Brand breek by Rössing-uraanmyn uit

Deel op

‘n Brand het kort na die middaguur by die verwerkingsaanleg van die Rössing Uraanmyn by Arandis uitgebreek. Volgens voorlopige aanduidings het die brand in die bergingsaanleg vir uraanoksied ontstaan, maar het nie na die res van die aanleg versprei nie.

Selfs die brandweer van Swakopmund is ingeroep om bystand te verleen aan die eie brandweerdiens van die myn.

Op die oomblik is die brand onder beheer en bestrydingspanne laat nou net voldoende tyd toe om die dromme met uraanoksied te laat afkoel voordat die brandtoneel besoek kan word.

Alle personeel in die myngebied is ontruim en alle personeel in die verwerkingsaanleg word op die oomblik onderwerp aan bestralingstoeste. Die myn sê dit is net ‘n voorsorgmaatreël.

Rössing is in die spervuur oor gerugte dat Noord-Korea in die myn belangstel, nadat die maatskappy aangekondig het dat ‘n kontrak vir die lewering van uraan aan Frankryk teen die einde van 2012 gesluit het en dat die grootste oopgroef-uraanmyn in die wêreld nou ‘n besluit moet neem oor sy voortbestaan.

Suid-Korea het voorheen aangedui dat sy regering graag uraan van Namibië wil invoer en daarop gewys dat die uraan benodig word om as brandstof te dien om energie by kernkragsentrale in Suid-Korea op te wek.

Die eerste kernkragsentrale in Suid-Korea is in 1997 opgerig en sedertien het dit tot 16 kragsentrales gegroei wat sowat 40 persent van die land se elektrisiteitsverbruik voorsien. Die beplanning is dat ‘n verdere agt kernkragsentrales tot 2014 in die land opgerig gaan word.

Suid-Korea se aanvraag vir die voorsiening van elektrisiteit het sedert 1990 met nege persent jaarliks toegeneem. Die land voer tans sy uraan in van Kanada, Australië en ander onbekende bestemmings.

Hy het voorts aangedui dat Suid-Korea belangstel om vis in Namibiese gebiedswaters te kom vang.

Rössing Uraan oorweeg verskeie opsies om die leeftyd van die myn te verleng. Ten eerste word dieper delwery in die bestaande groef oorweeg, ten tweede sal die uitbreiding van die oop groef in ‘n noordwestelike rigting oorweeg word om volle kapsiteit van 4 500 ton te produseer en ten derde kan die groef aanvullend tot die tweede moontlikheid ook suidwaarts uitgebrei word.

Sou opsie 3 die besluit wees, kan die myn tot 2020 voortbestaan totdat ‘n geskatte N$284 miljoen aangewend gaan word om dit te sluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.