigheid van die Weste of die Eerste Wêreld beskou, prysgee nie, sal hulle aanhou om hul rassisme te moderniseer eerder as om dit met wortel en tak uit te roei.”

Oorweeg die keersy: Weens bv slawerny en apartheid beskou plaaslike swartes, en by uitstek ANC-kamerade, hulle as moreel meerderwaardig en blankes as moreel bankrot. Dit kwalifiseer as rassisme volgens Pithouse se norme, maar daar is uiteraard geen veroordeling hiervan in sy artikel nie. Verder, is dit rasioneel en billik om te verwag dat ‘n ontwikkelde mens die kwalitatiewe verskille tussen die Eerste en Derde Wêreld moet ontken of gelate moet aanvaar?

Rassisme kan baie vorme aanneem, bv om (1) teen ander rasse gekant te wees, hulle selfs te haat*; (2) ander rasse as geneties minderwaardig te beskou; (3) teen ander rasse te diskrimineer ter selfbevoordeling. Al hierdie vorme van rassisme behoort vermy te word, maar op ‘n nie-fundamentalistiese manier. Dit moet dus steeds moontlik wees om oor die geldigheid al dan nie van sulke stellings en houdings te besin. In hierdie diskoers behoort die term “ras” liefs met etniese of kulturele “groep” vervang te word. Waarop daar geen beletsel behoort te wees nie, is om in die bres te tree vir jou eie groep, veral as dié onregmatig verguis word. Groepverwantskap berus immers nie uitsluitlik op eie keuse nie. Byvoorbeeld, ek het nie gekies om wit te wees en in Suid-Afrika op te groei nie. [* ‘n Voorbeeld van haat is Zindzi Mandela, ‘n dogter van Nelson en Winnie: “Zindzi … felt at times resentful after 1990 that the (relatively) peaceful transition to majority rule had denied them the fight they had hoped for, their moment of revenge, the chance to ‘drive the white people into the sea'” (Smith, p 128).]

Opsommend kan gesê word dat in ‘n politieke konteks verwysings na indiwidue gewoonlik relatief onskadelik is. Dit is wanneer etniese groepe teen mekaar opgeweeg word dat die hel losbars. Om die draagwydte van my bogenoemde argumente te vergroot, dus om hulle aanvaarding in groter mate moontlik te maak, is dit nodig om af te sien van die standpunt dat ‘n bepaalde etniese groep inherent meerderwaardig is, al is dit waar dat so ‘n groep op ‘n bepaalde tyd in sekere opsigte beter as ander kan vaar. Dit is ook praktiese politiek om enige assosiasie met naziisme te vermy, al is dit ongetwyfeld waar dat die pendulum te ver teruggeswaai het.

‘n Hiërargiese benadering moet vervang word met een wat (verkieslik sonder evaluering) die verskille tussen etniese groepe erken. Hier moet die klem liefs op nie-biologiese, bv kulturele, verskille geplaas word. Dit is ook sinvoller of meer vrugbaar om nie na gelykheid/ongelykheid te verwys nie, want sodra gelykheid ontken word, word ongelykheid erken en is ons terug by ‘n hiërargie. In plaas van gelykheid moet die verskille tussen etniese groepe, dus hulle andersheid of nie-eendersheid, eerbiedig word.

Kortom, as blankes/Afrikaners is ons nie (noodwendig) meerderwaardig nie, maar ons is sekerlik anders en ons het rede om trots daarop te wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.